Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Lyk op Tafelberg dalk dié van vermiste vrou

Die lyk wat Dinsdagmiddag op Tafelberg gevind is, is vermoedelik dié van ’n Gordonsbaaise vrou wat sedert Vrydag vermis is.

Die polisie het dit egter nog nie bevestig nie en Colette Eksteen (48) se dogter Bianca Gouws sê sy wag ook nog op die polisie.

“Hulle is nog besig en hulle het belowe hulle sal my bel. Ek wag maar om van hulle te hoor. Ek wag en bid maar net en vertrou op die Here,” sê sy.

Die vermiste Colette Eksteen. Die polisie het nog nie bevestig dat dit haar lyk is wat op Tafelberg gevind is nie. Foto: Facebook/Bianca Gouws

Die provinsiale nooddiens het Dinsdag omstreeks 13:30 op die lyk afgekom, luidens ’n verklaring.

Deanna Bessick, woordvoerder van die provinsiale nooddiens, sê dit is vermoedelik Eksteen se lyk.

’n Hommeltuig is onder meer ingespan om na haar te soek nadat haar ligblou rugsak Sondagoggend op die Indië-venster-staproete gevind is.

“Die vrou het vermoedelik van die berg af geval of gespring,” sê Bessick.

“Die lyk is uiteindelik gevind deur die reddingspan wat te voet met die soektog gehelp het, aangesien daar bosse was wat die uitsig vir die hommeltuig-tegnikus belemmer het.

“Ons wil ons innige meegevoel oordra aan die familie en vriende van die oorledene.”

Die plek waar Armani Minani Colette Eksteen se rugsak Sondag op Tafelberg gekry het. Foto: Verskaf

Die polisie het bevestig dat ’n lyk gevind is, maar volgens sers. Noloyiso Rwexana, polisiewoordvoerder, is die oorledene nog nie geïdentifiseer nie.

Die lyk is na verneem word aan die onderkant van ’n 110 m hoë afgrond gekry. Dit is nie bekend of dit naby Indië-venster was nie.

Gouws het Dinsdag uit die Vrystaat, waar sy woon, in Kaapstad aangekom om na haar ma te help soek.

Sy was rasend van bekommernis nadat haar ma Vrydag in ’n briefie aan haar kêrel gesê het sy is op ’n “missie” na Tafelberg. Eksteen het glo te voet die pad gevat in die rigting van Stellenbosch, waar haar kêrel haar langs die R44 gekry het.

Operateurs van die hommeltuig wat Dinsdagoggend in die soektog gebruik is. Die lyk is uiteindelik deur grondspanne gevind omdat bosse die hommeltuigoperateurs se sig belemmer het. Foto: Verskaf

Sy het glo net ’n entjie saamgery en toe uit die voertuig gespring en weggehardloop. Eksteen se selfoon is sedert Vrydag af.

Die Indië-venster-staproete is een van die direkste roetes na die drie hoofklimplekke op Tafelberg en loop onderdeur die sweefspoor.

Armani Minani van Rondebosch en sy vriende Keenan Rishworth en Dominique Anderson het die roete Sondagoggend gestap en die blou rugsak naby een van die boonste bakens op die roete gekry.

Volgens Bessick is die lyk Dinsdag deur beamptes van Wildernis-Soek-en-Redding van die berg verwyder, maar ongelyke terrein het hul taak bemoeilik.

Meer oor:  Colette Eksteen  |  Bianca Gouws  |  Gordonsbaai  |  Tafelberg  |  Vermis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.