Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Lesufi: Hawelose mense nou versorg
Anton de Lange (49), Pieter Bezuidenhout (54) en Bets Bezuidenhout (64) leef al sewe jaar op straat. Nou woon hulle tydelik op die Lucas van den Berg-sportterrein in Pretoria gedurende die staat van inperking.Foto: Isabel Venter

Soos die musketiers van ouds staan dié driemanskap saam, want op die strate moet jy na mekaar kyk. Weens die Covid-19-uitbreking is dit egter moeiliker as ooit om op straat te oorleef.

Pieter Bezuidenhout (54) en sy lewensmaat, Bets Bezuidenhout (64), deel ’n tent wat aan hulle verskaf is met Anton de Lange (49), Pieter se stiefbroer.

Woensdagoggend bak die sonnetjie warm waar hulle voor hul tent op die Lucas van den Berg-sportveld in die weste van Pretoria sit.

Bets se T-hemp lui: “No Bad Vibes.”So te sê die leuse van hul tent, waar elke dingetjie op sy plek is. Om hulself besig te hou ruim hulle elke dag op.

“Dit hou ook sommer die grond- en grasluise weg,” sê Bezuidenhout.

Hy doen die meeste van die praatwerk.

Hulle is deel van duisende hawelose mense in Pretoria met wie daar inderhaas ’n plan gemaak moes word weens die inperking.

Pakkies met basiese benodigdhede vir persoonlike higiëne is Woensdag in Pretoria uitgedeel. Foto: Isabel Venter

Panyaza Lesufi, waarnemende LUR vir maatskaplike ontwikkeling in Gauteng, het met sy besoek Woensdag gesê die getal hawelose mense het die provinsie onkant gevang.

“Maar ek is bly om te kan sê ons is besig om beheer oor die situasie te kry en dié mense kry die hulp wat hulle nodig het,” sê Lesufi.

Die polisie het Vrydag begin om hawelose mense na tydelike skuilings te bring. Die driemanskap het hiervan te hore gekom en self ’n plan gemaak om by die Caledonian-stadion in Pretoria se middestad te kom, maar daar was dinge sleg met al die “drugs, rook en ouens daarso”.

Drie dae later is hulle na die rugbyklub geskuif en kon hulle die eerste keer behoorlik stort en eet.

“Ons het niks om oor te kla hier nie,” sê Bezuidenhout, terwyl die ander twee instemmend knik.

Hier bly sowat 370 straatmense van die Verenigde Nasies in vlugtelingtente wat op die gras opgeslaan is. Komberse, matrasse en kos is saam met die tente voorsien. Woensdag het Lesufi ook gehelp om ander noodsaaklikhede soos seep en tandepasta uit te deel.

Die drie van hulle is maar altyd saam. Bezuidenhout het Bets sewe jaar gelede onder sy vlerk geneem nadat sy erg mishandel is.

“Ek het haar leer ken op straat, sy het niks gehad nie . . . en so travel ons maar saam die afgelope sewe jaar,” sê hy.

“Bets is ongeskik verklaar.”

Pieter Bezuidenhout (54) en Bets Bezuidenhout (64) bly nou in een van die tydelike skuilings in Pretoria op die Lucas van den Berg-sportterrein. Hulle bly al sewe jaar op straat en “pas mekaar op”. Foto: Isabel Venter

Deur middel van los werkies en Sassa-geld oorleef hulle. De Lange is ’n ketelmaker en Bezuidenhout ’n elektrisiën.

Al is ek op krukke, ek is steeds bereid om te werk,” sê De Lange.

Hy het jare gelede sy rug beseer en sukkel om te loop.

Vir nou maak hulle egter staat op hul weermagopleiding om te survive. Hulle het onder meer hul eie voorraad medisyne, ontsmettingsmiddels en blikkieskos saamgebring om te sorg dat hul immuniteitstelsel sterk genoeg is om infeksies te beveg.

Voor die inperking het hulle ook genoeg sigarette opgegaar waarmee hulle kan handel dryf en sodoende ’n inkomste verdien al kan hulle nêrens heen gaan nie.

Lesufi en Mpho Nawa, hoofadministrateur van die Tshwane-metroraad, het Woensdag die sportterrein besoek waar nagenoeg 400 hawelose mense gehuisves word. Dié mense word al van Maandag af van die Caledonian-stadion hierheen gebring.

Lesufi het sy waardering uitgespreek teenoor die nieregerings- en liefdadigheidsorganisasies soos Dokters Sonder Grense, die Universiteit van Pretoria en die Laudium-rampbestuurdienste wat ingespring het om skenkings bymekaar te maak of hulp aangebied het.

Ander persele wat as tydelike skuilings ingerig is, sluit die NG kerk in Bosmanstraat en Heartfelt in Thaba Tshwane in, asook die studielokale van Unisa in Sunnyside.

Pakkies met seep en tandepasta word Woensdag in Pretoria aan hawelose mense uitgedeel. Foto: Isabel Venter
’n Hawelose man staan met sy oggendkoffie op die Lucas van den Berg-sportterrein in Pretoria. Dit is tydelik as skuiling vir hawelose mense in en om Pretoria ingerig. Foto: Isabel Venter
Panyaza Lesufi, waarnemende LUR vir maatskaplike ontwikkeling in Gauteng, het Woensdag die Lucas van den Berg-sportsterrein besoek.

Meer oor:  Koronavirus  |  Haweloses  |  Panyaza Lesufi  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.