Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Lindani Myeni op diens as ‘sagte reus’ beskryf
Lindani Myeni en sy vrou, Lindsay. Foto: Verskaf

Die voormalige Suid-Afrikaanse rugbyspeler Lindani Myeni, wat verlede maand in Hawaii doodgeskiet is, is Donderdag op sy gedenkdiens in Empangeni in KwaZulu-Natal beskryf as “ ’n sagte reus” wat niemand leed sou aandoen nie.

Die 29-jarige Myeni is doodgeskiet toe die polisie in Honolulu na die toneel van ’n inbraak ontbied is.

Sy vrou, Lindsay, hul twee kinders en Myeni se ouers het Donderdag die gedenkdiens in die Empangeni-rugbyklub bygewoon.

Sy oorskot is verlede week na Suid-Afrika gebring. Sy begrafnis sal na verwagting Saterdag plaasvind.

“Diegene wat Lindani se lewe geneem het, wil hê dat ons moet glo dat hy ’n misdadiger en ’n gewelddadige man was. Maar vir diegene wat hom geken het, was hy ’n sagte reus en bedagsaam,” het Sihle Zikalala, premier van KwaZulu-Natal, Donderdag op die gedenkdiens gesê.

Zikalala het in ’n huldeblyk gesê Myeni het sy stem gebruik as oorlogskreet om vertroue by sy spanmaats op die rugbyveld in te boesem.

“Hy het dit ook gebruik om vrees by hul opponente aan te wakker. Sy stem, wat ewig stilgemaak is, weerklink steeds oor die hele wêreld, want die moord op hom het mense van verskillende kleure, gelowe en kulture verenig,” het Zikalala gesê.

Hy het gevra dat geregtigheid geskied “sodat Lindani se dood nie vergeefs was nie”.

The Star Advertiser  berig dat die polisie in Honolulu ’n klankopname van ’n 911-noodoproep deur ’n vrou oor ’n moontlike inbraak op 14 April uitgereik het.

Die vrou sê in die opname dat iemand by haar huis ingeloop het.

“Weet jy wie hy is, ken jy die man?’ vra die operateur wat die 911-oproep hanteer.

“Ek ken hom nie. Hy is in die huis. Ek weet nie of hy die eienaar ken of nie,” sê die vrou.

Die vrou se stem word dan toenemend gespanne en sy sê dat Myeni in ’n swart T-hemp en denim geklee is en in die huis ronddwaal. Op die vraag of hy gewapen is, antwoord sy “nee”.

“Ek weet nie hoekom hy nie . . . hy het probeer om na buite te gaan . . . Ek weet nie,” sê die vrou in die opname.

Die polisie het sowat vyf minute later by die toneel opgedaag, waarna die vrou uitgehardloop het.

“Dit is hy in die donker!” skree sy dan. “Dit is hy! Dis hy! Dit is hy!”

Dan kan gehoor word hoe die polisie Myeni beveel om op die grond te lê, waarna ’n geveg uitbreek.

Myeni het later in ’n hospitaal aan veelvuldige skietwonde beswyk. Drie polisiebeamptes is ernstig in die voorval beseer.

Lindsay het intussen ’n geding teen die polisie en die stad aanhangig gemaak. Sy beskuldig die polisie daarvan dat hulle Myeni aangeval het sonder om hulself as polisiebeamptes te identifiseer.

Jim Bickerton, Lindsay se regsverteenwoordiger, het gesê dat die klankopname bevestig dat Myeni se teenwoordigheid in die huis ’n eenvoudige misverstand was, wat oordryf is omdat hy swart was.


Meer oor:  Lindani Myeni  |  Hawaii
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.