Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Loftus se persbank dra legende se naam

Die joernaliste wat vandag vanaf Loftus Versfeld verslag doen oor die inhuldiging van pres. Cyril Ramaphosa, sit in die persbank van dié beroemde rugbystadion.

Baie van hulle was nog nooit op Loftus nie.

Die persbank agter glas dra die naam van Quintus van Rooyen, legendariese rugbyskrywer van Beeld.

Quintus het voor sy dood aan kanker in 1998 (in die ouderdom van 62) vir baie jare lank vir Beeld en sy susterskoerante oor Noord-Transvaal (die Blou Bulle) verslag gedoen.

Hy was so partydig teenoor die Blou Bulle (en veral Naas Botha!) dat sy kritici hom “Quintus van Blouen” gedoop het.

Quintus was ’n legende. Hy was waarskynlik een van die mees ingeligte rugbyskrywers van sy tyd.

Quintus van RooyenFoto:

Quintus het almal in die rugbywêreld wat tel, geken.

Nie net in Suid-Afrika nie, maar ook in ander rugbylande.

So goed ingelig was hy oor Nieu-Seelandse rugby dat rugbyskrywers uit die land van die silwervaring hom soms in Pretoria gebel het om te hoor wat in hul land se rugby aan die gang is!

Daar word selfs beweer hy het die keurders van hetsy die Blou Bulle of die Springbokke ernstig beïnvloed wanneer hulle hul spanne gekies het. Glo soms self bygesit wanneer spanne gekies word . . .

Hy was dalk eenogig, maar Quintus se berigte het koerante verkoop. Omdat hy so goed ingelig was en goeie kontakte gehad het, was sy onthullings meestal in die kol.

Daar was Beeld-lesers wat erken het hulle hou nie van wat hy skryf nie, maar nogtans die koerant gekoop het om sy goed te lees “net om die donder in te word”.

Toe hierdie joernalis aan die einde van 1992 uit die eertydse Pietersburg-kantoor van Beeld na die Pretoria-kantoor verplaas is, was Quintus die eerste mens wat ek die oggend van 4 Januarie 1993 in die gang raakgeloop het.

Quintus het nie gegroet nie. Al wat hy gesê het, was: “Het jy gehoor? Dok is dood.”

Dok was dr. Danie Craven, die jarelange Suid-Afrikaanse rugbybaas.

In dieselfde persbank waar ons vandag sit, het ek Quintus een Saterdagmiddag dopgehou.

Hoe nader Noord-Transvaal aan die doellyn gekom het, hoe harder het Quintus met sy pen op die bank voor hom geslaan!

Hoewel hy vir rugby gelewe het, het hy nooit sy liefde vir atletiek verloor nie. Hy was immers in sy jonger jare by Volksblad ’n atletiekskrywer en -statistikus.

Quintus was vir baie jare lank redakteur van die SA Rugbyjaarboek.

Vir sy werk het hy gelewe. Veral Sondae het hy met die een hand die een storie ná die ander oor Noord-Transvaal uitgeryg.

Die bord in die perskamer op Loftus.

Ons het altyd op kantoor gespot ons weet wanneer Quintus met verlof is: Dis wanneer hy sonder ’n das kom werk het!

So verknog was Quintus aan sy werk dat hy ’n halfuur voor sy dood vir kollega Morris Gilbert laat weet het van ’n storie wat hy moet opvolg.

Toe kanker by hom gediagnoseer is, was Beeld se plakkaatopskrif een Maandagoggend: “Quintus is baie siek”.

Ek het oor sy begrafnisdiens verslag gedoen.

Quintus het vooraf geterg die Westelike Provinsie sou agente na sy begrafnis stuur om seker te maak hy is regtig dood.

Toe stuur die WP-rugbyunie uit respek vir hom ’n senior afvaardiging na sy begrafnis.

Pas terug op kantoor, begin ’n faks (destyds op rolle papier) deurkom.

Bo-aan het gestaan: “For the attention of the family of Quintus van Rooyen.”

Dit was ’n boodskap van simpatie van die Nieu-Seelandse Rugby-unie. Die hele All Black-span het die boodskap onderteken.

* Quintus was seker nooit om 04:30 op ’n Saterdagoggend al in die persbank op sy geliefde Loftus soos ons joernaliste vanoggend nie . . .

Meer oor:  Cyril Ramaphosa  |  Inhuldiging
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.