Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Ma kry dogter dood in rolstoel in ongevalle

Sy soek net die klere waarin haar dogter dood is sodat sy haar kan begrawe.

“Dit is deel van ons kultuur. Ek wil haar Vrydag begrawe, maar kan dit nie sonder haar klere doen nie,” sê Nqobile Dube oor haar dogter Sichelesile (26).

Sichelesile is verlede Dinsdag weens beweerde nalatigheid in die Helen Joseph-hospitaal dood.

Sichelesile Dube was volgens haar ma ’n kranige danseres en sangeres.

Volgens Dube, ’n huiswerker wat oorspronklik van Zimbabwe kom, het sy haar dogter op Maandag 26 Julie omstreeks 13:00 na die Johannesburgse hospitaal geneem.

Sichelesile het gebraak, haar voete was geswel en sy kon nie meer loop nie.

Dube sê die personeel het haar dogter in ’n rolstoel gesit en volgens haar was daar teen 21:00 nog niemand om haar te help nie. Dit is toe dat sy begin smeek om hulp.

“Hulle het net vir my gesê sy gaan opgeneem word en ek moet huis toe gaan. Ek het gesmeek om by my kind te bly, want sy was siek en ek wou na haar omsien, maar hulle het die sekuriteit gebel en ons basies uit die hospitaal gegooi,” sê Dube.

Sy het die Dinsdag ná werk om 17:00 teruggekeer hospitaal toe.

“Toe sit my dogter op presies dieselfde plek waar ek haar gelos het.”

Sy het aan haar dogter geruk om haar wakker te kry, “maar sy was reeds dood”.

Sichelesile Dube sit in ’n rolstoel in die Helen Joseph-hospitaal in Johannesburg.

Volgens haar het sy toe histeries gevra waarom haar dogter nie behandeling gekry het nie.

“Hulle sê toe dit is oor Covid-19 en omdat die hospitaal vol is,” sê Dube.

Dube beweer haar dogter is behandeling geweier omdat sy ’n buitelander is.

“Ek het gedink ek doen goed deur haar na ’n hospitaal te neem. As ek geweet het ek stuur haar na haar dood toe, het ek dit nooit gedoen nie. As die mense nie buitelanders wil help nie, moet hulle so sê,” sê Dube.

Die dokter het Sichelesile om 17:00 dood verklaar, “maar ek weet sy was eintlik langer as dit al dood”.

Ná die lykskouing het Dube vir haar klere gevra, maar is ingelig dat dit weggeraak het.

Nqobile Dube is verpletter deur haar dogter se dood.

“Hoe kan klere sommer wegraak?” wil Dube weet.

Sy wil Vrydag na haar ouers in Zimbabwe terugkeer, “maar die eerste ding wat hulle gaan vra, is waar haar klere is”.

Dube sê haar geld is skraps omdat sy twee weke gelede ook na Zimbabwe moes gaan. Sichelesile se pa, wie se naam Dube nie genoem wil hê nie, is toe hier begrawe nadat hy in ’n motorongeluk gesterf het.

“Ek is stukkend en ek wens ek kon die hospitaal dagvaar sodat daar nooit weer so iets met iemand gebeur nie,” sê sy.

Die Gautengse gesondheidsdepartement wou nie Netwerk24 se vrae beantwoord nie en het ’n verklaring wat hy verlede week uitgereik het, aangestuur. Hierin sê hy dat hy die voorval ondersoek.

Meer oor:  Johannesburg  |  Gesondheidsorg  |  Hospitale
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.