Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Luukse lewe voor bloedbad

Die Meyer-gesin wat met ’n .22-geweer uitgewis is, het op die kruin van hul rojale lewe met eksotiese wild gespekuleer en vir mekaar peperduur verjaardaggeskenke gekoop.

Die Meyers. Luhan (58), Theresa (58), Luhann (10) en Lurese (12).

Inwoners van Jacobsdal, op die grens tussen die Vrystaat en Noord-Kaap, sê die nederige kliphuisie in die Cederberge waarin Theresa (58), Luhan (58), Lurese (12) en Luhann (10) se lyke gevind is, rym glad nie met die ryk Meyers van die plaas Gannahoek wat hulle geken het nie.

Inligting wys Theresa was al so vroeg as 2017 in skuldberading en twee banke het haar kredietkaartskuld van onderskeidelik R85 485 en R90 866 afgeskryf. Die Jacobsdallers was verras toe hulle by Rapport hoor Theresa was voorheen ’n bankklerk.

Sy het van die Vrystaatse Goudveld getrek toe sy in 2006 met Luhan, toe ’n lusernboer, getroud is.

Saterdag het ’n voormalige buurvrou aan Rapport gesê die Meyers “was baie weird mense wat baie rojaal gelewe en alles net van die beste en duurste geniet het”.

Die kliphuisie waarin die gesin dood is.

Op Luhan se verjaardag het die dorp gegons nadat Theresa vir hom ’n splinternuwe Land Cruiser gekoop het.

“Hulle was nie mense wat kerk toe gaan nie, so jy het hulle maar baie min regtig gesien,” sê die buurvrou.

Almal het wel geweet van die deftige nuwe lodge wat op die plaas gebou is.

En toe Luhan ’n dubbeldraad begin span het om luiperds aan te hou, het boere van die omgewing halt geroep uit vrees vir hul kinders se veiligheid.

“Luhan het met wedrenduiwe gevlieg, ook van die duurste.”

Theresa het aan haar prokureur in dié saak geskryf dat hulle geldelik só geruïneer is dat hulle “nie meer lig in die donker tonnel sien nie”.

Nog ’n inwoner sê Theresa het “duidelik die geldsak gedra”.

Toe op ’n dag in 2011 het inwoners skielik gesien die plaas word op ’n veiling verkoop. Die hekke was gesluit. Dit was die laaste sien van die Meyers.

Een van die inwoners wat die veiling bygewoon het, sê hulle was verbaas oor baie van die items soos splinternuwe, ongebruike plaasgereedskap en pakke teëls wat nog toegemaak was.

“Die mense was dalk nie regtig boere nie,” sê sy.

Dit wil nou voorkom of die Meyers die afgelope tien jaar eerder met skuld geboer het. ’n Hofuitspraak van die hooggeregshof in Bloemfontein van 2011 wys dat die kaartehuis in daardie jaar begin tuimel het. Die nasionale vervolgingsgesag het ’n bewaringsbevel teen die bates van die ouerpaar en hul kinders gekry omdat dit vermoedelik opbrengste van misdaad was.

Theresa Meyer se seuns, Rian (links) en Dewald Coutts. Foto: Edrea du Toit

Luhan het destyds aan die hof gesê sy vrou betaal hom ’n “salaris” van R25 000 per maand en verder weet hy van g’n sout of water nie.

Regter Faan Hancke het nie gebyt aan die Meyer-egpaar se stories nie en gesê dis duidelik Theresa het vir haar man “geskenke” gegee en dat hy deel was van die misdaadbedrywighede.

Die Meyers se plaas is in 2011 verkoop vir R7,8 miljoen en hulle het na Margate aan die KwaZulu-Natalse suidkus getrek waar hulle ’n motorhandelaarsaak bedryf het voordat hulle in 2017 na Moorreesburg in die Swartland getrek het. Kort voor hul dood het die paar ’n sukkelende hardewarewinkel op ’n buurdorp, Riebeek-Wes, bedryf, wat later aan ’n Gautenger verkoop is.

Die egpaar het met hul dood steeds tereggestaan op meer as 70 aanklagte van onder meer rampokkery en bedrog. Dit dateer uit die tyd toe hulle in die Vrystaat was en hou verband met beweerde bedrieglike finansieringstransaksies vir vragmotors.

Netwerk24 berig Theresa het aan haar prokureur in dié saak geskryf dat hulle geldelik só geruïneer is dat hulle “nie meer lig in die donker tonnel sien nie”. Sy het geskryf dat “vier lewens reeds verwoes” sou wees teen die tyd wat die prokureur die brief lees.

