Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Louis Siemens in diens gehuldig

Hulde is Woensdagaand in ’n stampvol skoolsaal van die Hoërskool Sentraal in Bloemfontein aan Louis Siemens (54), besturende direkteur van die CityMed-daghospitaal wat ’n week gelede in dié stad vermoor is, gebring.

Hy is deur André de Jager, ’n familievriend, beskryf as ’n opregte Afrikaner met ’n sterk karakter en baie durf en ambisie.

Louis Siemens se gesin ondersteun mekaar by sy kis voor in die saal van die Hoërskool Sentraal waar ’n roerende gedenkdiens Woensdagaand gehou is. Van links is Eduard, Marié en Anja. ’n Koor en strykensemble van die skool het by die geleentheid opgetree. Foto: Mlungisi Louw

De Jager het hom ook bestempel as ’n ware heer, ’n goeie sakeman, ’n strateeg wat altyd vir die dag van môre beplan het en “iemand wat altyd vriendelik kon lag en kans gesien het vir baie uitdagings – veral vir sy holistiese boerdery.”

Afskeidsboodskappe van sy gesin is voorgelees.

Sy vrou, Marié, het gesê die Here het besluit om haar man op Hemelvaartdag na ’n beter plek te neem. Sy het hom vir 30 jaar se wonderlike tye bedank.

Eduard het sy pa bedank “vir die goeie rolmodel wat Pappa altyd was, die wysste persoon wat ek geken het”.
Anja het geskryf “geen woorde sal ooit kan beskryf hoe merkwaardig Pappa was nie”.

Familie en vriende van oral oor het die gedempte, hartseer-geleentheid bygewoon om hul laaste eer aan Siemens te bring op wat beskryf is as ’n gedenk-, onthou-, en groetdiens.

Siemens is verlede Donderdagmiddag met vier skote in die kelder-parkeerterrein van die Prellerplein-winkelsentrum doodgeskiet.

De Jager het in sy huldeblyk gesê Louis was ’n groot gesinsman, wat sy vrou en kinders ontsaglik liefgehad het.

Louis Siemens se seun, Eduard (links), en broer Anton (regs) het as draers opgetree. Foto: Mlungisi Louw

Hy was ’n natuurliefhebber wat op sy gelukkigste in die veld tussen sy beeste was waarmee hy tot twee jaar gelede geboer het.

“Hy het ook altyd ’n oop hart en beursie gehad vir die skool, asook ander verdienstelike sake, en diegene wat hulp nodig gehad het.”

Siemens was onder andere ’n voormalige voorsitter van die beheerraad van Sentraal.

Groot stringe brandende wit kerse en gerwe spierwit blomme het orals die verhoog versier, terwyl Siemens se glimlaggende gesig op ’n skerm voor in die saal vertoon is. Vroeër is foto’s van sy lewe op dié skerm gewys.

Voor die verhoog het sy kis gestaan.

Die skoolkoor en ensemble van die Hoërskool Sentraal het verskeie musiekitems gelewer, en ’n opname is gespeel van ’n kooruitvoering waaraan sy Marié ook deelgeneem het van “Neem my in beskerming O God, ek soek skuiling by U” (Ps.16).

Woorde van die lied is op die skerm vertoon op ’n pragtige natuurfoto wat Siemens self geneem het.

Dr. Christo Fourie, oud-leraar van die NG Tweetoringkerk, het sy boodskap gebring uit Johannes 14:1: “Julle moenie ontsteld wees nie. Glo in God. Glo ook in My.”

Fourie het gesê mense se liefde vir mekaar moet altyd duidelik en hard praat. “Dit help nie ons hou optogte, raak verbitterd, wen hofsake oor haatspraak, of leef in wanhoop en vrees nie.”

God wil nié hê die mense van Dan Pienaar, Prellerplein, Heuwelsig en die hele Bloemfontein moet voortaan in wanhoop en vrees lewe nie.

Terwyl mense ontsteld is oor wat gebeur het en nie kan sin maak uit dié wrede en sinnelose moord nie, wil God hê mense moet mekaar liefhê en ’n lewe van lig, vrede en hoop kies, het Fourie gesê.

Die polisie is intussen steeds op soek na nog twee verdagtes nadat Stanley Bakili reeds aangekeer is en in die hof verskyn het.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.