Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Lise loop met volle vaart

Verlede jaar het Lise Brink vir haarself ’n mikpunt gestel om een kilometer per dag met haar kunsbeen te stap. Een het vyf geword en verlede naweek het sy 34 km in vier dae gestap in die Bo-Karoo Vasbyt in Orania.

Lise stap met haar prostese.

Dit is amper twee en ’n half jaar sedert Lise (45) haar linkerbeen verloor het in ’n motorongeluk wat ook die lewe van twee van haar vyf kinders, Rachel (8) en André (13), geëis het.

Haar man, dr. Danie Brink (50), direkteur van die Skoleondersteuningsentrum van Solidariteit, en twee van hul kinders, Mieke (17) en Johann (12), het almal saamgestap. Die wedloop strek oor vier dae en deelnemers kan kies om 100 km of 55 km te stap of te hardloop.

Danie het die 100 km gedoen en die twee kinders die 55 km.

‘Ek leer elke dag dat ek moet luister na die Here.'

Lise en haar stapmaat, Duane van Zyl (34), het hul eie wedloop aangepak en altesaam 34 km gestap. “Eintlik het ek vooraf besluit om te mik vir 5 km per dag, maar Duane het my aangemoedig om meer te doen. En toe ons weer sien, het ons elke dag tussen 8 en 10 km gestap,” vertel Lise baie trots.

Duane was ’n goeie stoeier voordat hy in dieselfde tyd as Lise ook sy been verloor het. Nes Lise s’n is sy been net bo die knie geamputeer.

Lise sê sy en Danie het verlede jaar besluit om die Vasbyt te doen. Sy het in hul buurt in Pretoria begin stap. “Die aanvanklike mikpunt was 1 km en toe ek weer sien, kon ek 5 km stap.”

Lise Brink en Duane van Zyl het in Desember 2016 dae uitmekaar elk ’n been verloor. Hulle het onlangs aan die Bo-Karoo Vasbytwedloop in Orania deelgeneem.

Haar seuntjie Daniël (4) het ook gehelp, spot sy. “Hy hou my aan die hardloop.”

Dit het ’n groot kopskuif geverg om die wedloop aan te pak. “Ek het net weer eens geleer dat my planne nie noodwendig die beste en enigste is nie. Ek leer elke dag dat ek die stem in my kop stiller moet maak en luister na die Here. ’n Mens hoef nie te sê ‘ek kan nie’. Jy moet soms net kreatiewer maniere vind.

“Ek sal byvoorbeeld ’n plan A, B en C hê, en dan besef God se plan vir my is D, E of F en ek moet dit raaksien,” sê sy.

Lise dra ’n prostese met die naam Össer wat in Ysland vervaardig is.

Danie Brink saam met sy vrou, Lise, en twee van hul kinders, Mieke en Johann.

Sy was bekommerd dat die stappery oor lang afstande swelling of bloeding aan haar been sou veroorsaak. Maar dit het nie gebeur nie en sy kon elke dag saam met Danie, Duane, Mieke en Johann wegspring.

Dit was vir haar baie spesiaal om soos enige ma ’n wedloop saam met haar kinders te kon doen.

“Mieke het dit al voorheen gedoen, maar dit was Johann se eerste keer. Ek was so trots op hom, want hy sukkel maar met bene wat vinnig styf raak,” sê sy.

Lise, ’n opgeleide fisioterapeut, sê noudat sy eie ervaring van ’n prostese het, verstaan sy eintlik vir die eerste keer hoe dit werk. “Jy moet jou balans en gewig reg balanseer. Ek werk nie tans as fisio nie. Benewens dat ek heeldag rondhardloop agter Daniël aan, gee ek ook tuisonderrig vir ons kinders.

“Maar ja, ek dink ek sal weer een of ander tyd gereed wees daarvoor en nou verstaan ek dié veld beter,” sê sy.

Hoewel sy en Danie nou meer tyd gehad het om Rachel en André se dood te verwerk en glo dat hulle beter af is by God, “raak die verlange nie minder nie. Trouens, dit raak net meer,” sê Lise. “Maar ek weet God maak nie foute nie en is dankbaar vir sy genade.”

suzanne.venter@rapport.co.za

Meer oor:  Lise Brink  |  Ongeluk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.