Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Ma en dogter dood nadat hulle onder bus vasgekeer was

Ná ’n grusame busongeluk op die N7 in die Swartland tussen ’n bus en ’n Volkswagen Polo, waarin ses mense dood is, is ’n familie van Mitchells Plain in rou gedompel.

Die familie het hul ma, Christene Willemiena Finch (63), asook hul suster, Alicia Willemiena Finch (31), verloor. Alicia se vierjarige dogter, Keziah, het die ongeluk oorleef.

Bo: Alicia Willemiena Finch (31). Onder: Christene Willemiena Finch (63).

Daar was altesaam 16 mense op die bus toe die twee voertuie Woensdag tussen Moorreesburg en Piketberg in die Wes-Kaap reg van voor gebots het.

Finch en haar dogter, Alicia, was onder die bus vasgekeer en reddingspanne het gespook om hulle te bevry. Hulle is op die toneel dood verklaar, asook drie ander buspassasiers en die bestuurder van die Polo.

Finch se seun en Alicia se broer, Wayne Fischer (39), sê hulle dank die Here dat die kleine Keziah die ongeluk oorleef het.

Hy sê sy jonger suster is egter dood slegs enkele maande voor haar troudag. Sy sou in Oktober met haar verloofde van drie jaar en haar dogter se pa, Tashwel Moses, trou.

“Tashwel is verpletter,” sê Fischer.

“Ons almal gaan hulle geweldig mis. Hulle was liefdevolle, saggeaarde mense wat regtig ’n passie gehad het daarvoor om ander te help.”

’n Herwinningsvoertuig op die toneel.

Fischer en ander familielede was Donderdagaand op pad na die lykshuis op Malmesbury om die oorledenes se lyke uit te ken. Hy sê hulle ken nie die ander slagoffers nie.

Finch en Alicia was op die bus op die N7 na Keimoes in die Noord-Kaap onderweg om ’n begrafnis van ’n ander familielid by te woon. Dié begrafnis vind Saterdag plaas.

Die hospitaal op Piketberg het bevestig nege mense wat in die ongeluk betrokke was, is by hulle behandel. Dié pasiënte sterk aan.

Fischer sê die busmaatskappy wie se bus in die ongeluk betrokke was, Eldos Coaches, het hulle van die botsing verwittig.

“Die bestuurder het gesê dit het om 21:20 gebeur. Hulle was nog nie eens twee uur op die pad nie, toe gebeur dit,” sê Fischer hartseer.

Die name van die ander slagoffers is nog nie bekend nie.

Meer oor:  Piketberg  |  Moorreesburg  |  N7  |  Vasgekeer  |  Ongeluk  |  Bus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.