Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Ligte af – ons is toilet toe!

Klippe eerder as steenkool is aan een van Eskom se kragsentrales verskaf en een van die redes vir Februarie se fase 4-beurtkrag was dat almal wat werk by ’n kragsentrale se beheerkamer gelyk badkamer toe is, sê een van die land se voorste vakbondleiers.

Daarom sal Cosatu aanhou vasskop teen die regering se planne om Eskom in drie te verdeel, want ’n nuwe struktuur gaan nie dié soort absurde bestuursprobleme oplos nie.

Bheki Ntshalintshali, hoofsekretaris van Cosatu, het in ’n onderhoud aan Rapport vertel wat Dinsdag gebeur het tydens ’n vergadering tussen Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, Cosatu en die National Union of Mineworkers (NUM).

Die vergadering oor die regering se planne om Eskom te herstruktureer het plaasgevind by Nedlac, die Nasionale Ekonomiese, Ontwikkelings- en Arbeidsraad.

Maar geen vordering is gemaak om die vakbond-verteenwoordigers te oortuig dat die herstrukturering nodig is nie.

Herstrukturering gaan mededinging aanwakker, maar dis net ’n grondslag, want dit sal nie Eskom se onmiddellike bedryfsprobleme oplos nie.
Pres. Cyril Ramaphosa

“Hulle was nie in staat om aan ons te sê waarom dit nodig is om Eskom in drie maatskappye te ontknoop nie. Die probleme wat hulle aan ons voorgelê het, gaan oor korporatiewe bestuur. Dis dinge wat met skoon bestuur opgelos word,” sê Ntshalintshali, wat Cosatu se afvaardiging gelei het.

In Dinsdag se voorlegging deur Gordhan is ’n lys van probleme by die land se elektrisiteitsverskaffer volgens Ntshalintshali uiteengesit.

“Bo-aan daardie lys is die prys van steenkool wat die hoogte ingeskiet het, maar dis duidelik dat daar korrupsie daarby betrokke is. Daar is ook baie gekla oor die gehalte van die steenkool en volgens die voorlegging het een van die myne selfs klippe aan Eskom verkoop as steenkool. Dit rig groot skade aan die hoogoonde aan waarin die steenkoolstof verbrand word,” het Ntshalintshali gesê.

“Daar is duidelik ook ’n tekort aan toesighouding by die kragsentrales. Tydens die diepste beurtkragfase drie weke gelede, toe fase 4-beurtkrag ingestel is en ses opwekkingseenhede gelyk gaan staan het, was daar niemand in die beheerkamer van die betrokke kragsentrale nie, want almal is min of meer dieselfde tyd uit badkamer toe. Hulle vermoed ook dat sabotasie ’n rol gespeel het, maar het geen bewyse daarvoor nie.

“Ons is soontoe met ’n oop gemoed om te luister wat die redes is waarom die regering Eskom wil ontknoop, maar geen van hierdie probleme gaan deur ontknoping opgelos word nie,” het Ntshalintshali gesê.

Pres. Cyril Ramaphosa het Donderdag in vraetyd in die parlement gesê die belangrikste voordeel daarvan om Eskom in drie maatskappye te verdeel, sal wees dat dit die finansiële bestuur sal verbeter.

“Dit sal die drie maatskappye ook in staat stel om hul eie finansiering te vind en dit vir die besture moontlik maak om beter te fokus op die onderskeie gedeeltes van Eskom. Op lang termyn gaan ons elektrisiteitsbedryf makliker nuwer tegnologie aanvaar en gebruik. Dit gaan help om kragopwekking te versprei onder ’n groot verskeidenheid kragprodusente sodat die land minder afhanklik van ’n enkele kragverskaffer is. Dit gaan ook mededinging aanwakker, wat weer druk laat opbou om pryse laer te dwing.”

Ramaphosa het toegegee dat die herstrukturering niks gaan doen om die onmiddellike bedryfsprobleme van Eskom op te los nie.

“Dis daarop gemik om die grondslag te lê vir volhoubare, betroubare en doeltreffende kragopwekking in die toekoms,” het hy gesê.

Dit is volgens hom nodig om onmiddellik onbeplande onderbrekings by ouer kragopwekkingseenhede te verminder, die ontwerpprobleme by Medupi en Kusile reg te stel, steenkoolvoorrade by kragsentrales te verbeter en die tekort aan vaardighede te verlig.

Drie vakbonde verteenwoordig werkers by Eskom – die NUM, wat by Cosatu geaffilieer is, die National Union of Metalworkers (Numsa), wat by Saftu geaffilieer is, en Solidariteit.

Numsa en Solidariteit het nie toegang tot Nedlac nie omdat hulle nie by enige van die drie vakbondfederasies geaffilieer is wat sitting in Nedlac het nie.

Gordhan en Ramaphosa het die versekering gegee dat hulle met al drie die vakbonde gaan beraadslaag oor die herstrukturering, maar Solidariteit en Numsa het nog geen uitnodiging na soortgelyke beraadslagings gekry nie.

Numsa het ná Ramaphosa se aankondigings in die staatsrede gesê hy sal sy bes doen om die ontknoping van Eskom te keer, omdat dit daarop gemik is om die weg te baan vir die privatisering van Eskom.

Meer oor:  Bheki Ntshalintshali  |  Cosatu  |  Eskom
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.