Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Ma en dogter se huiswerkvideo’s ’n treffer
Carli en Elani Moss in hul tuisateljee in Vanderbijlpark waar hulle Carli se huiswerkvideo’s opneem. Foto: ELIZABETH SEJAKE

Te danke aan die “vervelige inperking” is ’n tienjarige “juffrou” en haar huiswerkvideo’s ’n internetsensasie.

As jy nog nie gehoor het van die YouTube-kanaal “Mossie”nie, is dit tyd dat jy voor jou skerm inskuif, want dáár leer Carli Moss, ’n gr. 4-leerling aan die Laerskool Emfulenipark in Vanderbijlpark, jou in ’n japtrap alles wat jy as ’n graadvier moet weet.

Die aanvanklike idee met die video’s was om haar huiswerk op ’n kreatiewe manier aan te bied, op te neem en aan haar maats te stuur. “Ek het gehoop dat dit my juffrou en die ander mammas ook kan help as hulle nie weet hoe om die werk te verduidelik nie,” sê Carli.

En só het haar huiswerk vinnig groot pret geraak en sy het daarin geslaag om iets benydenswaardigs reg te kry – om kinders (en grootmense) oor die land heen se verbeelding aan te gryp.

In elke episode sit Carli in ’n tuisgemaakte kostuum voor ’n ander agtergrond. Die videoreeks dek onder meer onderwerpe soos “die aarde”, “die watersiklus” en “diereskuilings”.

Haar ma, Elani, word ingespan as kameravrou, redigeerder en soms ook kostuummaker. Sy het vir Carli en haar vyfjarige boetie, Luca, ’n werkkamer vir die inperking ingerig wat nou as die ateljee dien.

‘Ek dril die storie of onderwerp in by Carli, oor en oor.’

Die proses om die video’s aanmekaar te sit is ’n mengsel van speel, leer en baie lag. “Ek dril die storie of onderwerp in by Carli, oor en oor, totdat sy dit uit haar kop kan opsê,” sê Elani. “Wanneer ’n nuwe video opgeneem word, gebeur daar gereeld baie blapse; dan lag ons eers bietjie vir onsself voordat ons voortgaan.”

Carli se gunstelingvak is geskiedenis. “Ek geniet dit om te lees oor die verskillende mense en hul stories. Mahatma Gandhi se storie is my gunsteling,” sê sy.

Dié storie het sy baie kreatief in omtrent vyf minute verduidelik met die hulp van ’n pakkie Lego-blokkies, ’n bietjie skoolwerk en haar ma se slimfoon. En ja, die tienjarige “juffrou” droom daarvan om eendag ’n aktrise of onderwyseres te word.

Elani, wat die projek bestuur, sê Carli is eintlik ’n skaam kind. “Ek was baie verbaas om te sien hoe sy uit haar boks spring,” sê sy.

Elani het in Januarie as geldmarkhandelaar bedank en is sedertdien by die huis.

“Ek het nooit gedink ek sal ’n heeltydse ma wees nie, maar ek was moeg om so baie van my kinders se lewe te mis, toe besluit ek genoeg is genoeg.

“Ek bestee nou my tyd saam met my kinders. Ek weet al so baie van Carli se werk dat ek maklik ’n gr. 4-eksamen kan skryf!”

Meer oor:  Elani Moss  |  Carli Moss  |  Internetsensasie  |  You Tube
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.