Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Ma: ‘Meghan was nederige, sagte meisie’

“Ons is platgeslaan nadat ons ons kosbare Meghan verloor het,” het Meghan Cremer (30) se ma, Gill, Woensdag gesê voor die ingang van die Vaderlandsche Rietvlei-plaas in Philippi, Kaapstad, waar haar dogter gewoon het.

’n Private diens vir Meghan is Woensdag hier gehou waarna slegs intieme vriende en familielede uitgenooi is. Die diens is by die perdestalle op die plaas gehou aangesien Meghan versot was op perde.

“Meghan was ’n baie nederige, sagte meisie wat baie goed gedoen het sonder om enige erkenning te verwag. Dit is hoe sy haar lewe geleef het,” het Gill huilend aan die sy van Neil van Hees, ’n familievriend, gesê.

Meghan se lyk is verlede Donderdag by ’n sandmyn gevind nadat sy sedert 3 Augustus vermis was.

Gill Cremer, Meghan se ma, sê sy wil graag haar dogter haar nagedagtenis laat voortleef. Foto: Jaco Marais

Drie verdagtes, Jeremy Sias (27), Charles Daniels (39) en Shiraaz Jaftha (34), is in verband met haar moord aangekeer en verskyn Donderdag in die Athlone-landdroshof vir hul borgtogaansoek. Hulle bly in aanhouding.

“Dit is duidelik dat haar dood honderde mense geraak het en dat haar gesig nou vereenselwig sal word met talle vroueorganisasies en vrouesake.”

Woensdagmiddag het talle voertuie voor die plaas se hek gewag om in te ry vir die diens. Teen die plaashek is linte van verskillende kleure vasgebind ter nagedagtenis aan Meghan.

“Ons wil haar nalatenskap laat voortleef, en ons hoop almal sal ons hierdie tyd gun om te rou,” sê Gill.

Sy het die owerhede bedank wat betrokke was by die soektog na haar dogter en dié wat ondersteuning gebied het.

“Almal het hul beste gedoen om ons te help om haar te kry. Ons wil ook al ons vriende bedank wat ons ongelooflik ondersteun het.”

Neil van Hees, ’n familievriend, het Gill bygestaan. Foto: Jaco Marais

Gill sê sy beplan nie om Donderdag die hofverskyning van die beskuldigdes in haar dogter se moord by te woon nie.

Intussen het die organisasie SA Women Fight Back ’n versoekskrif opgestel om borgtog vir die drie beskuldigdes teen te staan. Teen Woensdagmiddag het 60 000 mense reeds die versoekskrif geteken.

Ander het op Facebook gesê hulle beplan om vreedsaam voor die landdroshof in Athlone te betoog om te wys dat hulle glo die drie beskuldigdes moet in aanhouding bly.

Sias, Daniels en Jaftha is verlede Maandag in hegtenis geneem nadat hulle in die besit van Cremer se wit Toyota Auris gevind is.

Sias het glo verlede Donderdag aan die polisie gaan uitwys waar Cremer se lyk in ’n vlak graf begrawe is. Die hof het gehoor daar is ’n getuie wat die drie regstreeks met die moord kan verbind. 

Die verdagtes het verlede Donderdag vir die eerste keer in die landdroshof in Athlone, Kaapstad, op aanklagte van moord, motordiefstal en die besit van vermoedelik gesteelde goedere verskyn.

Meer oor:  Gill Cremer  |  Meghan Cremer  |  Moord
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.