Die Fortuner waarmee die Meyers by die kliphuis aangekom het.

Die Meyers was “private mense”, sê bure in Keeromstraat, Moorreesburg, die afgelope week. ’n Buurman het soms na Luhan se wedvlugduiwe en twee labradors omgesien.

“Meyer”, soos Theresa en Keeromstraat se kinders Luhan genoem het, het die kinders met wiskunde gehelp.

’n Buurvrou sê Theresa het die laaste ruk pal swart klere gedra. Kort voor die gesin se vertrek na die Cederberge het sy haar voor Pep Stores op die dorp raakgeloop. “Sy was in ’n moeilike bui op haar selfoon en het kliphard gesê: ‘Maar dit móés al daar gewees het!’.”

“Theresa het bitter min geslaap, nooit voor 2:00 die oggend nie. Sy het vir my gesê sy sukkel om te slaap.”

Kort voor die gesin se vertrek op 18 Junie het Theresa in briewe aan haar twee volwasse seuns uit ’n vorige huwelik geskryf sy sal altyd vir hul lief wees. Theresa het ’n historiese en spartaans gemeubileerde kliphuisie diep in die berge en meer as twee uur vanaf Moorreesburg vir een dag bespreek.

’n Man van ’n buurplaas het nege dae ná hul aankoms – op 27 Junie – op die lyke afgekom nadat die eienaar hom gevra het om te gaan kyk. Die huisies kan net met ’n 4x4 bereik word.

Hy sê toe hy daar aankom, het die geweldige stank van ontbinding en die swerm vlieë hom gevang. “Almal het op beddens gelê. Die man in ’n kortbroek en sokkies regs op die dubbelbed, die seun op sy rug, die meisietjie het ’n kussing voor haar kop gehad, asof sy lekker slaap. O ja, ook die .22-geweer, tussen die man en die vrou. Sy het ’n wond aan die linkerslaap gehad.

“Op die tafel was ’n halfvol bottel Coke en ’n handsak.

“Die polisie het die Toyota Fortuner uitgepak en van wat ek kon sien, was daar nie kos ingepak nie. Ek het ’n cooler bag met ses rolls in gesien. Dié mense het nie gekom om lank te bly nie.”

Die polisie het ’n nota in die handsak gevind dat hulle “Dewald Coutts”, haar een seun, moet bel. Dewald (27), ’n apteker van Margate, het Vrydag in Moorreesburg aan Rapport gesê hy kon nog nie asem skep nie.

Hy en sy broer Rian (24), ’n dieetkundige van Wolmaransstad in Noordwes, het toe pas klere van die Meyer-familie by die plaaslike kinderhuis gaan aflaai.

“Ons het nog nie tyd gehad om te rou nie,” sê Dewald.

Hy sê sy ma het ’n dag voor hul vertrek na die Cederberge vir hom ’n WhatsApp gestuur. “Dat sy altyd lief vir my sal wees.”

Rian moes die lyke op Vredendal gaan uitken, want Dewald het nie kans gesien nie. “O nee, ek was nie in staat nie. Ek wil hulle onthou soos hulle was.”

Sy kleinsus wou ook apteker word, vertel hy. “Sy was ons inspirasie, ’n energiebal.” Sy kleinboet was ’n “woelige een”.

Van hul ma se botsing met die gereg weet hulle niks nie, sê Dewald. “My ma was ’n sakevrou. Haar ouers was besigheidsmense. Sy het haar goeters privaat gehou.”

Oor die skiet-tragedie: “Mense sê my ma het geskiet. Hoe weet jy dit? Dít is nog nie deur die polisie bevestig nie. Ons het gehoor daar was nie vingerafdrukke op die sneller nie.”

Dewald steek ’n sigaret op en vra verskoning vir die rookwalms. Kringe sit om sy oë.

“O ja, ek het my ma se klere uitgepak. Sy het nie swart klere nie – bloues en bontes, ja.”

Soos die pienk hemp van sy ma waarin hy nou noodgedwonge slaap omdat hy in sy haas nie baie klere saamgebring het nie.

Die Meyer-familie word Dinsdag in die Drakenstein-krematorium in die Paarl veras. Dewald en Rian gaan al môre terug.

Die as moet vir hulle gepos word, sê Dewald. Hy wil dit by hom by die see hou.

Kapt. Frederick van Wyk, ’n polisiewoordvoerder, sê die polisie ondersoek ’n saak van moord en het met geregtelike doodsondersoeke begin.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.