Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Lykskouing op jong rugbyspeler gedoen
Die foto van Benwill Adelaar (15) Vrydag in die ingangsportaal van die Sekondêre Skool Albert Myburgh op Bredasdorp. Foto: Foto: Maygene de Wee

Die ouers van die 15-jarige Benwill Adelaar, rugbyspeler van die Sekondêre Skool Albert Myburgh op Bredasdorp wat Donderdag dood is ná ’n besering in ’n rugbywedstryd, is in Worcester waar ’n lykskouing op hul seun gedoen word.

Benwill is Donderdag in ’n 0.15-wedstryd teen die span van die Sekondêre Skool Villiersdorp beseer. Hy is behandel, maar is later aan sy beserings dood.

Kenneth Dunsdon, skoolhoof van Albert Myburgh, het Vrydag gesê die polisie het aan hom gesê Benwill is glo in ’n tip tackle opgetel en het vermoedelik op sy nek geval.

Die foto van Benwill Adelaar Vrydag in die ingangsportaal van die Sekondêre Skool Albert Myburgh op Bredasdorp.Foto: Maygene de Wee

Benwill se ma, Elizabeth Adelaar, het Vrydag gesê sy en haar man is saam met twee onderwysers van die skool in Worcester waar ’n lykskouing gedoen word om die presiese oorsaak van Benwill se dood te bepaal.

“Ek sal met julle praat, maar eers later vandag, asseblief.”

In die ingangsportaal by die skool het daar Vrydag kerse op ’n tafeltjie langs ’n geraamde foto van Benwill gebrand.

Dunsdon sê hulle het die oggend ’n diens by die skool gehou en beraders van die Wes-Kaapse onderwysdepartement is ook by die skool om Benwill se spanmaats by te staan.

“Die beraders gaan ook later met sy klasmaats en vriende praat, asook met die onderwysers.”

Hy sê ook Ivan Pekeur, president van Boland-rugby, is op pad na Bredasdorp om met hulle oor die gebeure te praat.

Godfrey Gertse, Boland-rugby se mediakoördineerder, het Vrydag bevestig Pekeur gaan die skool besoek.

“Die president kom om met die hoof en die ouers oor die gebeure te praat en om met hulle te simpatiseer.”

Hy sê verder die unie gaan sy eie ondersoek na die gebeure doen.

“Wat dit gaan wees of hoe dit gedoen gaan word, kan ek ongelukkig nie nou al sê nie.”

Benwill se spanmaats het Donderdag kort ná die voorval in ’n kring op die veld gekniel, elkeen op een knie, om hul respek te toon.

Benwill Adelaar se spanmaats en vriende het Donderdag kort ná die voorval in ’n kring op die rugbyveld gekniel om hul respek aan hom te betoon.

Meer oor:  Bredasdorp
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.