Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Lyk sy soos iemand wat nie beseer is?
Chandré Williams is as invalide in ‘n rolstoel en hulpeloos weens ‘n padongeluk in 2018. Agter is haar suster, Natasha Coetzee. Coetzee is onlangs as kurator van Williams se persoon aangestel. Foto: Elizabeth Sejake

’n 21-jarige vrou wat ná ’n aaklige botsing in 2018 ’n invalide is en waarskynlik jare vir ’n uitbetaling van skadevergoeding uit die Padongelukkefonds (POF) sal moet wag, het onlangs ’n onverwagse plesiertjie geniet: Om vir die eerste keer in twee jaar ’n sjokolade-melkskommel deur ’n strooitjie te drink.

Om dít te kon doen, moes Chandré Williams (21) van voor af leer sluk.

’n Lang herstelpad lê voor vir dié eens sprankelende meisie wat in 2018 ernstige breinskade opgedoen het toe ’n vragmotor van agter in haar Daihatsu Charade-karretjie vasgery het.

Intussen is die R17 miljoen-eis wat haar suster, Natasha Coetzee (37), verlede jaar teen die POF ingedien het, net een van hordes eise wat instroom by ’n staatsinstelling wat diep in die moeilikheid is.

Williams is totaal hulpeloos, moet volwasse doeke dra en kry buisvoeding.

Tog ontken die POF – soos in alle sake – dat sy hoegenaamd beseer is en verwys in die hofstukke na Williams as “hy”.

Coetzee is haar sussie se wettige voog nadat die twee se ma sewe jaar gelede aan kanker oorlede is en is in Oktober met haar suster se mondigwording ook as haar kurator aangestel. Sy het aan Rapport gesê dit gaan finansieel broekskeur terwyl hulle wag dat die eis verwerk word.

Williams bly in die Medifrail-sentrum vir verswakte bejaardes in Centurion en Coetzee in Rietfontein, Pretoria.

Coetzee sê hulle hou net-net kop bo water met haar eie salaris en weldoeners se skenkings.

Sy kon nie ’n heeltydse tuisversorger vir haar suster kry nie. “ ’n Gewone salaristrekker kan dit nie bekostig nie.”

Chandré Williams die dag van haar matriekafskeid in 2017. Sy was in die Hoërskool Oos-Moot in Pretoria.

Williams is ook afhanklik van Coetzee se mediese fonds. Volgende jaar begin intensiewe terapie en wag ’n rits operasies.

“Dit was Williams, soos ons haar noem, se droom om ’n fisioterapeut te word. In haar gap-jaar ná matriek het sy by Mr Video gewerk en wou haar wiskunde-punte opkry met na-uurse klasse. Ek het vir haar die karretjie gekoop. Sy het hom twee weke gehad toe die ongeluk gebeur het. Die vragmotor het op die hoofweg van agter in haar vasgery. Dit was nie haar skuld nie.”

Williams was ’n maand lank in ’n koma.

Dokters het dinge gesê soos “hulle glo nie sy gaan dit maak nie” en “ons moet regmaak vir die ergste”.

“En hier is sy steeds!”

Coetzee bring elke tweede week buisvoeding na Medifrail wat sy by die huis maak. “Dis ’n sop-storie. Ek maak dit van lewer, maalvleis en groente.”

Dit word dan by haar suster se maag ingepomp.

Omdat sy nie behoorlik kan sluk nie, kan sy net dik vloeistowwe soos jogurt en vla eet.

Sy kan al McDonald’s en chocolates sê.

“Williams het klankies begin maak en weet presies wat om haar aangaan,” sê Coetzee. Sy lag vir mense se grappies en steek haar hand uit vir ’n druk, of haar elmboog vir die “Covid-19-groet”.

“Sy kan al McDonald’s en chocolates sê.”

En dis hoe hulle besef het wat sy mis. Toe Coetzee haar onlangs tandarts toe neem, het Williams op pad terug huis toe “McDonald’s” gesê. Omdat sy nie ’n hamburger kan eet nie, het Coetzee vir haar ’n melkskommel gekoop. “Sy het dit verslind deur die strooitjie.

“Sy kan nommers en klere uitwys, ook waar sy pyn het. Soms raak sy gefrustreerd, want sy wil kommunikeer, maar kan nie. Maar sy is altyd vriendelik.”

Haar hande is ineengekrimp. ’n Terapeut gaan nou die spiere in haar vingers begin “losmaak” voordat sy in Januarie ’n operasie aan haar hande ondergaan.

’n Spraakterapeut moet haar leer om te praat en behoorlik te sluk. Tussen die operasies moet sy fisioterapie kry.

Volgens Coetzee se prokureur, J.P. Rudd van die regsfirma Adams & Adams, is R10 miljoen van die eisbedrag vir toekomstige hospitaal-, mediese en verwante koste soos aanpassings en toestelle vir Williams se nuwe leefstyl. Rudd sê hulle hoop om die eis teen die einde van volgende jaar of vroeg in 2022 afgehandel te hê. Luidens hofstukke is dit egter “alombekend dat die POF traag is in litigasie omdat hy die dienste van sy paneel prokureurs beëindig het”.

In die eis word beweer die vragmotor het gejaag en nie betyds gerem nie. Die POF, wat die eis teenstaan, ontken in sy verweerskrif die vragmotorbestuurder was nalatig.

Collins Letsoalo, die POF se uitvoerende hoof, het vroeër in November in hofstukke oor die fonds se geldsake gesê ’n regrukstrategie bestaan, maar intussen raak die finansiële posisie meer benard weens ’n reusegaping tussen die fonds se inkomste en uitgawes.

Meer oor:  Chandré Williams  |  Invalide  |  Herstelpad  |  Padongelukkefonds  |  Botsing  |  Breinskade
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.