Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Lugramp: Comair se Boeing Max 8 bly vir nou in lug

Comair, wat British Airways as ’n franchise op binnelandse vlugte bedryf, het op 4 Maart vanjaar Boeing se jongste weergawe van sy topverkoper, die 737, die lug ingestuur en verwag aan die einde van die maand om nog een in ontvangs te neem.

Daar is egter geen planne om die vliegtuig wat reeds in bedryf is te hok nie, nadat ’n tweede Boeing 737 Max 8 Sondag geval het.

Aircraft landing on a grey dull day, tyre mark smo
Die plaaslike lugdiensgroep Comair se eerste Boeing 737 MAX 8 is van Boeing se aanleg in Seattle, Amerika, op pad na Suid-Afrika. Foto: Boeing

Comair is die enigste Suid-Afrikaanse lugdiens wat ’n Boeing 737 Max het.

Al 157 mense aan boord is in Sondag se lugramp dood toe ’n vlug van Ethiopian Airlines ses minute nadat dit uit Addis Abeba opgestyg het op pad na Nairobi neergestort het.

Dieselfde vliegtuig het luidens die lugdiens nog dieselfde oggend uit Johannesburg opgestyg. Geen Suid-Afrikaners was egter aan boord nie.

Daar was teen Maandagoggend reeds vier lugdienste wat hul kommer laat blyk het oor die veiligheid van die vliegtuig, wat beskou word as die werkesel van lugvaart wêreldwyd.

’n Identiese, splinternuwe vliegtuig van Lion Air het verlede Oktober in die see naby Indonesië geval. In daardie lugramp is 189 mense dood.

Suid-Korea het Maandagoggend aangekondig hy doen noodveiligheidsinspeksies op die twee vliegtuie in sy vloot.

’n Uur voor dit het Ethiopian Airlines aangekondig hy staak al sy vlugte wat hy met dié nuwe vliegtuie sou onderneem.

Luidens die lugredery se webtuiste het hy 29 van die vliegtuie op bestelling gehad. Dit was nie onmiddellik duidelik hoeveel reeds in gebruik is nie.

Vroeër die oggend het China se regering aangekondig dat sy burgerlugvaartowerheid (CAAC) alle vlugte wat met die Boeing 737 Max-vliegtuie onderneem sou word, staak.

Die lugredery het 97 van dié vliegtuie.

Ethiopian Air
Werkers woon 'n seremonie by toe China Air ontvangs geneem het van sy eerste Boeing 737 Max 8 by die Boeing Zhoushan-sentrum in Zhoushan, Zhejiang-provinsie op 15 Desember verlede jaar. Foto: Reuters

“Aangesien dit in albei gevalle pas afgelewerde Boeing 737 Max 8-vliegtuie was wat geval het, en dit gebeur het kort nadat die vliegtuie opgestyg het, moet daar ooreenkomste wees,” het die CAAC gesê.

Cayman Airways van die Kaaimans­eilande is die vierde lugdiens wat sy vlugte met die spesifieke Boeing gestaak het.

Volgens The Guardian is daar meer as 300 Boeing 737-Max-vliegtuie in diens wêreldwyd en 5 000 is sedert 2017 op bestelling.

Comair het agt van die nuwe vliegtuie bestel, waarvan hy die eerste een aan die einde van Februarie in ontvangs geneem het. Buiten vir die een wat nog die maand ontvang word, word die ander ses oor die volgende drie jaar gelewer.

Op navraag van Netwerk24 het Susan van der Ryst, Comair se kommunikasiehoof, gesê die lugdiens gaan die verskeie ondersoeke wat oor die Ethiopië-lugramp gedoen word, deurgaans monitor en is in noue verbinding met Boeing en die Kommersiële Lugvaartvereniging van Suid-Afrika (SACAA).

“Ons hoogsgekwalifiseerde en ervare vlieëniers en ingenieurs bly waaksaam. As ons inligting ontvang wat vereis dat ons moet herbesin oor die situasie, kan mense gerus wees dat ons die gepaste aksie sal neem in die belang van die veiligheid van ons personeel en kliënte. Ons sal nie hul veiligheid, wat ons eerste prioriteit is, op die spel plaas nie,” het Van der Ryst gesê.

Al Jazeera het met ’n lugvaartkenner, Alex Macheras, gepraat wat meen Sondag se ramp het die fokus op die vliegtuig eerder as die lugdiens geplaas, aangesien Ethiopian Airlines ’n goeie veiligheidsrekord het.

Ethiopian Airlines, lugramp
'n Famielid van 'n passasier op Ethiopian Airlines Vlug ET 302 word Sondag op die Jomi Kenyatta-internasionale lughawe in Nairobi deur ander ondersteun. Foto: Reuters

Die lugdiens se laaste ongeluk voor Sondag was in 2010 toe ’n Boeing 737-800 in die see by Libanon geval het. In daardie ongeluk is 90 mense dood.

Die lugdiens is die grootste op die vasteland wat wins betref en bedien 113 bestemmings met 108 vliegtuie, berig Al Jazeera.

Boeing het Sondag in ’n verklaring gesê hy stuur ’n tegniese span na die ongelukstoneel.

Die maatskappy het Maandag volgens Reuters gesê nog geen inligting uit die ondersoek na Sondag se lugramp noodsaak hom om nuwe riglyne (oor die Boeing 737-800) uit te reik nie. 

Soos vroeër berig, het die Boeing 737 Max 8 sitplek vir 174 passasiers en kan 6 570 km ver vlieg. As net ekonomieseklas-sitplekke ingepas word, byvoorbeeld vir ’n laekostelugdiens, sal die vliegtuig 189 passasiers kan inpas.

Comair is die eerste lugdiens in Afrika suid van die Sahara wat die 737 Max sal gebruik, het Boeing verlede maand in ’n verklaring gesê.

Comair gebruik volgens sy webruimte reeds 16 Boeing 737-800’s.

Die Boeing 737 Max 8 is ’n verdere verbetering op die 737-800. Comair besit nege van sy eie Boeing 737-800’s en huur nog sewe by buitelandse verhuringsmaatskappye. Volgens sy webruimte het hy nog tien ouer generasie Boeing 737-400’s. Dis hulle wat met die jongste 737 Max 8 vervang gaan word.

* Hierdie berig is aangepas sedert dit aanvanklik gepubliseer is.

Meer oor:  Boeing Max 8  |  Ethiopië-Lugramp  |  Comair
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.