Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Luisteraar pak Rian oor uitlatings oor God

Sosiale media is aan die gons oor ’n uitlating van die radio-omroeper Rian van Heerden op Jacaranda FM.

Rian van Heerden Foto: Mary-Ann Palmer

Van Heerden het Woensdagoggend op die ontbytprogram, The Complimentary Breakfast, oor die land se eerste gay rugbyspan, die Jozi Cats, gepraat en talle luisteraars het negatiewe kommentaar daaroor gelewer op die program se Facebook-blad.

Van Heerden het op die lug daarop reageer: “Enige God, en ek gee nie om of hy agt arms het en of hy ’n boom is nie; ek gee nie om wie jy aanbid nie, enige God wat mense oordeel oor hoe hulle gebore is en oor wie hulle gebore is, is nie werd om gedien te word nie,” het Van Heerden teen die agtergrond van orrelmusiek gesê.

“En ek staan by daardie stelling.”

Van Heerden is Vrydagoggend verder in die sosiale media aangevat nadat ’n luisteraar se video soos ’n veldbrand versprei het.

Die luisteraar, ene Johan Frederik Lee, het ’n video met ’n selfie-stok geneem waar hy ’n beroep doen op Jacaranda FM om “onmiddellik” van Van Heerden ontslae te raak. Hy het die video in die sosiale media gedeel.

“Hy vat sy persoonlike issues wat hy het oor sy seksuele oriëntasie, wat hy by almal wil afsmeer as aanvaarbaar. En dan gaan spreek hy goed op ’n radiostasie soos vanoggend. Enige God, of ’n god, wat nie gay mense aanvaar nie, is nie waardig om gedien te word nie (sic),” sê Lee in sy video.

Dié video is meer as 19 000 keer op Facebook gedeel en het tot by Van Heerden se broer, Mardo, uitgekom.

Mardo het egter Donderdag op Van Heerden se Facebook-blad geskryf dat hy “trots is om hom sy broer te noem”.

“Jy vind dit nooit nodig om jouself te probeer verdedig teen die publieke aanslae nie.”

Van Heerden het Vrydagoggend ’n klankgreep van sy stelling op sy Facebook-blad gedeel en geskryf: “Dit is wat ek op die lug gesê het. Ek staan by my stelling. Lukas 6:37.”

Hy het by navraag aan Netwerk24 gesê hy volstaan by sy kommentaar op Twitter en Facebook. 

Talle luisteraars het Van Heerden ondersteun. Die akteur en televisieaanbieder Bouwer Bosch het hom ook by Van Heerden geskaar.

“Daar was meer judgement in Johan Frederik Lee se selfie stick-video as in Rian van Heerden se 15 sekonde lange opinie oor gays en gode,” het Bosch op Facebook gesê.

“Ons respekteer diversiteit, vryheid van spraak en verdraagsaamheid,” was Kevin Fine, stasiebestuurder van Jacaranda FM se enigste kommentaar. Hy wou nie verder uitwei of kommentaar lewer nie.

Wat Rian van Heerden gesê het:


Wat Johan Frederik Lee gesê het:

https://www.facebook.com/johanlovejesus/videos/10207195868549641/



MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.