Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Los Jhb se verskrikte kees uit, vra Claw
Die bobbejaan op sy vlugtog Woensdag deur Northcliff, Johannesburg. Foto: SCP/Facebook

Moenie skiet nie. Moenie hom konfronteer nie. Los net Johannesburg se “straatbobbejaan” sodat hy op ’n menslike wyse gevang en verskuif kan word.

Dít is die pleidooi van diereorganisasies oor die opwinding en “OJ Simpson-agtige jaagtogte” agter die dier aan sedert die nuus Woensdag van sy tog deur voorstede op sosiale media versprei is.

“Ja, hy is wild. Respekteer dit. Hy is nie ’n gevaar nie, maar hy is bang en verskrik, so los hom net en rapporteer waar hy laaste gesien is,” vra Cora Bailey, stigter van Claw (Community Led Animal Welfare).

Kees se vlugtog is sedert Woensdagoggend deur Northcliff in Randburg, Johannesburg, met die hulp van oë op straat, veiligheidskameras en ’n hommeltuig oor mure, dakke, sypaadjies en selfs ’n winkelsentrum gevolg.

Veiligheidsgroepe op WhatsApp het ook laat weet: “Die dier beweeg deur erwe. Claw probeer hom vang. Hou asseblief jou honde en katte binne. Moenie die dier nader nie, want hy is wild.”

Teen skemeraand was die bobbejaan steeds op straat.

Johan Veldman van SCP Security, ’n private veiligheidsmaatskappy, sê ’n kliënt het hulle Woensdag om ongeveer 08:00 laat weet van die bobbejaan en SCP se bestuur het Claw gekontak.

“Volgens ons inligting is hy reeds drie dae terug eers in Northcliff, toe in Rooseveltpark (nie ver daarvandaan nie) en nou vandag weer in Northcliff gesien,” sê Veldman.

Ja, hy is wild. Respekteer dit. Hy is nie ’n gevaar nie, maar hy is bang en verskrik, so los hom net en rapporteer waar hy laaste gesien is.

Hassan Cassim, Claw se wildediervanger, is dadelik na die woonbuurt.

“Ons het gehoor iemand het die bobbejaan op ’n erfmuur sien loop. Toe het hy na die Northcliff Corner-winkelsentrum gehardloop waar hy glo eers deur die tweede verdieping is, voordat hy met die geute tot op die dak gevlug het.

“Ons het hom op die sentrum se dak gesien voordat hy verder gehardloop het,” sê Cassim.

Wat dit moeilik maak om die dier te vang, is dat hy nie vir “tien minute stilsit” nie.

“Die bobbejaan is nie gewoond aan mense nie. Hy hardloop as hy hulle sien. Die gevaar is dat hy in ’n stedelike gebied is met verkeer en mense wat opgewonde raak en hom verskrik,” sê Cassim.

Dit is net omdat dié een op sosiale media is dat mense dink dit is uniek.

Bailey sê dit is nie die eerste primaat wat dit tussen huise waag nie.

“Verstedeliking lei hiertoe. Ons vang en verskuif gereeld blouapies en bobbejane in voorstede. Dit is net omdat dié een op sosiale media is dat mense dink dit is uniek,” sê sy.

Hulle vermoed dat die bobbejaan dalk van die Wieg van die Mensdom se trop af kon kom.

“Die mannetjie doen net wat sy spesie vir eeue doen: verlaat die trop op ’n sekere ouderdom om sy eie trop te vind om sodoende inteling te voorkom. Daardie soektog kan vir maande en oor baie kilometers strek. Dié natuurlike proses het net nou weens meer bewoonde gebiede meer sigbaar vir mense geword,” sê Bailey.

Sy sê die bobbejaan kan nie sommer net met ’n verdowingspyl geskiet word nie omdat die middel nie onmiddellik begin werk nie.

“So die dier sit op ’n dak of in ’n boom, val, en breek sy nek. Sy adrenalienvlak verhoog drasties as hy getref word en hy kan voor ’n motor inhardloop of by ’n erf invlug waar daar honde is of waar ons nie toegang kan kry nie,” sê sy.

“Wat ons nodig het, is baie geduld en ’n stil tuin waar ons ’n passiewe lokvalhok kan plaas met ’n lekker versoeking in. Hassim is fantasties met sulke valhokvangste.”

Bailey beklemtoon dat die bobbejaan nie iemand wil seermaak nie.

“Hy probeer juis mense vermy, terwyl sy instink hom sê om aan te hou beweeg totdat hy ’n nuwe trop kry.”

  • Mense wat die dier gewaar kan Claw met die ligging whatsapp by 076 850 4466.
  • Klik hier om na die video te kyk. 


Meer oor:  Northcliff  |  Randburg
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.