Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Louis Trichardt-moord: Vrou dood voor sy verhoor is

Die vrou wat tereggestaan het op die moord op haar man drie jaar gelede in Louis Trichardt in Limpopo, wat aanvanklik as ’n plaasaanval ondersoek is, is dood.

Tony Strydom (45) is in 2016 in Louis Trichardt in Limpopo vermoor. Foto: VERSKAF

Rieta Strydom (65), wat in April vir die moord op haar man, Tony Strydom (45), in hegtenis geneem is, is op 18 Mei in Standerton in Mpumalanga dood.

Kol. Moatshe Ngoepe, polisiewoordvoerder in Limpopo, sê sy is aan natuurlike oorsake dood.

Sy het op 6 April saam met haar een stiefseun, Hendrik Strydom (25), in die landdroshof in Louis Trichardt vir die moord op haar man verskyn. Hulle is albei op borgtog van R1 000 vrygelaat.

Strydom is op 2 Julie 2016 in raaiselagtige omstandighede op ’n hoewe in die Ridgeway-gebied buite Louis Trichardt dood.

Volgens sy familie het hy die dag glo laatmiddag op die hoewe gaan teiken skiet toe hy na bewering oorval en in die rug geskiet is.

Die polisie het Rieta en haar twee stiefseuns, Hendrik en Pieter (24), in 2016 ondervra, maar hulle is weens ’n gebrek aan bewyse nie in hegtenis geneem nie.

Zoutpansberger, ’n plaaslike koerant, berig dat Pieter hom in Mei aan die polisie in Standerton oorgegee het. Hy het vlugtig in die landdroshof in Louis Trichardt verskyn en is op borgtog van R1 000 vrygelaat.

Die twee broers beweer dat hulle die betrokke dag omstreeks 17:00 ’n skoot gehoor het. Hulle het nie onraad vermoed nie omdat hul pa gereeld teiken geskiet het.

Die broers het op sy lyk afgekom toe hulle glo beeste na ’n kraal aangejaag het. Strydom het bebloed op sy maag langs sy bakkie gelê.

Sy jaggeweer was skoonveld en hy het min geld by hom gehad.

Ngoepe sê die twee Strydom-broers sal op 1 November weer in die plaaslike landdroshof verskyn.

Meer oor:  Louis Trichardt
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.