Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Luukse Toskaanse villa van Boet Troskie opgeveil
Een van die foto’s van die huis in Constantia wat op 29 Julie opgeveil word. Foto: https://claremart.co.za

Die luukse Toskaanse-villa van Boet Troskie, rolprentmagnaat wat onder meer The Gods must be Crazy, (met sy bekende Coke-bottel-toneel) vervaardig het, sal oor twee weke opgeveil word. Die villa is in die Kaapse rykmansbuurt Constantia.

Dié stap kom om geld te delg nadat die hooggeregshof in Bloemfontein Boet Troskie Kindertrust in 2019 insolvent verklaar het.

As ’n mens na die foto’s van die huis op die afslaer ClareMart se webtuiste kyk, spog die huis met ’n uitsig op die berg en het vyf badkamers, vyf kamers, vier motorhuise met parkeerplek vir tien motors en ’n swembad.

Die veiling is die nadraai van skuld van R290 miljoen aan Absa wat kom van 2017 en die bank se suksesvolle aansoek teen die trust.

Regter Celéste Reinders het in 2019 in haar uitspraak bevind die trust se laste het sy bates oorskry en dat hy boonop ’n daad van insolvensie gepleeg het.

Netwerk24 het vroeër berig B&B besit die Unyati-wildreservaat naby Warrenton in die Noord-Kaap.

’n Foto op ClareMart se webtuiste van Boet Troskie se huis vanuit die lug geneem. Foto: Claremart

Absa het in sy aansoek beweer dat B&B hom steeds meer as R173 miljoen skuld nadat dié wildboerdery by Warrenton as lopende onderneming verkoop is. Die bank het ook ’n leningsrekening opgeëis wat die trust aan B&B Eiendomme skuld.

Die bank het ook beweer dié skuld is meer as R70 miljoen, terwyl die trust sê dit is net meer as R40 miljoen.

Volgens Absa het die trust geldelike probleme gehad en het binne ’n jaar erg agteruitgegaan.

In 2017 was die trust se waarde R398,4 miljoen, maar in 2019 het dit tot R53 miljoen gedaal.

Netwerk24 het berig die tekort in die trust het van R136,8 miljoen in 2017 tot R346,4 miljoen tans toegeneem. Die lopende uitgawes van die trust het van R5,6 miljoen in 2017 tot R52,1 miljoen in 2018 verhoog, het Absa in hofstukke beweer.

In dié hofdokumente is genoem dat die trust ’n beleggingseenheid is wat eiendomme in bekende rykmansbuurte soos Constantia in Kaapstad, Fancourt in George en St. Francisbaai besit, asook aandele in verskeie maatskappye.

Dit is een van dié eiendomme in Constantia wat op 29 Julie opgeveil word.

Volgens ClareMart word ’n luukse Toskaanse villa in Constantia van die “insolvente boedel Boet Troskie Kinder Trust – Meestersverwysingsno. 841/20182” op 29 Julie aanlyn opgeveil.

Die advertensie van Boet Troskie se huis in Constantia in Januarie 2019. Foto: https://www.property24.com/for-sale/constantia/cape-town/western-cape/11742/104956207

Luidens die webtuiste kan mense op 29 Julie van 09:00 tot 16:00 slegs aanlyn bie. Mense moet hulle voor Dinsdag 28 Julie om 14:00 registreer en die registrasiegeld beloop R20 000.

Die tariewe en belasting beloop maandeliks R20 334,84. Die huis se prys word egter nie bekend gemaak nie en is net op aanvraag beskikbaar.

Die eiendom word op die webtuiste beskryf as “pragtig” met luukse kenmerke soos ’n kombuis wat aan ’n sjef se standaarde voldoen, ’n wynproelokaal, en ’n buitenshuise braaivertrek (met ’n pizza-oond) wat na die tuin lei. Daar is ook drie ontvangskamers, ’n familiekamer, eetkamer, sitkamer, studeerkamer, stoorkamer, ’n kleedkamer vir gaste, waskamer, drie kaggels, wynkelder, ’n elektroniese kamer met sy eie kragopwekker, sekuriteit en boorgate. Die meubels kan afsonderlik gekoop word. Die erf beslaan 8 210 m² en die gebou is 1 320 m² groot. Die eiendom is in Leithstraat 8, Constantia, geleë.

Die huis was volgens Property 24 in Januarie 2019 vir R42 miljoen op die mark.

ClareMart is om kommentaar genader oor die ander twee eiendomme, ’n huis op die Fancourt-gholflandgoed in George, en ’n oop erf, wat na verneem word ook onder die hamer gaan kom. Sodra dit ontvang word, sal dit bygewerk word.

Troskie en sy seun Jaco is ook om kommentaar genader. Sodra dit ontvang word, sal dit bygewerk word.


Meer oor:  Constantia  |  Veiling
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.