SPESIALE VAKANSIE-AANBOD: Teken in teen net R49 vir jou eerste maand! Word 'n intekenaar
Algemeen
Ma het ‘nie verwag’ pa sal sy 7-jarige, toe homself skiet
Dylan (7) en Nandia Neethling op sy se eerste skooldag. Foto: Facebook
Facebook

“Ons het dit nie verwag nie,” sê Nandia Neethling (38) nadat haar seun, Dylan Neethling (7), Sondag deur sy pa doodgeskiet is.

Volgens die polisie is Dylan Sondag in die vroeë oggendure dood nadat sy pa, Johan (69), hom geskiet het, waarna hy sy eie lewe geneem het. Dit het in die gesin se huis in Mozartstraat, Kaapzicht, naby Panorama, gebeur. 

“Ek het al sy lykie gaan uitken. Dit was ’n baie, baie moeilike ding om te doen,” sê Nandia hartseer.

“Ek is nog besig met die begrafnisreëlings. Die planne is nog nie gefinaliseer nie. Ek sal eers later kan praat,” sê sy.

Bure van die gesin het Dinsdag gesê die huis se alarm het omstreeks 03:00 afgegaan net nadat die skote geklap het.

“’n Jong man wat daar naby woon, het toevallig verbygery en gaan ondersoek instel. Nie lank daarna nie was vier polisievangwaens en polisielede op die toneel,” vertel ’n buurman, wat nie sy naam genoem wil hê nie.

Johan en Nandia Neethling op ’n geselligheid. Foto: Facebook
Facebook

’n Beampte van District Watch, ’n sekerheidsmaatskappy in die omgewing, het bevestig hulle was ook op die toneel. Johan en Dylan se lyke is in die huis gekry.

“ ’n Geregtelike doodsondersoek word gedoen en ’n moorddossier is ná die voorval aangelê,” het kapt. Frederick van Wyk, polisiewoordvoerder, Maandagaand gesê.

Die gesin se huis waar die skietery plaasgevind het. Foto: Ané van Zyl

Intussen is diegene wat die gesin goed ken, geskok oor wat gebeur het, met talle wat wonder wat skeefgeloop het. Party beweer dat Nandia die afgelope drie weke nie meer by haar man woon nie, en dat hulle op skei staan.

Volgens ’n buurvrou het Dylan die naweek alleen by sy pa deurgebring. Nandia het nie op vrae hieroor gereageer nie.

Die huis van die straat af. Dit was gesluit en stil tydens Netwerk24 se besoek en daar was geen teken van polisieaktiwiteit nie. Foto: Ané van Zyl

“Dit is so tragies,” vertel die buurvrou. “Ons het hulle gereeld hier gesien speel in die parkie skuins oorkant hul huis. Dylan het voor ons oë grootgeword. Hy was baie lief daarvoor om op sy fietsie te ry toe hy kleiner was, en ons het gereeld vir Nandia en hom gesien ry skool toe.

“Hulle sou vriendelik vir ons waai en kom gesels in die straat. Ons het ook dikwels gesien dat Dylan se ouma en oupa (Nandia se ouers) by die gesin kom kuier.”

Volgens die bure bly Johan al ’n aantal jare in die huis in Mozartstraat en Nandia, oorspronklik van Ceres, het by hom ingetrek toe hulle getroud is in 2011. Dit was glo Johan se derde huwelik. Hy het ook na bewering ’n volwasse dogter uit ’n vorige huwelik wat oorsee werk.

Dinsdag was dit stil in die straat waar die pa en seun dood is, met geen teken dat iemand tuis is nie. Daar was ook geen geel polisielint te sien nie.

“Johan het vir Dylan ’n regte handradio gegee, en wanneer hy nie by die huis was nie het Johan hom geroep en gevra waar hy is. Dylan het ook vreeslik baie na sy pa gelyk, soos sy ewebeeld,” vertel die bure.

Dylan Neethling
Die brief en foto van Dylan Neethling by sy laerskool in Panorama. Foto: Ané van Zyl

By die Laerskool Panorama waar Dylan ’n leerling was, was daar Dinsdag ’n geraamde foto van hom en ’n kersie wat brand in die voorportaal. Daarby was ’n briefie met Dylan se naam, geboortedatum en sterfdatum daarop.

Henri Potgieter, waarnemende adjunkhoof, het gesê beraders was by die skool om met Dylan se klasmaats en onderwysers te praat. Dylan was in ’n klas van ongeveer 30 kinders. Daar is altesaam meer as 200 gr. 1-leerlinge in die skool.

“Die skool wag nog vir inligting van Nandia af oor begrafnisreëlings vir Dylan,” sê Potgieter.

Die skool het vroeër ’n boodskap op sy Facebook-blad geplaas waarin hy Dylan as ’n “pragseun” beskryf en sê sy dood is vir die skool ’n groot verlies en het Dylan se naasbestaandes sterkte toegewens.

Meer oor:  Panorama
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.