Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
M2 gesluit: ‘Beplan alternatiewe roetes fyn’

Duisende Johannesburgse motoriste gaan oor die volgende agt maande daagliks geraak word deur die sluiting van die M2-hoofweg tussen die Crown-wisselaar en die Maritzburgstraat-afrit.

Die M2-hoofweg gaan weens dringende herstelwerk agt maande gesluit wees. Foto: Felix Dlangamandla

Herman Mashaba, Johannesburgse burgemeester, het Maandag die sluiting aangekondig.

Hy sê dele van die betonstrukture waarop die brug rus, het geskuif en die brug is uiters onstabiel. Dringende herstelwerk is nodig om ongelukke en sterftes op dié pad te voorkom.

Volgens Thomas Chongo, departementshoof vir beplanning by die Johannesburgse padagentskap (JRA), dra die M2-brug tussen 10 500 en 12 000 voertuie per uur tydens die oggend-spitstyd.

“Die hoogste volumes word op die gedeelte tussen die Crown- en die Heidelberg-wisselaar ervaar. Soortgelyke volumes word tydens die middag-spitstyd ervaar,” sê Chongo.

Hoewel motoriste aangeraai word om alternatiewe roetes te gebruik, is daar volgens Chongo geen enkele alternatiewe roete met voldoende spaarkapasiteit om die sluiting van die M2 vir langtermyn-roeteverlegging te akkommodeer nie.

Die verkeer sal herlei moet word na die verskeie alternatiewe roetes wat reeds tydens spitsure opeenhopings ervaar.

Chongo sê die volhoubaarste strategieë wat motoriste moet oorweeg, is om gebruik te maak van stelsels wat kongestie aandui en reistye aan te pas. Openbare vervoer moet ook oorweeg word.

Theo Malele, woordvoerder van die National Taxi Alliance, sê die sluiting van die M2 gaan baie druk op taxi’s plaas.

M2-brug
Grafika24

“Die regering moet ons help. Van die alternatiewe roetes moet slegs vir openbare vervoer gebruik word om die verkeersdruk te verlig,” sê Malele.

Volgens hom gaan die ekonomie geraak word omdat mense laat gaan opdaag vir werk. “Daar gaan chaos en baie druk wees. Mense gaan verontrief wees.”

Malele sê sover hy weet, het die JRA dit nie onder die taxivereniging se aandag gebring dat hulle voorsorg moet tref vir die druk wat gaan ontstaan nie.

Benny Makgoga, woordvoerder van Rea Vaya, sê dié busdiens gaan nie veel geraak word nie omdat hy nie op die M2 ry nie.

Die Selby- en die Kaserne-afrit sal van 06:00 op 28 Februarie tot einde Oktober gesluit wees.

Meer oor:  Padwerke  |  Johannesburg
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.