Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Liefde omvou Lise Brink in kerk

Verskoning:

Netwerk24 het Sondag tydens die gedenkdiens ‘n foto van Lise Brink geneem na ‘n misverstand van ons kant af oor die protokol tydens die diens. Ons vra verskoning dat ons die Brink-gesin op die manier blootgestel het. Die foto is intussen verwyder.


Aan die een kant van die hospitaalbed in die kerk het Lise Brink se oudste kind haar ma se regterhand vasgehou. Aan die ander kant het haar man haar linkerhand vasgehou en haar trane afgevee.

Toe paramedici Lise Sondag by die Hatfield Christian Church in Pretoria inbring, het die sowat 600 rouklaers soos een mens opgestaan.

Sy is van die hospitaal af gebring vir die gedenkdiens vir haar twee kinders wat in ’n motorongeluk dood is, Rachel (8) en André (13). Lise het haar linkerbeen weens die ongeluk verloor.

Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, het gesê die tragedie wat die Brink-gesin getref het, het duisende Suid-Afrikaners bymekaar gebring.
“Dis asof Christus se liefde die Brink-gesin omvou het in die trane van duisende Suid-Afrikaners.”

Hermann sê verlede week het die dokters vir Lise gesê sy sal die gedenkdiens nie kan bywoon nie. “Hier is sy saam met ons om saam met ons in die trane te deel.”

Corrie Pretorius, ’n Sondag­skoolonderwyser, het in die diens bespiegel oor wat André se laaste woorde sou wees as hy die kans gehad het om afskeid te neem: “Tot siens, Oom, die lewe was lekker en vol avontuur, maar ek is nou opgeroep tot hoër diens in die huis van Onse Vader.” 

Foto’s van Rachel en André in die voorportaal van die Hatfield Christian Church.Foto: Lisa Hnatowicz

Elvira Burger, Rachel se Sondagskooljuffrou, sê die meisie was “ ’n wonderwerk”. Hidro­kefalie (waterhoof) is op 24 weke by haar gediagnoseer. Haar twee breinlobbe was nie verbind nie.

“Rachel was ’n tasbare bewys dat God wonderwerke doen.”

Dr. Danie Brink, hoof van Solidariteit Helpende Hand, en sy gesin was op 16 Desember verlede jaar op pad na Kaap St. Francis toe die linkeragterband van hul Toyota Prado losgekom en die motor buite Theunissen in die Vrystaat gerol het.

Hermann het in die kerk ’n boodskap van die Brink-gesin voorgelees. Daarin sê hulle hul gebed vir die gedenkdiens was dat rouklaers “ná vandag beter sal verstaan wie God is, wie Jesus is en wat hy aan die kruis vir sondaars gedoen het”.

“Ons hoop julle kry vandag ’n goddelike perspektief op André en Rachel se dood.”

Die Hatfield Christian Church Sondag gedurende die gedenkdiens.Foto: Lisa Hnatowicz

Gedurende die diens het Danie sy vrou se hand vasgehou en kort-kort vir haar gefluister terwyl Mieke (15) haar ma se regterhand vasgehou het.

“Die Here het gegee en die Here het geneem. Prys die naam van die Here,” was die aanhaling uit Job 1:21 op die voorkant van die program vir die diens.

Dr. Jacobus de Koning van die Antipas Gereformeerde Baptistekerk het in sy preek na Totius se gedig “Die Godsbesluit” verwys. Totius het dit ná die dood van een van sy kinders geskryf. In die gedig sê Totius die verhouding tussen God en die dinge wat gebeur, herinner hom aan die wag-’n-bietjie-bos.

Van ver so skoon, so groen, so blink? ...

maar hoe verward 

wanneer ek dieper kyk en dink 

as wat ’n sondaar pas. 

En steek ek dan my hande uit 

na u besluit, 

dan gryp ek in die dorings vas. 

Carel Boshoff IV, president van die Orania Beweging, en sy vrou, Anje, teken die besoekersboek in die voorportaal van die kerk. Foto: Lisa Hnatowicz
Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, het ook die diens bygewoon. Foto: Lisa Hnatowicz
Jong begrafnisgangers teken die aandenkingsboek. Foto: Lisa Hnatowicz

De Koning het gesê God, wat toegelaat het dat Jesus gekruisig word, lyk op die oog af asof Hy nie teenwoordig was by die lyding van sy seun nie.

“As daar uit die perspektief van die opstanding daarna gekyk word, word God se beslissende hand daarin gesien.”


Meer oor:  Danie Brink  |  Lise Brink  |  Pretoria  |  Begrafnisdiens
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.