Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Baba ongedeerd ná hy in swembad val

Dit is niks anders as ’n wonderwerk dat ’n babaseun lewe nadat hy in die swembad geval het en stokstyf was teen die tyd wat sy ma hom ontdek het nie.

Jurie en Genevieve de Wit van Bloemfontein sê Simon (1) is weer sy ou self asof niks gebeur het nie.

Jurie en Genevieve de Wit van Bloemfontein praat oor die wonderwerk nadat Simon (1), hul babaseun in hul swembad beland het en dit oorleef het. Foto: Mlungisi Louw

Hy is Saterdag, twee dae ná die voorval, uit Mediclinic Bloemfontein ontslaan.

Die dokters is verstom en sê “dit maak nie sin” dat Simon ongedeerd is nie.

Genevieve vertel sy was doenig in die huis waar Milan (7), hul dogter, besig was met huiswerk.

“Gewoonlik speel Simon in die tuin.”

Sy het vir Paulina Toane, hul huiswerker, gevra of hy by die wasgoed is, maar sy het gesê sy sien hom nie.

Genevieve het om die huis gestap, en Milo, die gesin se hond, in die hoek van die huis, naby die swembad, aangetref.

Haar hart het gesink toe sy die filtreersak in die swembad sien, en teruggedraai toe sy besef wat dit is.

“Toe ek wou wegstap, sê iets vir my dit is die gevaarlikste plek, kyk net deeglik.”

Dié keer het sy vir Simon teen die kant van die swembad gesien “met sy koppie na onder en sy ruggie na bo”.

’n Emosionele Genevieve sê sy kon vanaf die trappies in die swembad vir Simon uittel en het vir Paulina geroep om te help.

Simon de Wit (1), wat wonderbaarlik oorleef het.

Danksy ’n noodhulpkursus wat sy jare terug gedoen het, het Genevieve geweet om iemand naby te roep wat kan help. Sy het vir Simon eers op sy maag gedraai indien hy dalk in daardie oomblik verstik.

“Paulina het kop gehou en gesê ek moet hom neersit.”

Genevieve onthou toe sy moet kardiopulmonêre resussitasie toepas.

Sy het telkens in sy mondjie geblaas.

“Toe ek besef daar gebeur niks nie het ek sy hartjie begin druk en weer geblaas en hartjie gedruk en toe ek hom druk toe maak hy ’n geluidjie, toe weet ek daar is lewe.”

Simon het opgebring en sy het seker gemaak hy haal ordentlik asem.

Jurie, ’n vlieënier, was in Pretoria en het intussen ’n ambulans na hul huis in Dan Pienaar ontbied.

Simon se armpies was steeds stokstyf van die koue toe die ambulans opdaag.

Hy het daardie aand begin ontspan en eers die volgende oggend gelag. Dit is toe dat die De Wits besef het hul jongste gaan oukei wees.

“Dis nie danksy my dat hy leef nie,” sê Genevieve.

“Die feit dat ek so opgetree het en onthou het wat om te doen, is net die Here.”

Hulle glo daar is ’n groot plan vir Simon se lewe.

Die egpaar het nog ’n seun, Markus (5).

Dit is nog steeds ’n raaisel hoe dit kon gebeur het, want die swembad is omhein met ’n hoë heining.

“Ons kan net bespiegel,” sê Jurie.

Hulle vermoed die knip was nie heeltemal toe nie, maar daar hang nou ’n stewige slot aan.

Meer oor:  Bloemfontein  |  Wonderwerk  |  Verdrink
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.