Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Louw spyt dat hy weddenskap wen

Leon Louw, uitvoerende direkteur van die Vryemarkstigting, is eintlik baie jammer dat hy pas ’n weddenskap van R100 000 gewen het.

As hy verloor het, sou dit wees omdat die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) ’n wins getoon het drie jaar ná die bekendstelling van ’n regrukplan deur die lugdiens se destydse uitvoerende hoof, Vuyani Jarana.

In teenstelling is die SAL sedert Desember 2019 in sakeredding. Die personeel is met sowat 3 700 verminder, sy vlieëniers dreig om te staak en sy vliegtuie is meestal op die grond.

Ten spyte van versekerings deur die minister van openbare ondernemings, Pravin Gordhan, tot die teendeel, is daar kommer dat belastingbetalers in komende jare, soos tevore, nog baie gaan opdok vir dié albatros om die land se ekonomiese nek.

In Augustus 2017 het Malusi Gigaba, tóé nog minister van finansies, aangekondig Jarana, wat in daardie stadium groepsbestuurder van Vodacom was, is aangestel om die SAL te lei en reg te ruk.

Jarana het later ’n regrukplan voorberei en Louw het gesê as enigiemand die SAL tot winsgewendheid kon lei, was Jarana die man. Maar, het Louw óók gesê, die SAL is só onredbaar dat selfs Jarana met sy talente en ver­moëns dit nie sou kon regruk nie.

In Junie 2018 het Louw Jarana uitgedaag tot ’n vreemde weddenskap oor die lugdiens se lot.

As hy die SAL teen 31 Maart vanjaar tot winsgewendheid kon lei, sou Louw R100 000 aan ’n liefdadigheidsorganisasie skenk. Gebeur dit nie, sou Jarana opdok.

Jarana het die weddenskap aanvaar en die taak aangepak.

Om sy regrukplan te laat slaag, sou die regering R22 miljard beskikbaar moes stel en hom die vryheid gee om te doen wat nodig is.

Dít het nie gebeur nie en in Junie 2019 het Jarana bedank weens ’n gebrek aan finansiering en steun van die regering.

Toe die spertyd vir die weddenskap die afgelope week aanbreek, het hy niks meer met die SAL te doen gehad nie, maar hy het sy belofte gestand gedoen.

“Die weddenskap was nie daaraan gekoppel dat hy moes aanbly in sy pos nie,” sê Louw.

Jarana het die R100 000 oorbetaal vir die Vryemarkstigting se Khaya Lam-program om arm mense te help om titelaktes vir hul grond te bekom.

“Dis nou een weddenskap wat ek graag sou wou verloor,” het Louw Vrydag aan Rapport gesê.

Hy sê die SAL se sake is nou nog meer hopeloos as wat dit destyds was.

“Daar is niks om te red nie. Jy sal die SAL vandag nie eens verniet kan weggee nie.”

Hy meen die sakeredding bereik niks meer as om die sakereddingspraktisyns te verryk nie. “Die SAL het feitlik geen bates nie. Hy huur die meeste van sy vliegtuie en die paar wat hy besit, is weinig werd. Die huurkontrakte is van so ’n aard dat hulle meer kos as wat die lugdiens daarmee kan verdien en die vliegtuie is heeltemal onvanpas vir die huidige mark.”

Jarana glo steeds die SAL sou destyds gered kon word as die steun en finansiering daar was.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.