Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Ma ‘effens beter’ ná klip haar in Plet-oproer tref

Die toestand van ’n vrou wat verlede week ernstige hoofbeserings opgedoen het toe ’n klip haar in die oproer in Plettenbergbaai in die Suid-Kaap getref het, het effens verbeter.

Haydee de Doncker (56) van Port Elizabeth, wie se kakebeen en linkeroogbank ook gebreek is, is steeds in die waaksaal in die Mediclinic George.

Sy en haar man, Keith, was Woensdag vanaf Gouritsmond – waar hulle ’n verjaardagpartytjie bygewoon het – op pad terug huis toe toe ’n klip deur die motor se ruit gegooi is en haar teen die kop getref het.

Haydee de DonckerFoto: Verskaf

Dit het omstreeks 14:10 op die N2 by die Piesangvallei-afdraai in Plettenbergbaai gebeur toe die verkeer weens die oproer herlei is.

Haar dogter, Erin Burns, sê volgens die neurochirurg het haar ma se toestand effens verbeter. “Ons hoop nog dat sy binnekort per lug na Port Elizabeth oorgeplaas kan word.”

Burns het vroeër gesê haar pa het die klip – wat aan die bestuurskant deur die venster gegooi is – met sy arm probeer keer voordat dit haar ma teen die kop getref het. Foto’s wat ’n familielid op Facebook geplaas het, wys die klip wat onder die motor se sitplek aan die passasierskant te lande gekom het.

De Doncker-hulle is daarna onder polisiebegeleiding na ’n hospitaal in Plettenbergbaai geneem en sy is van daar na George oorgeplaas.

Die polisie ondersoek ’n saak van poging tot moord. Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.

Volgens die Bitou-munisipaliteit was die veilige en onbelemmerde deurgang van padgebruikers van die grootste belang toe die oproer op 2 Julie uitgebreek het.

Die provinsiale verkeersdienste, wat ingevolge die Nasionale Padverkeerswet optree, het dadelik die N2 in beide rigtings vir verkeer gesluit en die verkeer is vanaf die N2 na die Robberg-/lughawepad herlei.

Die munisipaliteit het gesê kennisgewingborde oor die ompad is aangebring, en provinsiale en munisipale verkeersbeamptes, asook wetstoepassingsbeamptes het by al die ompad-kennisgewingborde puntdiens gedoen om padgebruikers te waarsku en hulle van die brandpunte en onveilige gebiede – met spesifieke verwysing na die N2 tussen die Shell Ultra City en Kwanokuthula – weg te lei.

Die munisipaliteit het gesê dit was ’n ongelukkige voorval, en die hoop uitgespreek dat die skuldige(s) gevind en vervolg sal word.

* Die N2 is Saterdag weer vir die verkeer oopgestel.

Meer oor:  Port Elizabeth  |  N2  |  Plettenbergbaai  |  Betoging
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.