Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Ma, betaal my R14 655 p.m. of dis hof toe – student

’n Johannesburgse student (19) dagvaar sy ma vir klasgeld, sakgeld én ontspanningsaktiwiteite van R14 655 per maand.

Louwna Klintworth sê haar seun breek haar hart omdat hy haar dagvaar vir onderhoud en studiegeld. Foto: Elizabeth Sejake

Louwna Klintworth (55), ’n persoonlike assistent van beroep, sê haar “hart is gebreek” omdat haar seun Thomas haar hof toe neem. Hy het gematri­kuleer aan die prestigeryke Parktown Boys’ High en is tans in sy eerste jaar as BRek-student by Wits.

Klintworth (55) sê sy verdien maar R27 000 per maand voor aftrekkings en het “geen idee” waarom haar seun dink sy kan die onderhoud wat hy vra bekostig nie. Sy ry ’n tweedehandse Hyundai i10 wat haar tante vir haar gegee het en huur ’n eenslaapkamer-tuinwoonstel in Westdene, Johannesburg.

“Ek het onlangs ’n senu-ineenstorting gehad oor al die drama,” sê Klintworth aan Rapport.

Dis traumaties vir kinders om ouers te moet dagvaar

Volgens haar is haar seun se eise belaglik. Dit is onder meer:

  • R3 404 per maand vir koshuisverblyf terwyl hy tans by sy pa in Johannesburg woon;
  • R3 000 per maand vir inkopies, kos en persoonlike sorg;
  • R620 per maand vir klere;
  • R1 906 vir sy mediesefondspremie by Discovery;
  • R50 vir “uitstappies/buitemuurse aktiwiteite”, R500 “sakgeld” en meer as R700 vir middagetes.
  • R500 per maand vir vakansies of ontspanning en ’n bykomende R100 vir ontspannings-leesstof (studieboeke uitgesluit).
  • R2 200 per maand vir klasgeld. Luidens Wits se webwerf kos dié graad sowat R50 000 per jaar.

Klintworth voel erg in die gesig gevat dat haar seun ’n dagvaarding op haar laat beteken het by die werk. “Hy het aanvanklik vir my gesê hy soek R6 000 per maand. Dít terwyl hy glad nie probeer het om ’n beurs te kry nie óf om ekstra werk te doen vir ekstra geld nie.”

Louwna Klintworth en haar seun, Thomas, toe dinge nog goed gegaan het in hul gesin. Foto: Facebook

Volgens haar het Thomas verskeie onderskeidings gekry op skool, maar nooit aansoek gedoen vir ’n beurs of deeltydse werk gesoek soos haar oudste gedoen het nie. “As hy aftyd of vakansie het, verkies hy eerder om te rus. Wat Thomas verwag wat ek moet betaal, is heeltemal absurd,” het sy aan Rapport gesê.

Klintworth sê sy dra R3 300 per maand by tot Thomas se onderhoud en dis wat sy kan bekostig.

Thomas wou by navraag nie kommentaar lewer nie.

Sy pa, Craig, het gesê: “Al wat ek sê, is dat ek my seun in sy saak ondersteun.”

Die hof sal moet bepaal of sy eise billik is.

Uit WhatsApp-boodskappe wat Rapport gesien het, blyk dit Thomas meen sy ma het sy ouer broer onderhou toe dié op universiteit was en sy behoort dieselfde vir hom te doen.

Klintworth het vir hom in ’n boodskap gesê dis nie dat sy nie wíl betaal nie, maar sy kan nie.

“Daar is niks regverdig aan dié situasie nie,” het sy aan hom geskryf.

“Ek is teleurgesteld dat jy besluit het om dit aan my te doen.”

Thomas het geantwoord: “Ek doen dit nie omdat ek jou nie glo nie; ek doen dit want ek soek finansiële sekerheid in my lewe.”

Sy ma antwoord hom: “Skat, jy gaan hierdie saak verloor en dan is jy op jou eie.”

Craig Klintworth Foto: Facebook

Klintworth sê sy is sowat tien jaar gelede van haar man, Craig, ’n wapenmaker van beroep, geskei. Die kinders het aanvanklik om die beurt by hul ma en pa gebly, maar die minderjarige seun en Thomas bly nou voltyds by hul pa. Die oudste seun, Robin (26), is onafhanklik.

Volgens haar het haar eksman en sy nuwe vrou ’n luukse leefstyl, maar sy kan nie daarby kers vashou nie. Klintworth sê Thomas meen sy pa dra maandeliks ongeveer R35 000 tot sy leefstyl by en sy ma behoort ongeveer die helfte daarvan by te dra.

Sy pa betaal onder meer sy lidmaatskap van Virgin Active en by die Jagtersvereniging.

Riëtte Oosthuizen, ’n prokureur wat in familiereg spesialiseer, sê volwassenes kan wel onderhoud eis by hul ouers.

Sy sê dit gebeur dikwels, maar dis gewoonlik wanneer ’n skoolgaande kind 18 word en die ouer wat onderhoud betaal het skielik ophou omdat die kind nou ’n volwassene is. “Wat hartseer is, is dat dit normaalweg, veral in omstandighede waar die kind steeds op skool is, traumaties is vir kinders om hul ouers vir onderhoud te dagvaar.”

Sy sê albei ouers is aanspreeklik vir ’n kind se onderhoudsbehoeftes wat hy of sy kan bewys.

Die hof sal moet bepaal of daar werklik ’n onderhoudsbehoefte is, of Thomas se verwagtinge billik is gegewe die leefstyl waaraan hy gewoond is en of sy ma dit kan bekostig.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.