Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Lyk wat in Paarl gekry is, uitgeken as vermiste man

Die lyk van ’n man in sy 30’s wat Maandag in die bosse in die Dal Josafat-omgewing naby die Paarl gevind is, is beslis dié van Jaco van Papendorp (34).

Hy was sedert Vrydag vermis.

Ná ’n polisiesoektog is sy erg ontbinde lyk in ’n beboste gebied gevind.

Sy pa, André van Papendorp, het hom Dinsdag uitgeken.

“Dit is my kind,” het Van Papendorp Dinsdagaand gesê.

“Ek kon hom nie persoonlik sien nie omdat die ontbinding reeds in ’n gevorderde stadium was, maar hulle het foto’s aan my gewys wat hom geïdentifiseer het.”

Die warm weer in die Paarl oor die naweek het bygedra tot die gevorderde stadium van ontbinding.

Volgens Van Papendorp het Jaco kenmerkende tatoeëermerke op sy binne-arms gehad, asook ’n tatoeëermerk van ’n swart potspelbal. Hy het ook skoene aangehad van die handelsnaam Cat, met rooi veters, wat sy pa herken het.

“Ons is besig met reëlings vir ’n roudiens en sy verassing,” sê Van Papendorp.

Daar is Maandag berig dat Jaco Vrydag laas deur sy verloofde, Esté van der Merwe, gesien is toe hy van haar ma se huis in haar motor weggery het. Hy was glo op pad om houtwerk in die Dal Josafat-omgewing te doen soos sy gewoonte was.

Van Papendorp sê Jaco was werkloos en het daagliks op ’n oop stuk sementblad gaan sit en goedjies gemaak om te verkoop.

’n Ooggetuie het Van Papendorp gekontak en gesê hulle het gesien hoe twee mans Jaco nader.

“Dit klink my die mans het hom besteel en in Esté se motor ontvoer.”

Van Papendorp was Maandag in die omgewing waar die lyk gevind is en volgens hom het dit voorgekom asof die persoon wat daar gevind is op een plek vermoor is en sy lyk na dié bebosde gebied verskuif is.

“Ek het die polisie gevra om my toe te laat om te kyk of dit my seun is. Ek moes net weet. Ek het die vorige nag nie ’n oog toegemaak nie, ook nie nadat ek ’n slaappil ingehad het nie," sê Van Papendorp.

“Die polisieman het geweier. Ek het gesê ek was in die weermag in Angola, ek ken die dood. Ek wil net weet of dit hy is. Die polisieman het net sy kop geskud.”

Van Papendorp het Dinsdagoggend gegaan om Jaco uit te ken en finaal geweet sy seun is weg. Hy sê hy sal hom onthou as ’n spontane mens wat baie vriende gehad het en gewild was.

“Hy het maar die afgelope vier jaar in ’n donker plek beland en hy het gesukkel met dwelmverslawing. Hy was ’n sterk man en het probeer om weer terug op sy voete te kom, maar die inperking het klaarblyklik dinge vererger.”

Jaco is Van Papendorp en sy vervreemde vrou, Monica, se oudste seun. Hulle het nog twee seuns, Stefan en Morné.

“Daar is oomblikke wanneer dit baie swaar is en ek huil. Ander kere is ek weer oukei. Saterdagaand het God vir my Psalm 31 gestuur om te lees en ek het daarin vertroosting gevind.”

Die polisie is besig met ’n geregtelike doodsondersoek.

Meer oor:  Paarl  |  Vermiste Man
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.