Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Liam se ma ken lyk uit aan Spiderman-sandale

“Ek het sy skoentjies herken op ’n foto wat vir my gestuur is. Dit is die Spiderman-sandaaltjies wat ek nog vir hom gekoop het,” sê Cheinelle Nortjé (43) oor die moontlikheid dat die oorskot van ’n kind wat in Harrismith gekry is, dié van haar seuntjie is.

Hoewel DNS-toetse nog gedoen moet word om alle twyfel uit die weg te ruim, is daar sterk vermoedens dat dit die oorskot is van Liam Nortjé (2) wat in November 2017 verdwyn het terwyl hy in sy pa, Nantes (48), se sorg was.

Die lyk is gekry op dieselfde dag dat Nantes in die hooggeregshof in Bloemfontein deur regter Corné van Zyl lewenslank tronk toe gestuur is vir die moord op sy seuntjie.

Dit gebeur nie baie dat iemand skuldig bevind word aan moord sonder dat die lyk van die vermoorde gekry is nie.

As dit wel Liam se oorskot is wat gevind is, kan dit daartoe lei dat die ondersoek verder gevoer word om vas te stel of nog mense nie dalk ’n rol in die dood van die seuntjie gespeel het nie.

Liam Nortjé
Liam Nortjé

Cheinelle, wat in Harrismith woon en werk, het Saterdag aan Netwerk24 gesê: “Ek het dit dadelik herken. Dit is ongetwyfeld hy daai. Dis sy skoentjies wat ek aan die polisie beskryf het.”

Sy sê sy weet nie wie die oorskot by die treinspoor by die New Horizon-skool op die dorp gekry het nie.

“Ek het net gisteraand die oproep gekry. Ek was nog nie self daar nie. Dit is wat ek van die polisie hoor. Ek gaan ná werk kyk waar dit is.

“My meisiekinders is in ’n toestand. Ek is in ’n toestand.

"Al wat ek wil hê is dat ons eers hierdie hele storie op ons eie manier verwerk.”

Sy sê dit is nog nie honderd persent bevestig dat dit wel Liam se oorskot is nie.

Liam Nortjé en sy ma, Cheinelle.
Liam Nortjé en sy ma, Cheinelle.

Sy sê sover sy gehoor het, is die kind se oorskot na Bloemfontein gestuur waar ’n lykskouing gedoen sal word.

“Ek en my meisiekinders moet nou eers die ding verwerk. Ek moet my kinders sterk hou ná wat gister gebeur het. Ons gaan deur ’n tyd van trauma.”

Sy en Liam se pa is intussen geskei.

Volgens die polisie het 'n man wat met sy hond gestap het, Vrydag langs die spoorlyn op die lyk afgekom. Die hond het agtergebly en die hele tyd daar geruik en in die grond gekrap.

Die man het gaan kyk wat die hond pla en toe afgekom op ’n vlak graf waarin die oorskot van 'n kind, toegedraai in ’n kombers, was, sê die polisie.

Die polisie sê in dié stadium kan nog nie gesê word wie se oorskot daar gekry is nie, en of dit dié van ’n seun of meisie is nie.

’n Forensiese ondersoek sal nou gedoen word om die lykie se identiteit te bepaal, asook hoe lank die kind dood is en wat die oorsaak van dood is, sê die polisie.

Nantes Nortjé in die beskuldigdebank. Foto: Alet van der Walt

* Nog ’n bron sê dit lyk of die oorskot, wat in ’n duvet toegedraai was, nie lank op die plek was waar dit gevind is nie. Dit het moontlik onlangs eers daar beland.

* Indien dit wel Liam se oorskot is, slaan dit sy pa se hardnekkige storie dat hy in Liam se belang die kind vir ander mense gegee het om groot te maak, die nek in.

Hy wou nooit enige besonderhede oor wie of waar dié kinderlose egpaar is bekend maak nie. Hy het ook beweer dat hulle dalk in die buiteland is.

Meer oor:  Liam Nortjé  |  Nantes Nortjé
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.