Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Lian spog dalk gou met nuwe oor ná ongeluk

Lian Taljaard kan moontlik volgende jaar met ’n splinternuwe oorskulp spog wat uit kraakbeen van sy ribbes gevorm sal word.

Dié 18-jarige Pretorianer se linkeroorskulp is in ’n ongeluk op 23 September vanjaar op die R101 tussen Bela-Bela en Pretoria afgeskeur. Lian het Woensdag telefonies uit Stilbaai waar hy saam met sy familie vakansie hou, vertel hy het nou al baie goed herstel van onder meer die ernstige kop- en gesigbeserings wat hy opgedoen het.

Lian Taljaard
Lian Taljaard en sy suster, Lara.

Lian, wat bestuur het, is uit die voertuig geslinger nadat dit die pad verlaat het. Shaun Goedhals, sy vriend wat ook in die motor was, is lig beseer.

Lian, ’n matriekleerling van die Afrikaanse Hoër Seunskool in Pretoria, kon weens die omvang van sy beserings nie die eindeksamen skryf nie. Hy beplan om dit in Junie volgende jaar af te lê.

Lian was vir twee weke ná die ongeluk in ’n koma. Hy het vier operasies ondergaan om sy vergruisde gesigbene, krake in sy skedel en ’n groot wond in sy linkerkuit te herstel.

Lian het bo verwagting vinnig herstel en is ’n maand ná die ongeluk uit die Life Groenkloof-hospitaal in Pretoria ontslaan. “Daardie dokters het my lewe gered, ek weet nie hoe om vir hulle dankie te sê nie. Hulle het alles so goed gedoen, my gesig lyk nes tevore. Dit pla my glad nie dat ek my oor verloor het nie. Ek was vóór die ongeluk gemaklik om enigiets te doen en is dit steeds.”

Lian sê sy korttermyngeheue wat aangetas was weens sy breinbeserings, is baie beter. “Ek kan niks van tot so twee weke voor die ongeluk onthou nie. Daardie meisies (die arbeids- en spraakterapeut in Groenkloof) was fantasties. Hulle het my reggekry van ’n plek waar ek nie kon onthou wat vyf sekondes tevore gebeur het nie. Ek het ook baie stadig gepraat en nie mooi geweet wat en waar ek is nie.”

Hulle het my reggekry van ’n plek waar ek nie kon onthou wat vyf sekondes tevore gebeur het nie.

Lian sal nog plastiese chirurgie aan onder meer sy voorkop en kuit kry. Leon, Lian se pa, sê hulle beplan om in Januarie volgende jaar ’n dokter in Londen te gaan sien wat spesialiseer in die heropbou van ore.

“Sulke operasies word gereeld daar gedoen. Kraakbeen word van die ribbe geneem om ’n oor te vorm wat soos die pasiënt se (ander) oor lyk. Dan word die pasiënt se eie vel gebruik om dit toe te groei voordat die oor op sy plek vasgewerk word.”

Lian het voor die ongeluk rugby en krieket gespeel en aan atletiek deelgeneem.

“Ek kan weens my breinbeserings vir eers nie aan sport deelneem nie omdat drukking of ’n geskud nog te gevaarlik is. Dis frustrerend om net stil te sit. Ek gaan daarom in Januarie na ons plaas (naby Bela-Bela) om pekanneute te plant en na die diere te kyk.”

Intussen kry Lian nog rehabiliterende behandeling soos fisio- en arbeidsterapie, asook sielkundige berading om die trauma van die ongeluk te help verwerk. Sy toekomsdroom is om sy eie onderneming te hê, maar hy sal ook daarvan hou om te boer.

Vir eers geniet hy net die vakansie saam met sy vriende, pa, ma, Cornél, en sussie, Lara (15). Leon sê die gesin is verstom deur die “volkome sorg” wat Lian in Groenkloof gekry het. “Die waakeenheid is ontsettend gespesialiseerd. Dis danksy dié goeie hospitaalsorg dat Lian so goed herstel.”

Meer oor:  Bela-Bela  |  Pretoria  |  Ongeluk  |  Oor
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.