Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Losprys vir ons man in Mali
Steven McGown en sy vrou, ­Cathy, kort ná sy aankoms in Johannesburg uit Mali. Foto: enca

Die skielike en onverwagse vrylating van die Suid-Afrikaner Steven McGown (42), wat sowat ses jaar lank deur radikale Moslems in Mali aangehou is, suggereer dat ’n losprys wel vir sy vrylating betaal is.

Terreurkenners met wie Rapport die afgelope week gepraat het, is dit eens dat net ’n dramatiese deurbraak die vrylating kan verklaar.

McGown was die laaste toeris wat vrygelaat is van die drie wat in 2011 in Mali gevange geneem is. ’n Nederlander is reeds in 2015 gered en ’n Sweed is in Junie vrygelaat.

The New York Times het die afgelope week berig ’n losprys van 3,5 miljoen (sowat R55,4 miljoen) is betaal.

Terreurgroepe laat niemand verniet vry nie.

Die koerant haal ’n anonieme afgetrede Europese intelligensie-amptenaar aan wat sê dat die losprys onderhandel is deur die Suid-Afrikaanse Moslem-welsynsorganisasie Gift of the Givers, wat ook die vrylating van die Bloemfonteiner Yolande Korkie bewerkstellig het.

Dr. Imtiaz Sooliman van Gift of the Givers ontken dit.

Sooliman het aan Rapport gesê sy organisasie het wel kontak gemaak met Aqim, die Al-Kaïda-sel wat McGown aangehou het, maar was slegs tot einde Junie by die onderhandelings betrokke. Toe het Aqim 4 miljoen (R63,3 miljoen) vir McGown se vrylating geëis.

“Ons het toe vir die Suid-Afrikaanse regering gesê ons kan nie die onderhandelings verder voer nie aangesien regering-tot-regeringsoptrede nodig was. Steven se vrylating was vir ons ’n totale verrassing.”

Die Franse geheime agent

Luidens The New York Times is die losprys van 3,5 miljoen aan Aqim oorgedra deur ’n Franse geheime agent in die Adrar des Ifoghas-berge in die woestyn in die noorde van Mali waar McGown aangehou is.

Die operasie is deur Franse en Suid-Afrikaanse intelligensie-amptenare deur middel van ’n tussenganger bestuur.

In intelligensiekringe word bespiegel dat Katar dalk die tussenganger kon wees.

Dié land word tans deur sanksies van verskeie lande in die Midde-Ooste in die gesig gestaar weens sy beweerde steun aan terreurgroepe wat die stabiliteit in dié gebied bedreig.

Maite Nkoane-Mashabane, minister van internasionale betrekkinge en samewerking, het die afgelope week by die aankondiging bloot die “internasionale gemeenskap” vir hul ­samewerking bedank.

Sy het gesê dit was ’n spanpoging deur verskeie lande, groeperings en organisasies.

Rapport verneem dat agente van die Staatsveiligheidsagentskap nou betrokke was.

Só was daar in Julie ’n Suid-Afrikaanse regeringsafvaardiging in Mali wat reëlings vir die vrylating gaan bevestig het.

Nkoane-Mashabane het tydens die aankondiging nie geantwoord op ’n vraag of daar ’n losprys vir McGown se vrylating betaal is nie, maar het gesê dit is nie regeringsbeleid nie.

McGown het verlede Sondagoggend reeds met ’n huurvlug op die Lanseria-lughawe buite Johannesburg geland, het sy pa, Malcolm, vroeër gesê.

Hy is vandeesweek in die Milpark-hospitaal vir ’n onbekende ongesteldheid en koors behandel nadat hy ook Sondag met sy vrou, Cathy, herenig is.

‘Duurder’ gyselaars

Volgens Jasmine Opperman van Trac, ’n organisasie wat terreur wêreldwyd dophou, is daar geen twyfel nie dat die een of ander vorm van ’n losprys betaal is.

“Terreurgroepe laat niemand verniet vry nie. Die losprys wat vir Steven betaal is, is boonop heelwat minder as vir van die ‘duurder’ gyselaars van ryker lande.

“Daar is ongetwyfeld êrens ’n kanaal oopgemaak om dié geld of ’n ruiltransaksie te bewerkstellig. Katar is tans desperaat vir internasionale vriende en sou bereid wees om as middelman te dien,” sê sy.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.