Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Lig verbod in Wes-Kaap, vra restaurante

Die Wes-Kaap moet op sy eie kan staan en toegelaat word om sy eie regulasies te kan volg om alkohol gedurende maaltye in restaurante te mag verkoop.

Dit is een van die alternatiewe voorstelle wat ’n groep van tien restaurante maak in die saak teen die regering in die hooggeregshof in Kaapstad oor die verbod op die verkoop van alkohol en die inperkingsregulasies wat ’n negatiewe impak op dié bedryf het.

In die afgelope paar weke was daar talle betogings waar lede van die restaurantbedryf dit duidelik gemaak het dat duisende poste op die spel is en nog verliese gely gaan word as die regering nie die verkope van alkohol toelaat nie.

Dit moes die regering skrikgemaak het, want hy het onmiddellik uitstel gevra om dit met Dlamini-Zuma te bespreek.

Verskeie restaurante het tydelik en permanent toegemaak oor hierdie verbod en moes werknemers aflê.

Liam Tomlin, bestuurshoof en aandeelhouer van die Chefs Warehouse-restaurante, daag in sy beëdigde verklaring, wat die grondslag van die groep se aansoek is, die regering uit oor sy “irrasionele en bestraffende” regulasies wat verbied dat alkohol saam met etes bedien word.

Tomlin, wat vyf van die applikante verteenwoordig (drie Chefs Warehouse-restaurante in onderskeidelik Kaapstad, Constantia en Franschhoek, Thali in Kaapstad, en Jewells in die Spice Route in die Paarl), het kragte saamgespan met Theo Nel, eienaar van die Karoo Art Hotel in Barrydale, Steven Albert van Nelson’s Eye in Kaapstad en Reuben Riffel, met drie restaurante in die Paarl en twee in Franschhoek, om dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, nasionale minister van samewerkende regering en tradisionele sake, Mmamoloko Kubayi-Ngubane, minister van toerisme, en Ebrahim Patel, minister van handel en nywerheid, voor die hof te daag.

Die saak sou Dinsdag aangehoor word, maar die regering het daarin geslaag om die saak met twee weke uit te stel.

Luidens ’n verklaring van die groep is hulle “teleurgesteld en kwaad” oor die uitstel en voer aan die regering probeer die saak vertraag.

Dit sal nou eers op 25 en 26 Augustus aangehoor word.

“Die hoofrede hoekom die saak uitgestel is, is omdat die regering met al sy mag veg,” lui die verklaring.

Die applikante het ’n alternatiewe bevel van die hof probeer bekom waarin die verbod net in die Wes-Kaap gelig word indien die hof nie die hoofaansoek – dat die verbod nasionaal ongrondwetlik is – kan aanhoor nie.

“Dit moes die regering skrikgemaak het, want hy het onmiddellik uitstel gevra om dit met Dlamini-Zuma te bespreek. Ondanks die feit dat Dlamini-Zuma in haar hofstukke gesê het die verbod sal nie gelig word nie,” lui die verklaring.

Sy het gesê dit gaan teen die regering se beleid in om die verbod in enige provinsie te lig sonder om dit in die res van die land ook te lig. Iets wat heeltemal “verregaande en ongrondwetlik” is, sê die applikante.

Hy weier steeds om dit te doen, selfs al is daar sterk bewyse dat die verbod nie in die provinsie noodsaaklik is nie.

Luidens die applikante het hulle ’n sterk saak gemaak oor die Wes-Kaap wat reeds in Junie sy piek bereik het en met die daaglike koronavirusinfeksiekoers wat daal, wat ’n aanduiding is dat die provinsie op die herstelpad is.

Selfs in die tyd wat die gesondheidstelsel onder druk was, was dit nooit op volle kapasiteit nie en daarom, voer die applikante aan, is daar die nodige kapasiteit om enige moontlike toename te hanteer.

Selfs die premier van die Wes-Kaap, Alan Winde, het dit bevestig, sê die applikante. Dit is ook deur die mediese kenner dr. Saadiq Kariem, direkteur-generaal van die Wes-Kaapse mediese dienste, bevestig.

Die applikante sê dit is die regering se plig om die verbod te lig wanneer die pandemie nie meer ’n bedreiging is nie.

“Hy weier steeds om dit te doen, selfs al is daar sterk bewyse dat die verbod nie in die provinsie noodsaaklik is nie,” lui die verklaring.

Hulle sê die regering kies politiek bo die belange van sy land se mense en hul grondwetlike regte, en die hoofrede blyk te wees dat die DA-beheerde Wes-Kaap die ANC in die skande gesteek het oor sy swak voorbereiding vir die pandemie in provinsies soos die Oos-Kaap.

Voorts duur die land se amptelike rampstatus tot 15 Augustus en as die regering nie voortgaan met uitbetalings uit die Covid-19-verligtingsfonds (Ters) nie, sal dit ’n baie nadelige impak op die bedryf hê.

Meer oor:  Wes-Kaap  |  Restaurante  |  Drankverbod  |  Inperkingsregulasies  |  Alkohol  |  Koronavirus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.