Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Lughawe na Mandela hernoem
Winnie Madikizela-MandelaFoto: Felix Dlangamandla

Die Lughawensmaatskappy van Suid-Afrika (Acsa) sê hy oorweeg dit reeds om die Kaapstadse Internasionale Lughawe na oudpres. Nelson Mandela te hernoem, te midde van die oproep dat dit nou na sy eksvrou, Winnie Madikizela-Mandela, herdoop moet word.

Dit volg nadat Julius Malema, EFF-leier, Saterdag by Madikizela-Mandela se begrafnisdiens gesê het indien dit waar is dat die ANC oor haar omgee, sal hy dié lughawe “Winnie Mandela-lughawe” herdoop.

Oor die naweek het die sosiale media gegons oor dié voorstel, terwyl die Wikipedia-blad oor die lughawe ook tydelik gewysig is na “Winnie Madikizela-Mandela Internasionale Lughawe”, berig News24.

Hulisani Rasivhaga, Acsa-woordvoerder, het Sondag gesê Blade Nzimande, minister van vervoer, het op 22 Maart opdrag gegee dat Acsa die proses moet dryf om die lughawe na die Nelson Mandela Internasionale Lughawe te herdoop.

“Die hernoemingsproses sal al die wetlike vereistes nakom. Dit sluit in ’n reeks vergaderings met belanghebbers en ’n openbaredeelnameproses.”

Die Twitter-rekening vir die Suid-Afrikaanse regering het Saterdagoggend ook getwiet oor Malema se “uitdaging” om die lughawe in Kaapstad te hernoem.

Foto’s van “padtekens” soos dié na die “Winnie Madikizela-Mandela-lughawe” is oor die naweek op sosiale media gedeel. Foto: Twitter

Ander het getwiet dat hulle daarna uitsien om eendag tussen die O.R. Tambo-lughawe en die Winnie Madikizela-Mandela-lughawe te kan reis.

’n Aanlyn petisie is ook op die been gebring om ’n beroep op pres. Cyril Ramaphosa te doen om die lughawe na Madikizela-Mandela te hernoem en teen Sondagaand het 1 877 mense dit reeds geteken.

Intussen is die finale goedkeuring vir opknappings by die Kaapstadse Internasionale Lughawe in Februarie ontvang. Acsa gaan nou R3,8 miljard inploeg om ’n nuwe, verskuifde aanloopbaan te bou.

Die nuwe hoofaanloopbaan sal 3,5 km lank wees en volgens internasionale vereistes gebou word, met die oog daarop om meer verkeer en vliegtuie met ’n groter vlerkspan, soos die Airbus A380, te kan ontvang.

Indien al die nodige prosesse, insluitend ’n gedetailleerde ontwerp, betyds voltooi is, kan bouwerk aan die aanloopbaan aanstaande jaar begin.

Julius Malema, EFF-leier, met sy toespraak by Saterdag se begrafnisdiens vir Winnie Madikizela-Mandela. Foto: Tebogo Letsie

Deon Cloete, hoofbestuurder van die lughawe, het in Februarie op ’n geleentheid van die Cape Town Air Access-vennootskap gesê die Kaapstadse lughawe het die afgelope jaar vir die eerste keer meer as 2 miljoen buitelandse besoekers ontvang.

Benewens die werk aan die aanloopbaan sal terminus 2 opgeknap en ’n nuwe ontvanggebied vir binnelandse besoekers gebou word.

Met dié dat die aanloopbaan verder weg van die lughawegebou sal wees, sal dit meer plek laat vir uitbreiding van die geboue waar passasiers ontvang word.

Bykomende parkeerplek vir vliegtuie en vinniger afritte na en van die aanloopbaan word ook beplan.

Kyk hier na Julius Malema se huldeblyk by Winnie Madikizela-Mandela se begrafnisdiens:


MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.