Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Ma én tienling is skoonveld!

Ná ’n geboorte tel die nuwe ouers dikwels of daar tien vingertjies en tien toontjies is, maar tien babas?

’n Hoogswanger Gosiame Sithole. Foto: ANA

Byna ’n week nadat die koerant Pretoria News berig het Gosiame Thamara Sithole (37) het ’n tienling in die wêreld gebring, kan die regering dit nog nie bevestig nie en geen foto van die kroos van sewe seuntjies en drie dogtertjies is nog gepubliseer nie. Daar word berig hulle is onder “streng bewaking”.

Dit volg net meer as ’n maand nadat Halima Cissé (25) van Mali se negeling in Marokko gebore is.

Thabo Masebe, woordvoerder in die Gautengse premierskantoor, het gesê ondanks “deeglike navrae” kon die tienling by geen provinsiale of private hospitaal opgespoor word nie. Geen dokter of spesialis wat by die geboorte betrokke was, het nog na vore gekom nie.

Volgens Pretoria News het dokters met sonars net agt babas gesien, maar tien is Maandagaand op 29 weke van swangerskap gebore.

Hy het my niks vertel oor sy nuwe tien kinders nie.

Na berig word het een van Sithole se familielede haar as vermis aangemeld, maar die Gautengse departement van maatskaplike ontwikkeling het Vrydag gesê hulle weet waar sy is. “Sy het die departement gekontak wat te gelegener tyd ’n aankondiging sal maak.”

Piet Rampedi, redakteur van Pretoria News wat die aanvanklike berig geskryf het, het dié verklaring in ’n twiet gedeel en daarby geskryf: “So, uiteindelik bevestig die regering die ope geheim dat die sogenaamde vermiste ma van die tienling, Gosiame Sithole, wat daartoe gelei het dat gefrustreerde joernaliste my geteister het vir ‘kommentaar’, vars lug geniet en die media-aasvoëls vermy vir haar eie geestesgesondheid.”

Rampedi was een van die verslaggewers wat in 2015 in Sunday Times oor die “geheime ondersoekeenheid” by die Suid-Afrikaanse Inkomstediens berig het. Hy het bedank nadat die koerant dié berigte teruggetrek het.

Onderaan die aanlyn weergawe van sy storie oor die geboorte verskyn bankrekeningbesonderhede vir Sithole en Tebogo Tsotetsi as die tienling se pa.

Dr. Iqbal Survé, uitvoerende hoof van Sekunjalo Independent Media. Foto: Wessel Oosthuizen

Geen van die kontaknommers wat ook daarby gepubliseer is, het die afgelope week enige verdere lig op die saak gewerp nie.

Toe die “familiewoordvoerder”, Makgoshi Maponyane, Vrydagmiddag haar foon beantwoord, het sy gesê sy is nie die woordvoerder nie, Rampedi is.

Verskeie redes is gegee oor hoekom geen foto van die tienling nog gepubliseer is nie: “kulturele” redes; dat Sithole nie met haar selfoon by die neonatale eenheid toegelaat word nie; en dat Tsotetsi die regte aan ’n internasionale mediaorganisasie sou verkoop het.

Tsotetsi het die afgelope week Kaap toe gevlieg vir die amptelike oorhandiging van R1 miljoen van dr. Iqbal Survé se familiestigting, Survé Philanthropies. Survé is die eienaar van die Sekunjalo Independent Media-konsortium, wat Pretoria News besit.

Survé het gesê die stigting sal “beduidende hulpbronne aan Tebogo en sy gesin verskaf om hulle deur hierdie wonderlike maar uitdagende tyd uit die oogpunt van die babas te help”.

Volgens Survé sal die R1 miljoen oor ’n tydperk verdeel en in ’n trustfonds inbetaal word.

News24 het berig Tsotetsi is getroud met ’n ander vrou, Sibongile Gxekwa (47).

“Ek het onlangs gehoor sy is swanger met agt kinders,” het Gxekwa aan die nuuswebwerf gesê. “Sy het ook ander kinders, waaronder drielinge en ’n tweeling, waaroor die media berig het. My man het selfs gebede gevra vir sy vriendin om gesonde kinders te baar.”

Gxekwa het volgens News24 gesê daar is vir haar gesê die babas is in broeikaste in die hospitaal. “Hy het vir my niks vertel oor sy nuwe tien kinders nie. Hy het belowe ons sal oor die kinders praat wanneer hy Woensdag van Kaapstad terugkeer. Hy het my beveel om nie met die media oor die kwessie te praat nie.”

Terwyl Gxekwa in die egpaar se huis in Tembisa woon, het Sithole glo by Tsotetsi se ma in dieselfde township ingetrek. Tsotetsi woon glo soms by die een en soms by die ander.

Tydens Rapport se besoek aan ’n huis in Tembisa Vrydag het ’n inwoner gesê Sithole hét daar gewoon, maar woon nou saam met Tsotetsi “iewers anders”.

Dr. Johan van Schouwenburg, stigter en direkteur van die Medfem-fertiliteitskliniek in Sandton, was die afgelope week skepties oor die nuus.

“My gevoel is as dit waar was, sou die dokters en hospitaal wat die bevalling hanteer het, tog die myle daaruit wou kry. Hulle sou tog die babas aan die media wou wys.”

Van Schouwenburg sê met die geboorte van ’n tweeling is die risiko dat een van die babas vroeggebore is 80%.

“Met die geboorte van ’n tweeling is daar ’n groter kans op komplikasies, met ’n drieling is die kans groter en met vierlinge nog groter. Hoe meer babas, hoe groter raak die risiko.”

Survé het nie Vrydag gereageer op vrae van Rapport oor of hy die babas al in lewende lywe gesien het nie en wat hom so seker maak van die geboorte dat hy R1 miljoen aan die gesin geskenk het nie.

Hy het gesê Survé Philanthropies het deur Rampedi van die tienling se geboorte gehoor en dié werk al maande lank aan die storie. “Hierdie storie, soos jy weet, is vroeër vandeesweek as vars nuus in daardie koerant aangebied, soos jy weet.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.