Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Loopneus en hoofpyn toe meer as net hartseer

’n Kliniese sielkundige van Bloemfontein het ’n ligte hoofpyn en loopneus aanvanklik toegeskryf aan die trane wat sy gehuil het na haar broer se skielike afsterwe, net om dae later uit te vind dat sy die koronavirus het.

Ester de Beer (53) het vroeër vandeesmaand ’n dubbele slag gehad toe sy nie net haar jonger broer, Francois Mostert (51), verloor het nie, maar dae later uitgevind het sy het self die virus onder lede.

Ester de Beer se ouers, Frans (92) en Priscilla Mostert (86), kyk na hul seun, Francois (51) se gedenkdiens aanlyn. Foto: Verskaf

“Ek was een van die talle mense wat ligte tot amper geen simptome vir die virus getoon het nie.

“Die loopneus, hoofpyn en effense kriewel in my keel het ek aan my huilery ná my broer se dood toegeskryf.”

Die simptome het egter gebly en omdat sy in dié tyd met haar bejaarde ouers en tannie te doen gehad het, het sy haar laat toets toe die simptome nie beter word nie.

De Beer sê toe sy hoor die uitslag is positief, was die emosionele invloed groter uitwerking as die virus self.

“Die emosionele en sielkundige worsteling, angs en sielestryd was erg.

“My grootste vrees was dat ek die virus oorgedra het aan my ouers, oom en tannie of enige ander ouer mens of iemand in ’n hoërisikogroep.”

Die laaste gesinsfoto voor Francois Mostert (regs agter) se dood. Die ander twee agter heel links is dr. Jaco Mostert (55) en prof. Karien Mostert (58) in die middel. Voor van links Ester de Beer en haar ouers, Frans (92) en Priscilla Mostert (86).

Sy sê ondanks die slegte nuus oor haar broer se dood ná ‘n skielike beroerte, het hulle die nodige afstande gehandhaaf en die hele tyd maskers gedra.

De Beer, wat by ’n private praktyk in Bloemfontein praktiseer, sê die moeilikste ding wat sy moes doen, was om pasiënte en ander mense met wie sy te doen gehad het, in kennis te stel.

“Almal wat ek gebel het, moes toe twee weke in kwarantyn deurbring. Dit het soveel angs veroorsaak dat ek die oorsaak is dat mense nie net siek kon word nie, maar ook finansiële verliese sou ly.

“Ek het gewonder hoe ek met myself sou kon saamleef as een van die mense siek of doodgaan aan ’n virus wat hulle by my gekry het.”

Omdat sy positief getoets is, kon nie sy, haar ouers of haar suster, Karien (58), die roudiens vir haar broer bywoon nie.

De Beer sê met al die bekommernisse en ook die vlae van hartseer oor haar broer, was haar eie virussiekte baie laag op haar lys.

“Vir mense wat die virus oorleef, is die emosionele invloed baie meer omvangryk.

Hierdie foto van Ester de Beer is op Saterdag, 25 Julie geneem. Foto: Janus Pretorius
Ester de Beer en haar seun, dr. Vincent de Beer (24) in Desember 2019. Foto: Verskaf
Ester de Beer tydens die Twee Oseane-halfmarathon in 2019. Foto: Verskaf

“Emosionele gevolge eis ook nie net sy tol op die pasiënt nie, maar ook op almal om hulle.

“Die mat word onder soveel mense uitgeruk en dit lei tot geweldige angs en slapelose nagte.’

Sy sê sy sidder om te dink hoe sy die emosionele stryd sou kon baasraak sonder die voordeel van haar sielkundige studies.

Behalwe dat mense veilig en gesond moet leef, raai sy almal aan om ’n goeie sosiale ondersteuningsnetwerk te hê of seker te maak dat hulle met iemand praat.

“Daar is engele in mensevorm en hul hulp en bystand is van onskatbare waarde.”

De Beer sê die waardevolste les wat sy geleer het, is dat haar lewensgeluk verweef is met al die mense wie se lewens deur haar lewe aangeraak word en dat haar gedrag ’n groot rimpeleffek het.

As ’n mens verantwoordelik optree en reëls en regulasies nakom, kan hulle nie net hulself en geliefdes van siekte of dalk die dood spaar nie, maar ook almal om hulle red van geweldige sielewroeging.

De Beer is die 12de Julie positief vir die virus getoets en is op 25 Julie amptelik gesond verklaar.

Meer oor:  Ester De Beer  |  Bloemfontein  |  Koronavirus  |  Simptome  |  Covid-19-Virus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.