Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Ma (34) se lyk gekry nadat motor oor afgrond by Voëlklip stort
Noodwerkers Donderdagmiddag by Voëlklip naby Heroldsbaai waar ’n voertuig oor ’n afgrond gestort het. Foto: Charmaine Jansen van Rensburg/Facebook

Sy ma is in die see, het ’n agtjarige seuntjie Donderdagmiddag aan twee verbygangers gesê wat op hom afgekom het kort nadat sy ma en ’n tweejarige meisie, wat vermoedelik sy suster is, in ’n motor oor ’n afgrond by Voëlklip by Heroldsbaai buite George gestort het.

Die voorval het omstreeks 12:15 gebeur toe die Fiat-voertuig oor die afgrond gestort het.

Die 34-jarige vrou se lyk is Donderdagmiddag later uit die see gehaal, maar die soektog na die dogtertjie duur voort.

Die ongelukstoneel is op dieselfde plek waar Heidi Scheepers (35) en haar kinders, Hugo (2) en Cozette (6), van Heroldsbaai op 22 Oktober 2019 in hul Volkswagen Caravelle oor die afgrond is, en waar drie jong inwoners van George, Werner Finger (20), MarNic Els (20) en Luandro Jansen (21), op 15 November 2015 in die vroeë oggendure dood is toe die Toyota Hilux-bakkie waarin hulle gery het, ook oor die afgrond gestort het.

Volgens kapt. Malcolm Pojie, polisiewoordvoerder, het verbygangers die polisie Donderdag van die voorval in kennis gestel.

“Die seuntjie het ligte beserings opgedoen en word in ’n plaaslike hospitaal behandel,” sê hy.

Pojie het bevestig die drie is van George. Die vrou se identiteit is nog nie bekend gemaak nie.

Charmaine Jansen van Rensburg, ’n inwoner van George, en haar pa, Anton Gerber, wat op die seuntjie afgekom het, sê hulle het Voëlklip toe gery om te gaan kyk hoe dit daar lyk, toe hulle sowat 100 m van die hoofpad af ’n seuntjie sien loop en stilgehou het.

Noodwerkers Donderdagmiddag by Voëlklip waar ’n motor oor die afgrond gestort het. Foto: Charmaine Jansen van Rensburg/Facebook

“Die seuntjie het vir ons gesê sy ma is in die see,” sê Jansen van Rensburg. Die seuntjie het hulle ook gaan wys waar die motor oor die afgrond gestort het.

“Ek het die motor in die see gesien en die vrou wat in die water dryf,” sê Gerber.

Volgens Jansen van Rensburg het hulle telefonies hulp ontbied en die polisie was gou op die toneel.

Die Wes-Kaapse nooddienste sê in ’n verklaring hy is ontbied ná ’n voorval waarby ’n ma en twee kinders van agt en twee jaar oud betrokke was.

Twee noodvoertuie is na die toneel, sowel as ’n helikopter, wat in die soektog na die tweejarige kind help.

Polisieduikers en bote van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) was ook op die toneel.

Volgens ER24 het sy paramedici kort ná 13:00 op die toneel aangekom. Die seuntjie het by die polisie gesit. ER24 sê die kind het vermoedelik uitgeval toe die motor gerol het voordat dit by die afgrond afgestort het.

Vierde ongeluk sedert 2019

Dit is die vierde ongeluk sedert Scheepers se voertuig in Oktober 2019 oor die afgrond gestort het. Die voertuig is op 23 Oktober met laagwater gevind. Hugo se lyk is op 24 Oktober gekry en sy ma s’n twee dae later. ’n Lykskouingsverslag het getoon hulle het verdrink. Cozette se lyk is nooit gevind nie.

Op 3 Desember 2019 het ’n makelaar van George, Zonita Basson (53), in haar Chevrolet Spark oor ’n afgrond daar gestort, sowat 1 km van waar Scheepers-hulle afgestort het. Haar lyk is die volgende dag gekry.

Op 29 Januarie verlede jaar het ’n 52-jarige sakeman van Port Elizabeth ook in sy motor oor ’n afgrond daar gery. Sy identiteit is op versoek van sy familie nie bekend gemaak nie.

Noodvoertuie Donderdagmiddag op die pad by Voëlklip naby Heroldsbaai. Foto: George Herald/Kirsty Kolberg


MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.