Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
LUISTER: Polisie sit foon neer toe vrou om hulp smeek

“Ja, daar is iemand in my huis. Ek woon direk oorkant die polisiekantoor in Table View. Help, asseblief.”

So het ’n 23-jarige vrou van Table View, Kaapstad, Woensdagoggend die polisie gesoebat nadat sy wakker geword het van voetstappe en ’n skaduwee in die huis.

Die vrou woon oorkant die straat van die Table View-polisiekantoor. Foto: Google Maps

Die vrou, wat anoniem wil bly uit vrees vir haar veiligheid, het eers vir haar suster ’n boodskap gestuur om te vra of sy en haar ma nog in die huis is.

Dit was nadat sy ’n geluid by haar ma se venster gehoor het, maar nie geweet het wat dit was nie.

Die vrou, haar suster en ma woon in dieselfde huis en die ma en suster is reeds douvoordag werk toe terwyl die vrou nog in die huis gelê en slaap het.

Die vrou het, nadat sy die boodskap gestuur het, voetstappe op die trappe in die huis gehoor en besef dat daar ’n vreemdeling in die huis is.

Sy het die polisie se 10111-noodnommer om 06:17 gebel en fluisterend gesê dat daar iemand in haar huis is en gevra dat die polisie moet kom. Ná 25 sekondes het die foon doodgegaan en moes sy noodgedwonge weer die noodnommer bel.

Die vrou se suster, wat ook anoniem wil bly, sê hulle dink die polisie het die foon in die vrou se oor neergesit omdat hulle nie haar naam kon spel nie.

Die vrou het die polisie weer om 06:19 gebel en weer fluisterend en na aan trane verduidelik dat daar ’n inbreker in haar huis is.

“Hallo, asseblief help my. Daar is iemand in my huis,” het die vrou met die tweede oproep gesê.

Die polisielid wat die telefoon beantwoord het, het vir bevestiging gevra dat daar iemand in die vrou se huis is.

Hallo, asseblief help my. Daar is iemand in my huis.

“Is daar iemand in jou huis?” het die polisielid gevra nadat die vrou reeds gesê het daar is iemand in die huis.

“Ja, ek woon direk oorkant die polisiekantoor,” het die vrou geantwoord.

Die polisielid het daarna haar adres gevra en die vrou gevra om dit vir hom te spel, waarna hy gevra het of daar iemand in haar erf is. Hy het haar kontakbesonderhede gevra voordat hy bevestig het dat hy die polisie sal stuur. Die lid wou ook eers weet hoeveel aanvallers daar is.

Die vrou het tranerig geantwoord dat sy nie weet nie.

Sy het aan Netwerk24 gesê dat daar moontlik ’n misverstand was, want dit blyk dat die operateur by die 10111-nooddiens gedink het die aanvaller is in haar erf en dat hy ’n mes by hom het.

Die vrou se suster sê die gesin se hond, Snoopy, was in die huis, maar kon niks doen nie, want hy is 12 jaar oud en doof.

“My suster se regtervoet en haar linkergroottoon is gebreek. Sy loop met ’n stewel en krukke en moet só ook by die trappe afgaan.”

Die vrou het ná die voorval gesê sy meen dat noodnommers daar is om iemand by te staan wat paniekerig is.

“Daar moet mense aan die ander kant van die lyn wees wat met jou kan kommunikeer en nie die foon in jou oor dooddruk nie,” sê sy.

Sy het al die ligte in die huis aangeskakel nadat die inbreker vort is. Sy was seker dat hy weg is nadat sy gehoor het hoe hy by haar ma se kamervenster uitklim. Sy het buite gewag vir die polisie om op te daag.

“Die polisie het verby my gery en toe gevra of ek oukei is. Ek het vir hulle gesê dat hulle na my soek, want ek het die polisie gebel.”

Sy sê die polisie het omstreeks 06:40 op die toneel aangekom en vir haar gesê dat sy die polisiekantoor direk moes bel.

Hulle het vir ons op skool geleer dat ons die 10111-noodnommer moet bel, maar ’n mens moet eintlik jou naaste polisiekantoor se nommer byderhand hê en hulle direk bel.

“Twee polisielede het opgedaag en saam met my die huis ingegaan. Ek het die man gevra om voor te loop. Hulle het net alles hande in die sakke bekyk, die gordyn weggetrek waar die man ingekom het en toe weer geloop. Een het ’n notaboek vasgehou, maar sy het niks neergeskryf nie. Hulle het nie eens vingerafdrukke geneem nie en net gevra of iets weg is”.

Die vrou sê dit het die polisie bykans 20 minute geneem om tot by haar, wat oorkant die polisiekantoor is, uit te kom. Sy sê sy het nou geleer dat ’n mens liewer jou naaste polisiekantoor uit die staanspoor moet skakel.

“Hulle het vir ons op skool geleer dat ons die 10111-noodnommer moet bel, maar ’n mens moet eintlik jou naaste polisiekantoor se nommer byderhand hê en hulle direk bel.”

Die vrou sê sy het later gehoor dat lede van die polisiekantoor oorkant haar huis binne drie minute uitgekom het nadat die 10111-nooddiens dié polisiekantoor gekontak het.

Dit blyk dat die inbreker op die tweede verdieping toegang tot die huis gekry het. Hy het vermoedelik by een van die vensters ingekom en weer by dieselfde venster uitgegaan.

Kapt. F.C. van Wyk, polisiewoordvoerder, sê die polisie kan nie kommentaar lewer voordat die vrou nie ’n klag teen die polisie ingedien en die saak deur die Onafhanklike Polisieondersoekdirektoraat (Opod) ondersoek is nie.

“Ons sal eers kommentaar kan lewer wanneer die ondersoek afgehandel is. Albei die partye moet die kans gegun word om hul kant van die saak te stel,” sê hy oor die bewering dat die polisie die foon in die vrou se oor doodgedruk het omdat hulle nie haar naam kon spel nie.

Meer oor:  Polisie  |  Table View  |  Kaapstad  |  10111
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.