Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Lyk van Tukkie-student met skietwond in kop gevind

Die lyk van die Tukkie-student Stephen Nieuwoudt (19) wat sedert Sondag vermis is, is Dinsdagoggend in die Platberg-natuurreservaat by Harrismith met ’n skietwond in die kop gekry.

Brig. Motantsi Makhele, polisiewoordvoerder, sê ’n groot soektog na Stephen is deur die polisie en honde-eenheid van Bethlehem en die plaaslike gemeenskap uitgevoer.

Stephen se lyk is by die voet van die Platberg in die botaniese tuin buite Harrismith gekry.

’n Geweer is langs sy lyk gekry. Geen misdaad word in dié stadium vermoed nie en ’n dossier vir ’n nadoodse ondersoek sal geopen word.

Stephen het sy ouerhuis in Harrismith Sondag om 17:00 in ’n grys top en grys langbroek in sy Volkswagen Polo verlaat om glo by ’n vriend te gaan oorslaap. Hy het glo net ’n rugsak by hom gehad, is betroubaar verneem.

stephen
Stephen Nieuwoudt (19)Foto: Verskaf

Sy lyk is Dinsdag glo gekry sowat 500 m van waar sy motor vroeër in die natuurreservaat gekry is.

Stephen het verlede jaar matriek aan die Hoërskool Witteberg in Bethlehem in die Oos-Vrystaat geslaag met ses onderskeidings. Hy is “briljant slim” genoem.

Netwerk24 verneem hy was ’n eerstejaarstudent aan die Universiteit van Pretoria waar hy vir ’n aktuaris studeer het, maar dat hy tydens die inperking by sy ouers in Harrismith gebly het.

Volgens ’n familievriendin, Carlien Heydenrich, is Stephen Sondag by sy ouers, Steve en Lu Nieuwoudt, se huis weg, maar hy het nooit by die huis van die vriend waar hy sou oorslaap, aangekom nie. Die vriend het ook nie geweet dat Stephan daar sou kom oorslaap nie.

Lu is hoof van die Platberg-kleuterskool in Harrismith.

Steve Nieuwoudt, Stephen se pa, sê die gesin is stukkend.

“Ons weet nie wat om te doen nie. Stephen het nie gepraat nie. Ons het niks vermoed nie. “Ons dink maar hy het gestres oor die Covid-19 en die feit dat hy nie nou universiteit toe kon gaan nie. Sy studie was straf. Dit is al wat ons kan dink.”

Hannes Oosthuizen, waarnemende hoof van die Hoërskool Witteberg, het Dinsdag in ’n huldeblyk geskryf: “Dit is met innige meegevoel dat ons as Witteberg-gemeenskap kennis geneem het van Stephen Nieuwoudt, ’n oudleerling wat in 2019 by ons skool gematrikuleer het, se afsterwe. Die nuus het ons as gemeenskap geruk en elkeen wat die voorreg gehad het om Stephan te ken, hetsy as vriend of as opvoeder, weet dat sy gelyke skaars is.

“As voormalige skolier by Witteberg was hy ’n uitstaande akademikus wat met vriendelikheid en rustigheid gewys het dat hy van die begin af anders as die res was.

“Hy het in 2019 in die Nasionale Seniorsertifikaat-eksamen ses onderskeidings behaal en is ook aangewys as een van die top-50 matrikulante van die Vrystaat.”

Oosthuizen sê dat die onderskeidings ’n regverdige beloning vir die jong man se harde werk was.

“In my eie klas kan ek onomwonde erken dat hy een van die begaafste leerlinge was wat ek tot nog toe onderrig het. Wat ek die meeste gaan mis, is die kyk in sy oë wanneer hy vyf stappe vooruit geredeneer het sonder om dit aan almal te openbaar.

“Sy kennis en denkvermoë was bogemiddeld, maar hy het altyd nederig gebly. Die wêreld was beslis oop voor hom.

“As oudleerling, vriend, koshuisbroer en as besonderse en unieke mens, gaan sy plek nou gemis word.

“Wittebergers sal altyd wanneer hul sy naam teen ons muur van herinnering lees, aan hom dink. Ons groet jou met baie hartseer, Stephen . . .”

Meer oor:  Harrismith  |  Gevind  |  Skietwond  |  Student  |  Lyk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.