Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Lincoln ‘het geweet van dié gesprekke’
Sers. Ashley Tabisher

Die Wes-Kaapse hoof van die teenbende-eenheid, genl.maj. André Lincoln, het geweet van sy gesprekke met Amaal Jantjies en het vir hom ’n amptelike polisieselfoon en nommer gegee om die gesprekke mee te voer.

So voer sers. Ashley Tabisher aan in ’n beëdigde verklaring wat hy Woensdag tydens sy verskyning in die streekhof in Blue Downs ingedien het.

Tabisher sê in die verklaring nie net het Lincoln die selfoon verskaf nie, maar hy het hom onder die indruk gebring dat hulle toestemming van die nasionale vervolgingsgesag in die Wes-Kaap het vir ’n geheime operasie waardeur hulle inligting uit Jantjies kon kry, wat glo vir Nafiz Modack gewerk het.

In sy verklaring skryf Tabisher dat amptelike selfone gewoonlik net aan speurders op bystand en bevelvoerders gegee word en nie aan uniformlede nie.

“Genl. Lincoln het gesê die doel van die selfoon is om (Janick) Adonis en sy meisie, Amaal Jantjies, te kontak. Dit kan bevestig word deur die selfoonrekords van die foon wat aan die teenkorrupsie-eenheid gegee is.”

Sers. Ashley Tabisher se regsverteenwoordiger, Bruce Hendricks, het dié skermgreep van ’n WhatsApp-gesprek tussen Tabisher en genl.maj. Andre Lincoln Woensdag saam met sy beëdigde verklaring by die hof ingedien.
Nog ’n skermgreep van ’n WhatsApp-gesprek tussen genl.maj. Andre Lincoln en sers. Ashley Tabisher. In die gesprek lig Tabisher vir Lincoln in dat die amptelike selfoon wat aan hom gegee is, by Mfuleni geval het en dat die skerm gekraak is.
In die skermgreep stuur sers. Ashley Tabisher sy amptelike selfoonnommer na genl.maj. Andre Lincoln.
In die gesprek vra sers. Ashley Tabisher of daar al enige terugvoering van die nasionale vervolgingsgesag (NVG) is. Die Riley na wie hy verwys is adv. Shareen Riley van die NVG in die Wes-Kaap.

Volgens Tabisher sal dit bewys dat hy te alle tye met die toestemming en die kennis van Lincoln opgetree het en dat hy ’n “agent” was in die operasie saam met Adonis.

Hy verwys ook in sy verklaring na WhatsApp-gesprekke tussen hom en Lincoln op 23 Oktober 2019, asook op 30 Oktober 2019 waarin hy vir Lincoln vra of hulle die nodige toestemming gekry het.

Tabisher sê dat hy saam met die beëdigde verklaring foto’s van die WhatsApp-gesprekke tussen hom en Lincoln indien en dat hy te alle tye met die kennis en toestemming van Lincoln en sy bevelvoerder, kapt. Franklin Stone, opgetree het.

Tabisher het saam met Nafiz Modack, Zane Kilian, Jacques Cronje en Ricardo Morgan in die streekhof verskyn. Hy word daarvan beskuldig dat hy ’n korrupte verhouding met Modack gehad het. Hy is hiervoor glo R10 000 betaal en ’n selfoon van R3 500 gegee. Jantjies het glo die betalings gefasiliteer.

Jantjies staan saam met haar kêrel, Janick Adonis, en Faeez Smith tereg op aanklagte ingevolge die Wet op die Voorkoming van Georganiseerde Misdaad, wat met bendeverwante misdrywe verband hou. Die ander aanklagte teen hulle is sameswering om moord te pleeg, sameswering om plofstof te besit, te beheer of te verkry, sameswering om met vuurwapens of ammunisie handel te dryf en die besit van ’n ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie.

Jantjies, Adonis en Smith word ook daarvan beskuldig dat hulle in November 2019 ’n handgranaataanval op lt.kol. Charl Kinnear se huis wou doen.

Smith het na bewering ’n handgranaat by hom gehad toe hy in die vroeë oggendure van 23 November 2019 voor Kinnear se huis in hegtenis geneem is deur lede van die teenbende-eenheid wat Kinnear se huis opgepas het. Jantjies en Adonis is kort daarna in hegtenis geneem.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.