Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Lykbesorger ontken daar was 106 lyke op vragmotor

Funerals Direct, ’n begrafnisonderneming in Parow, sê daar was nie 106 lyke op die vragmotor wat Saterdag by Somerset-Wes afgetrek is nie.

Fredelene Knowles, direkteur van Funerals Direct, het ook gesê hulle het nie gedink dat die 8 ton-vragmotor oorlaai was nie. “Daar was 92 lyke op die vragmotor.”

Volgens haar moes hulle nadat die vragmotor afgetrek is ’n 6 ton-vragmotor kry en 29 kiste van die ander trok oorlaai. Beide vragmotors is toe Oos-Kaap toe.

Knowles kon nie aan Netwerk24 sê wat die gemiddelde gewig van ’n kis is nie.

Netwerk24 het voorheen berig dat die owerhede die vragmotor, wat volgens die polisie se verslag 106 lyke vervoer het, Saterdag op die N2 net buite Somerset-Wes afgetrek het. Die vragmotor was nie verkoel nie.

Daar is bevestig dat die bestuurder van die vragmotor se dokumentasie in orde was en dat hy geen regulasies oortree het nie.

Die polisie het ook bevestig dat hulle nie die voorval gaan ondersoek dat die vragmotor nie verkoel was nie.

Ons kan nie families laat wag nie. Ek het kliënte wat ek gelukkig moet hou.

Knowles het gesê sy verstaan nie hoekom die vragmotor, wat ’n gehuurde voertuig was, verkoeling nodig gehad het nie.

“Die lyke gaan om veras te word. Gewoonlik ry die vragmotor 01:00 in die nag en kom dan die oggend omstreeks 07:00 by die bestemming aan. Dan is die lug koel. Omdat die vragmotor afgetrek is, was daar ’n vertraging en kon dit eers weer in die middag vertrek.”

Knowles het gesê hulle verkeer onder druk om die lyke te veras omdat verskeie begrafnisondernemers hulle nader om te help omdat hulle glo in die krematoriums in Maitland en Drakenstein opgehou word.

“Die families is ongelukkig daarmee om so lank te wag. Die mense betaal om ’n diens te kry. Jy kan nie verwag dat hulle begrafnis moet hou en dan weke later die as ontvang nie. Ons ry dus deur Oos-Kaap toe omdat daar ’n agterstand in die Wes-Kaap is.”

Knowles het gesê slegs ’n derde van die lyke was van mense wat aan Covid-19 dood is.

Sy het gesê sy is raadop, want sy doen die werk al sowat vyf jaar. “Die probleem moet opgelos word, want die pandemie is nog nie verby nie. Die mense het dienste nodig. Ons kan nie families laat wag nie. Ek het kliënte wat ek gelukkig moet hou.”

Sy het gesê sy hoop om eendag haar eie krematorium te open waar sy self die diens aan mense kan verskaf.

Mark van der Heever, woordvoerder vir die provinsiale departement van gesondheid, het Dinsdag gesê hul forensiese-patologie-span is Saterdag na die toneel gestuur.

Hy het bevestig dat die vragmotor na Gqeberha op pad was.

Zahid Badroodien, burgemeesterskomiteelid vir gemeenskapsveiligheid en gesondheid, het gesê die oorsprong van die lyke het geen verband met die Kaapstad-metro nie.

Hy het gesê die kiste kom van verskillende begrafnisondernemers en krematoriums en is nie van die Kaapstad-metro se krematoriumgeriewe afkomstig nie.

“Kaapstad-metro teken al ons begrafnis- en verassingsgetalle aan en is in staat om dit te hanteer.”

Volgens hom is die kapasiteit van die verassingsgeriewe verhoog deurdat daar nou 24 uur per dag gewerk word.

“Ons werk op volle kapasiteit. Daar is geen agterstand in ons krematorium nie. Ons het genoegsame kapasiteit om begrafnisse te hanteer.”

Badroodien moedig mense aan om begrafnisse op weekdae te hou om die druk op begraafplase oor naweke te verlig.

Hy moedig ook mense aan om, waar dit nie op godsdienstige gronde verbied word nie, alternatiewe reëlings as begrafnisse te oorweeg.

“Dit sal die voetverkeer in en uit die begraafplase, asook die risiko vir noue kontak tussen mense en die verhoogde druk op die personeel verminder.”

Meer oor:  Funerals Direct  |  Fredelene Knowles  |  Somerset-Wes  |  Oos-Kaap  |  Parow  |  Begrafnisonderneming  |  Lyke  |  Krematorium  |  Vragmotor
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.