Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Liebenberg ‘sal deur sy foto’s voortleef’
John Liebenberg Foto: Facebook

Die familie van die bekende fotograaf John Liebenberg vind ná sy skielike afsterwe troos in die feit dat hy deur sy werk sal bly voortleef, sê sy dogter, Jessica.

Liebenberg (61) is Sondagoggend in die Olivedale-kliniek in Johannesburg aan ’n embolisme dood. Hy is Dinsdag daar opgeneem nadat hy in sy tuin geval en ’n femur gebreek het.

Hy sal veral onthou word vir die beelde wat hy sedert 1985 van die grensoorlog in Namibië en die Namibiese vryheidsoorlog op sy kamera vasgevang het.

“Sy dood voel nog onwerklik en ek weet dit gaan in die komende weke net erger raak,” het Jessica Sondag aan Netwerk24 gesê.

Sy het Liebenberg die afgelope maand gehelp om sy negatiewe na te gaan en haar pa kon glo elke mens op die negatiewe onthou.

“Ons weet nog nie wat ons met die negatiewe gaan doen nie – as sy familie is dit ons erfporsie. My pa het nie rykdom nagejaag nie. Ek dink sy foto’s is ongelooflik uniek en hy sal daardeur bly voortleef.”

Liebenberg het ná skool teen sy sin diensplig op die grens tussen Namibië en Angola gedoen en later as fotograaf vir die koerant The Namibian gewerk.

Volgens Jessica het haar pa ’n bewustheid oor die bevrydingsbeweging ontwikkel en het begin om byeenkomste en vergaderings van sleutel- sosiale en politieke groepe by te woon.

“Op dié manier het hy begin om die stryd van Namibiërs vir hul vryheid te dokumenteer. Hy het ’n lig geskyn op ’n oorlog wat die apartheidsregering in die donkerte wou hou. Hy het diep vriendskappe ontwikkel met die mense wie se lewe en stories hy verteenwoordig het,” sê Jessica.

John Liebenberg in sy jonger dae. Foto: Facebook

Gwen Lister, voormalige redakteur van The Namibian, het Sondag op Twitter hulde aan Liebenberg gebring.

“Ons het nie altyd om dieselfde kampvuur gesit nie, maar as een van die stigterspersoneellede en fotograaf by The Namibian in die 1980’s was hy verantwoordelik vir van die mees ikoniese beelde van ons land se stryd teen apartheid,” skryf Lister.

Sy eksvrou, Inge Kühne, sê hoewel Liebenberg se gesondheid die afgelope ruk nie na wens was nie, was hy nog volstoom aan die werk.

John Liebenberg as jong fotograaf. Foto: Twitter

“Sy lewe het gedraai om fotografie en sy kinders. Ek gun John sy rus. Dis hoe die lewe is, maar dit bly swaar en almal gaan hom baie mis.

“Hy was ’n storieverteller. Hy het ’n manier gehad en geglo dat die oorlog vasgevang en gewys moet word. Mense moes kon sien wat aangaan,” sê Kühne.

Liebenberg se werk is in verskeie boeke oor die grensoorlog en die Namibiese vryheidsoorlog vervat. Baie van sy foto’s is van groot historiese belang en is deur die jare deur akademici en historici gebruik vir navorsing oor die bosoorlog.

Hy het ná Namibië se onafhanklikwording in 1990 na Suid-Afrika teruggekeer en by Huisgenoot, You en Drum gewerk.

In sy laaste jare het hy vryskutwerk vir die Sunday Times gedoen.

Meer oor:  Fotograaf  |  Afsterwe
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.