Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Lets en sy een seun uit die tronk

Lets Pretorius van die Boeremag het nog gedink hy sal in die tronk doodgaan as ’n “wit politieke gevangene”, maar hy het stil-stil parool gekry.

Dr. Lets Pretorius en sy vrou, Minnie, in Oktober verlede jaar by die Irene-winkelsentrum in Centurion. Foto: Facebook

Pretorius (75), ’n mediese dokter, is teen Augustus verlede jaar uit die Zonderwater-tronk oos van Pretoria vrygelaat.

Sy seun Kobus het later verlede jaar parool gekry en is uit die Modderbee-gevangenis in Benoni vrygelaat. Dis hy wat die bom gemaak het waarmee die Boeremag oudpres. Nelson Mandela om die lewe wou bring.

Kobus se broers, Johan en Wilhelm, is steeds in Zonderwater.

Lets se vrou, Minnie, het in Maart op Facebook geskryf: “My man verjaar vandag by die huis! Groot genade en groot vreugde!!”

In April het sy geskryf: “Die Here het my man teruggebring en vandag skryf ek die belofte van die Here aan my neer soos gegee in Jesaja 49: 17,18

. . . . Jou seuns kom gou . . .

Slaan jou oë rondom op en kyk: hulle almal kom bymekaar,

Hulle kom na jou toe!

Ek wag met reikhalsende verlange op hulle koms!”

My man verjaar vandag by die huis! Groot genade en groot vreugde!!

Johan is ook ’n dokter en Wilhelm het ’n doktorsgraad in teologie.

Kobus, ’n ingenieur, het hom in die laaste jaar van sy verhoor aan sy familie en die Boeremag onttrek.

Hy het gesê sy nuwe ouers is sy geestelike berader, Sonia Jordaan, en haar man, Francois. Hy woon sedert sy vrylating by hulle.

Sonia het Vrydag aan Rapport gesê Kobus se paroolvoorwaardes laat hom nie toe om met die media te praat nie en hy is iemand “wat nie ’n tree links of regs sal trap, behalwe reguit nie”.

Hy was in die tronk sedert hy in 2002 in hegtenis geneem en in 2013 is hy tot 20 jaar tronkstraf gevonnis.

In ’n mislukte paroolaansoek in 2019 het hy aan die hof gesê hy het ten volle gerehabiliteer, het vriende gemaak met swart bewaarders en aangehoudenes en hulle leer hom Afrikatale.

Lets, wat op borgtog was tydens die verhoor van langer as ’n dekade, het ook 20 jaar tronkstraf gekry.

Hy het destyds aan regter Eben Jordaan gesê dis in werklikheid ’n doodsvonnis. “Ek is 67 jaar oud en sal 87 wees wanneer ek 20 jaar uitgedien het.”

Drs. Wilhelm, Lets en Johan Pretorius in Oktober 2013 in die hooggeregshof in Pretoria. Foto: Theana Breugem

Hy het toe gesê die kanse is goed dat hy of sy vrou ná 20 jaar nie meer sal leef nie.

Maar intussen kon Minnie op Facebook skryf: “Dit was vir my ongelooflik wonderlik om ná sewe jaar weer saam met Lets te gaan vakansie hou by Sanbonani, naby Hazyview.”

Wilhelm en Johan dien elk 25 jaar tronkstraf uit.

Wilhelm se hofaansoek dat sy vrou, Riëtte, huweliksbesoeke aan hom mag bring, is in Maart afgewys.

Hy het intussen ook sy swart tronkkat, Vlermuis, verloor.

Riëtte het in Oktober verlede jaar ’n huis vir die mannetjieskat gesoek.

Sy het op Facebook gesê Wilhelm moes die kat einde Junie uit die tronk stuur “weens kwaadwillige gevangenes en (’n) hooggeplaasde (sic) bewaarder”.

“Dit was vir Wilhelm uiters hartseer om afskeid te neem van die kat. Die kat was sy skaduwee en sy kameraad wat hy van babadae versorg het. Wilhelm het die kat 5 jaar gehad en was die kat se enigste vertroueling. Wilhelm moes die kat baie beskermend grootmaak weens omstandighede in die tronk.”

Sy het toe ’n ruk lank na die kat omgesien en daarna vir hom ’n huis gekry.

Singabakho Nxumalo, woordvoerder van die departement van korrektiewe dienste, het Vrydag gesê Lets en Kobus het parool gekry nadat hulle die minimum vereiste tyd in die tronk deurgebring het.

“Hulle het aan al die vereistes vir plasing op parool voldoen.”

Die 20 Boeremag-beskuldigdes is aan hoogverraad skuldig bevind omdat hulle ’n staatsgreep teen die ANC-regering beplan het, asook verskeie ander aanklagte.

Almal behalwe Fritz Naudé, wat te siek was, is in 2013 gevonnis tot tronkstraf van tussen vyf en 25 jaar.

Naudé is op Nuwejaarsdag 2014, drie dae ná sy 66ste verjaardag, in ’n aftreeoord in Bethlehem dood.

Meer oor:  Boeremag  |  Parool
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.