Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Ma glo seun se oog sal regkom ná hondaanval

Hulle is nog nie seker of hul seun die volle gebruik van sy een oog sal terugkry nadat hy onlangs deur ’n rottweiler aangeval is nie, maar Leonard van Straaten (3) se ma glo vas alles sal regkom.

Leonard en sy broer, Lambert (7), is op 2 Junie deur hul stiefouma, Karin van Straaten (50), uit die kake van ’n rottweiler gered toe dié hulle by haar huis in Uitenhage aangeval het.

Karin het haarself op Leonard gegooi toe haar en haar man, Lammie (56), se hond Chop skielik op die kinders in die agterplaas by hul huis in Strelitzia Park afstorm en begin byt.

Sy en die kleinkinders was alleen tuis.

Karin Van Straaten, Leonard en Lambert se stiefouma, wat hulle vroeër die maand uit die kake van ’n rot tweiler gered het. Foto: Verskaf

Karin het vroeër aan Netwerk24 gesê sy het net probeer om Leonard se kop uit Chop se kake te hou, terwyl sy Lambert veilig tussen haar en die grensmuur probeer hou het.

Leonard is egter steeds aan die kop, bene en voete gebyt voordat hul buurman die hond doodgeskiet het.

Lambert Van Straaten glimlag weer breed ná die aanval vroeër die maand. Foto: Verskaf

Lambert en Karin is in die Cuyler-hospitaal vir hul bytmerke behandel. Leonard se gesig en bykans sy hele lyf was vol bytmerke, selfs onder sy voete, en hy is vir ’n noodoperasie in die Greenacres-hospitaal opgeneem. Toe het die dokter gesê sy oog kan gered word, maar hy was bekommerd oor die bloeding en swelling agter sy oog.

’n Besoek aan ’n oogspesialis het egter bloedkolle op Leonard se retina aangedui.

“Die hond het hom oor die kop gebyt en ’n tand het vermoedelik by die oog ingegaan en die traanklier uitgeskeur.

“Die dokter sê die bloedkolle sal saam met die swelling op lang termyn weggaan. Tans kan hy nie met die oog sien nie en daar is ’n kans dat dit so sal bly. Maar ek is optimisties dat die swelling sal sak en hy weer sal kan sien.”

Sedert die aanval het Van Straaten haarself voorberei op ’n herstelpad van minstens sewe maande.

“Ek verstaan dat die dokter ons nie kan verseker dat hy weer sal sien nie, maar die oog lyk nou beter as ’n week tevore. Gelukkig is hy is darem nog jonk en sal maklik kan aanpas, indien nodig.”

Lambert Van Straaten, en sy vrou, Bianca, saam met hul twee kinders, Lambert en Leonard. Foto: Verskaf

In ’n poging om die spiere in Leonard se beseerde oog te oefen, help Van Straaten hom daagliks om hom sowat vyf minute lank as ’n seerower voor te doen, sodat hy ’n oogklap op die gesonde oog kan dra.

“Ons moet oor ses weke weer by die dokter wees, dan sal ons meer inligting kry.”

Ondanks kommer oor die sig in een van Leonard Van Straaten se oë, het die hond se bytmerke aan sy gesig en lyf gou gesond geword. Foto: Verskaf

Ondanks die letsels, sê Van Straaten, het die res van Leonard se bytmerke aan sy gesig en bene, asook Lambert se bene gou gesond geword.

Vir Karin het Van Straaten net lof en dankbaarheid.

“Ek is só dankbaar vir wat sy gedoen het. Daar is min mense wat sal doen wat sy gedoen het. Was dit nie vir haar nie, sou my kinders waarskynlik nie vandag hier gewees het nie.”

Intussen maak Karin gereed om Vrydag weer ’n spesialis te sien. Albei haar arms, voete en een been is in verbande toegedraai. “As (die spesialis) tevrede is, word die steke uitgehaal. Tot dan is ek steeds in verbande.”

Meer oor:  Uitenhage  |  Honde-Aanval  |  Rottweiler
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.