Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Lotery skrik ná 19 jaar wakker

Die Nasionale Loterykommissie het uit die bloute besluit dat ’n bekende Johannesburgse lugvaartmaatskappy wat elke jaar miljoene rande vir die Reach For a Dream-stigting insamel, nie meer self ’n vliegtuig mag uitloot en kaartjies vir die lotery mag verkoop nie.

Dennis Jankelow & Associates (DJA), wat in lugvaartversekering spesialiseer, doen dit al die afgelope 19 jaar.

Dié maatskappy se aansoek om ’n registrasienommer om die vliegtuiglotery (wat as ’n gemeenskapslotery geklassifiseer word) te bestuur, is elke jaar deur die Loterykommissie goedgekeur.

Maar die kommissie, voorheen bekend as die Loteryraad, het eensklaps vanjaar besluit DJA se leeueaandeel in die kompetisie is eintlik ’n oortreding van die Loterywet, al het dié wet reeds in 1997 in werking getree.

Die kompetisie mag voortgaan, maar Reach for a Dream moet dit voortaan self bestuur, het die kommissie beslis.

DJA is skepties of Reach for a Dream dié groot projek self sal kan bestuur, maar die stigting hou vol dit is geen probleem nie.

Dit is ook onduidelik of die gewilde kompetisie, waarvan die kaartjies teen R250 elk verkoop word, ná vanjaar sal voortgaan.

Ingevolge art. 39 van die Loterywet mag maatskappye nie gemeenskapsloterye bestuur nie, sê Thabang Mampane, Loterykommissaris.

Mampane het per e-pos aan Rapport gesê ’n gemeenskaps­lotery moet deur organisasies sonder winsbejag, in dié geval Reach for a Dream, bestuur word. Dit geld ook skole wat geldinsamelingsprojekte hou deur lootjies te verkoop. Maar Mampane sê maatskappye wat wél sulke kompetisies namens organisasies sonder winsbejag wil bestuur, moet ingevolge art. 47 van die Loterywet geregistreer wees en DJA is nie geregistreer nie. Tog het die maatskappy elke jaar die regte aansoekprosedures gevolg, sê Debra Myburgh, DJA se bemarkingsbestuurder.

“Terwyl ons Dennis Jankelow & Associates se aansoek om hernuwing van die vliegtuiglotery nagegaan het, het ons gesien die maatskappy vervul die rol van ­loterybestuurder en Reach for a Dream is net die begunstigde,”
sê Mampane.

“Daarom het ons Reach for a Dream verplig om sy verhouding met DJA te verklaar.

“ ’n Maatskappy mag slegs geld vir organisasies soos Reach for a Dream uit sy eie wins skenk en indien ’n maatskappy as loterybestuurder wil optree, moet dit ingevolge art. 47 van die Loterywet geregistreer wees. DJA is nie by ons geregistreer nie.”

Sy het nie die vraag beantwoord oor waarom die Loterykommissie ná 19 jaar eers tot dié gevolgtrekking gekom het nie.

Die bevinding beteken dat DJA se handelsnaam van die kompetisie se promosiemateriaal verwyder moet word en dat die maatskappy nie meer die lotery op sy webwerf mag adverteer nie.

“Gelukkig het ons die vliegtuie wat vanjaar uitgeloot word reeds in November verlede jaar gereed gehad, so nou moet ons Reach for a Dream binne ’n maand leer hoe om die inisiatief te bestuur,” sê Myburgh.

DJA het die vliegtuie wat elke jaar uitgeloot is, aangekoop, herstel en netjies geverf.

“Ons weet nie of Reach for a Dream dit alleen sal kan bestuur nie,” sê Myburgh. “Dit was altyd een van hul grootste bronne van geldinsameling.”

Julia Sotirianakos, Reach for a Dream se uitvoerende hoof, sê egter hulle is gereed.

“Ons hoop ons kan (ná vanjaar) daarmee volhou, maar ons hoofdoel is om op vanjaar se lotery te fokus op ’n manier wat met die voorgeskrewe reëls ooreenstem.”

Meer oor:  Lotto
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.