Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Ma en baba ‘oor en oor gelukkig om te leef’
Bloed in die voertuig nadat Christo Mulder, sy meisie, Renske Erasmus (31), en hul kinders na die Life Midmed-hospitaal op Middelburg gejaag het. Foto: Verskaf

Renske Erasmus (31) en haar pasgebore seuntjie, Fourie, is “oor en oor gelukkig” om vandag te leef.

“Dit is net absolute geluk dat hulle leef. Daar was soveel dinge wat verkeerd kon gaan,” sê dr. Redge van Rensburg in Middelburg.

Hy was een van die dokters wat Erasmus bygestaan en behandel het nadat sy en haar kêrel Vrydag deur rowers aangeval en geskiet is.

Erasmus en Christo Mulder (38) is Vrydagaand naby die Middelburg-tolhek deur gewapende rowers oorrompel.

Ure ná die voorval is Fourie met ’n noodkeisersnee in die lewe gehelp by die Life Midmed-hospitaal, terwyl ’n koeël nog in haar rug vasgesit het.

Sy is twee keer geskiet. Een keer in haar arm en een keer in die rug.

Dié koeël is by haar regtersy in, onder deur haar nier en het aan die agterkant van haar werwelkolom laag in die rug (L2-werwel) vasgesit.

Volgens Van Rensburg het die koeël net-net die senuwees gemis wat haar bobene beheer.

Hy het aanvanklik groot geskrik toe die koeël nie dadelik opgespoor kon word nie.

“Sy is eintlik skrams getref, sy was baie gelukkig . . . ek was verlig toe ek sien die koeël het nie vasgesit in haar ingewande nie,” sê Van Rensburg.

Erasmus se water het kort daarna gebreek.

Fourie se koppie was buite die baarmoeder en van die vrugwater het reeds in die omliggende weefsel geloop.

Erasmus het haarself en haar dogtertjie (9) en Mulder se twee dogtertjies (4 en 7) toegesluit in die bakkie en weggejaag.

“Dit is baie gevaarlik, want die baarmoeder vernou en sny die bloedtoevoer na die babatjie af, wat sy dood kon beteken,” sê Van Rensburg.

Ma en seun sterk goed aan, en behoort binnekort huis toe te gaan.

Dit is nog net nie seker of en wanneer die koeël uit Erasmus se rug verwyder sal word nie.

Van Rensburg sê ’n spesialis het Erasmus ondersoek en sal later besluit as sy gesonder is.

“Gewoonlik kyk ’n mens eers of die verwydering nie dalk méér skade gaan veroorsaak as wat dit is om die koeël net so te los nie,” sê Van Rensburg.

Mulder (38) is ook twee keer getref. Een koeël is deur sy lies en die ander het hom skrams getref.

Hy was buite die bakkie besig om ’n hek oop te maak op die alternatiewe pad wat hulle van plan was om te ry.

Erasmus het haarself en haar dogtertjie (9) en Mulder se twee dogtertjies (4 en 7) toegesluit in die bakkie en weggejaag.

Die rowers het Mulder toe gelos en hy kon daarna by Erasmus en die meisies aansluit waar hulle by die tolhek stilgehou het en hulp gevra het.

Van daar het Mulder deurgejaag na die hospitaal al het hy self baie gebloei. Een koeël het Mulder net skrams getref, terwyl die ander een reg deur sy lies is.

Hy is behandel en ontslaan.

Van Rensburg het die drie getraumatiseerde meisies behandel vir skok.

“Hulle het ’n vreeslike ding deurgemaak,” sê Van Rensburg.

Intussen is die polisie in Middelburg geloof vir die wyse waarop hulle die ondersoek na die saak gepak het.

Lede van die polisie se honde-eenheid het byna reg deur die aand gesoek na die aanvallers.

Brig. Leonard Hlathi, provinsiale polisiewoordvoerder in Mpumalanga, sê die ondersoek is geprioritiseer.

’n Taakmag is Maandag aangestel om die saak verder te ondersoek. “Ons gaan dié mense kry,” sê Hlathi.

Meer oor:  Renske Erasmus  |  Aanval  |  Rowers  |  Ma En Baba  |  Swanger Vrou Geskiet  |  Skietvoorval
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.