Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Ma in rou ná seun van krans af duik, sterf
Jaco, Narine en Kobus.

’n Ma van Bellville is stukkend nadat haar 26-jarige seun in ’n fratsduikongeluk in Uniondale dood is.

Jaco Reichel (26) se lyk is op Nuwejaarsdag, op sy ma, Narine, se 57ste verjaarsdag, uit ’n waterpoel gehaal.

Jaco was op ’n jaarlikse uitstappie saam met krieketmaats toe hulle by die Eagle Falls-waterval naby Uniondale gaan stap het.

Volgens sy ma wou Jaco van ’n krans af in ’n waterpoel duik, maar hy het nie ver genoeg gespring nie en sy kop het ’n rots getref.

“Hulle kon nie by hom kom nie, want dit is baie moeilike terrein,” sê Narine.

“Sy vriende het my gebel, maar die opvangs is so sleg dat ek net kon uitmaak dat daar ’n ongeluk was.”

Narine het eers later by ’n vriendin van Jaco gehoor dat hy dood is. “Ek is so verstom, geskok. Hy sou vandag huis toe gekom het, maar nou is hy weg, vir altyd,” sê sy huilend.

Die polisie het ’n geregtelike doodsondersoek begin, sê sers. Chris Spies, polisiewoordvoerder. “Hy is op die toneel deur paramedici dood verklaar en sy lyk is Woensdag per helikopter van die toneel verwyder.”

Thazar Kloppers en sy kleinseun Jaco.

Jaco, ’n oudleerling van die Hoërskool Bellville, het gestudeer in multimedia en 3D-animasie. Hy het krieket gespeel vir Brackenfell-krieketklub en was ook gek oor hokkie.

“Hy was my alles, my rots – veral ná my man se dood,” sê Narine. Haar man, Kobus, is agt maande gelede skielik dood aan kanker nadat hulle eers gehoop het hy het die siekte oorwin. “Hy en sy pa is nou in dieselfde jaar dood,” sê sy.

“Jaco was ’n goedhartige mens. Hy het nie kwaad in hom gehad nie.”

Narine sê twee predikante, een van haar kerk en een van haar noue vriende, is nou op pad na Oudtshoorn om haar seun te gaan uitken. “Jaco se lyk is nou in die sorg van die departement van gesondheid.”

Narine vertel hoe haar seun se vriende deur ’n hele proses moes gaan om haar op te spoor en die tragiese nuus oor te dra: “Jaco het ’n botteltjie pille by hom gehad met M-Kem-apteek se logo daarop. Sy vriende het toe die apteek gebel, sy besonderhede gegee en só my nommer in die hande gekry.”

“Die telefoon het aanhoudend uitgesny, totdat ek uiteindelik kon uitmaak wat sy vriendin vir my sê: ‘Reichel is dood’.” Jaco se vriende het hom op sy van genoem.

Narine se pa en twee susters, een van Johannesburg af, is tans by haar om haar te ondersteun. “Baie van my vriende is ook hier en rondom my om ondersteuning te bied. Ek is baie geseënd om hulle te hê.”

Sy onthou ’n uitstappie na die Kirstenbosch-tuine saam met sy oupa Thazar Kloppers. “Ek het nog die mooiste foto van hulle twee geneem,” sê Narine.

Meer oor:  Jaco Reichel  |  Uniondale  |  Seun Sterf  |  Man Sterf  |  Fratsduikongeluk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.