Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Lyk in bad ná sy jaar vir hom sorg

Rina Groenewald (69) het die 26-jarige Skye Cody Olckers onder haar vlerk geneem en ’n jaar lank vir hom gesorg.

Nou beweer die polisie hy het haar in haar tuinwoonstel in Henley on Klip vermoor.

Vermoor: Rina Groenewald

Groenewald, wat op ’n Sassa-pensioen geleef het, se lyk is kaal in haar bad gekry. Sy is verwurg met die pyp wat die stortkop met die krane verbind.

Volgens haar suster, Jane Grobler (57) van Klerksdorp, het Groenewald Olckers verlede jaar by ’n selfoonwinkel in Alberton ontmoet toe hy haar telefoon herstel het.

Hulle het begin gesels en toe hy kort daarna afgedank is, het hy by haar ingetrek.

Nie lank nie, toe het Olckers se ma en stiefpa ook vir ’n ruk daar kom bly.

Ná Catherina (Rina) Groenewald (69) se dood het haar vermeende moordenaar, Skye Cody Olckers (26), glo van haar meubels aanlyn probeer verkoop.

Grobler sê hulle het haar suster teen dié mense gewaarsku, maar Groenewald het ’n goeie hart gehad.

“Sy wou nie luister nie en het net gesê: ‘Elke mens het bietjie goed in hulle. Jy moet net daarvoor soek.’ En nou is sy dood,” sê Grobler hartseer.

“My sussie was só maer, die ene ribbes. ’n Mens kon haar skaars ’n drukkie gee of sy kry seer. Dit was vreeslik toe ons op haar lyk afkom,” sê Grobler.

Groenewald het haar woonstel in Alberton begin vanjaar verkoop. “Van Maart tot Augustus is sy en daardie man deur R300 000 van haar geld.”

Skye Cody Olckers (26) met sy arrestasie Donderdag in KwaZulu-Natal.

Groenewald het op die ou end ’n woonstel in iemand se erf in Henley on Klip gehuur. “Toe ons weer hoor, het Olckers ook daar ingetrek. Ons het die landlord gevra om ’n oog te hou en hy het gesê die man slaap snags op die rusbank in die TV-kamer,” sê Grobler.

“Ek het so ’n nare gevoel gehad en haar gevra of alles oukei is. Sy het toe gesê sy raak bang vir die man. Dit was einde Julie,” sê Grobler.

Haar suster het Olckers glo ’n paar keer weggejaag, maar hy het elke keer teruggekom.

Op 23 Augustus het die twee susters die laaste keer met mekaar oor die telefoon gepraat.

“Daarna het ons nog die volgende dag, soos elke ander dag, oor WhatsApp gepraat. Op 25 Augustus het ek weer ’n boodskap gestuur wat sy gelees het, maar ek het nooit weer van haar gehoor nie,” sê Grobler.

Sy het vier dae lank probeer bel, maar geen antwoord gekry nie.

“Ons het op 2 September haar kaal lyk in haar bad gekry. Dit was verskriklik, sy het met een hand onder haar lyf in die water gelê, maar dit het gelyk asof sy met die ander hand probeer terugveg het.”

Ná die moord het iemand Grobler laat weet dat Olckers van haar suster se meubels op die internet adverteer.

Donderdagaand het die polisie hom in Escombe in KwaZulu-Natal in hegtenis geneem.

Meer oor:  Skye Cody Olckers  |  Rina Groenewald  |  Moord
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.