Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Lise Brink het geknik sy weet sy verjaar

Lise Brink het Saterdag met ’n kopknik laat weet dat sy weet dit is haar 43ste verjaardag.

“Danie het vir haar vanoggend (Saterdag) gevra of sy weet sy verjaar. Sy het haar kop geknik,” het dr. Dirk Hermann, Solidariteit se bestuurshoof en voorsitter van die direksie van Solidariteit Helpende Hand, Saterdag gesê.

Lise het haar verjaardag in die Unitas-hospitaal in Centurion deurgebring nadat sy en haar gesin in Desember in ’n ongeluk betrokke was op pad na hul vakansiebestemming.

Volgens Hermann is Lise besig om al hoe meer tekens te wys dat sy besig is om uit haar koma wakker te word.

“Danie het vir haar gebid. Toe hy begin bid het sy haar oë toegemaak en toe hy Amen sê, het sy haar oë weer oopgemaak. Hy speel ook gereeld vir haar van haar gunsteling musiek, waarop sy positief reageer.”

Lise se man, Danie, is die uitvoerende direkteur van Solidariteit Helpende Hand.

“Dieselfde liefdevolle God wat vir Lise 42 gelukkige verjaarsdae gegun het, het ook hierdie 43ste een beskik,” het hy Saterdagoggend gesê.

Die Brink-gesin was in ’n ongeluk op pad na hul vakansiebestemming toe ’n band van die Toyota Land Cruiser waarin hulle gereis het, vermoedelik tussen Theunissen en Brandfort gebars het. Die voertuig het gerol.

Lise weet nog nie dat André (13) en Rachel (8), twee van haar vyf kinders, in die ongeluk dood is nie.

Hermann sê die datum vir ’n gedenkdiens vir André en Rachel sal vroeg volgende week gefinaliseer word.

“Dit is egter nie die begrafnis nie, dit is net ’n gedenkdiens. Die begrafnis is uitgestel tot Lise sterk genoeg is om dit by te woon.”

Volgens Hermann verbeter Lise se toestand stadig.

“Sy is nog baie siek, maar sy is besig om stappe vorentoe te neem. Dit lyk asof die longontsteking onder beheer is. Die dokters sal dalk die week besluit oor die rug- en kaakoperasies wat uitgestel is weens die longontsteking. Maar sy neem definitief stappe vorentoe.”

Hermann sê hulle is oorweldig deur die honderde boodskappe wat op sosiale media gedeel is om Lise geluk te wens met haar verjaarsdag.

“Dit is goed om te weet mense deel nie net in die gesin se trane nie, maar ook in hul vreugde. Danie is baie dankbaar vir al die ondersteuning wat die gemeenskap bied.”

Volgens Hermann gaan dit onder omstandighede goed met die ander drie kinders, Daniël (2), Johann (9) en Mieke (15).

“Die familie probeer om ’n omgewing vir hulle te skep waar hulle so normaal as moontlik kan lewe. Dit gaan ook goed met klein Johann wat ook in die ongeluk seergekry het.”

Meer oor:  Lise Brink  |  Dirk Hermann  |  Centurion  |  Verjaardag
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.