Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Ma sak inmekaar ná nuus van Parktown-seun se dood

Emosionele tonele het hul Vrydag afgespeel by ’n oriënteringskamp waar ’n gr. 8-leerling van die Parktown Boys’ High School in Johannesburg vermoedelik in ’n rivier verdrink het.

Enock Mpianzi (13) se ma, Anto, het op die grond inmekaargesak en bitterlik gehuil toe sy die bevestiging van haar seun se dood kry.

“My baba, my baba,” het sy oor en oor gesê terwyl ’n vriendin haar probeer vertroos het. Sy het enkele meters van die Krokodilrivier gesit waar haar seun se lyk by die Nyati Bos en Rivier Wegbreek, sowat 60 km van Brits in Noordwes, gevind is.

Haar seun wou eendag ’n prokureur word, het Anto gesê.

Hy het vermoedelik verdrink terwyl hy aan wateraktiwiteite deelgeneem het.

Enock is volgens die polisie Woensdag laas lewend by die rivier gesien.

Hy het baie na die kamp uitgesien, sê Sebastian Kodie Motha, Enock se oom.

My baba, my baba.
Anto Mpianzi, Enock se ma, word in kennis gestel dat haar seun se lyk in die Krokodilrivier gevind is. Foto: Felix Dlangamandla

“Sy pa het hom Dinsdag afgelaai by die skool en nog foto’s saam met hom geneem voor hy op die bus geklim het,” sê Motha.

Enock sou van Woensdag tot Vrydag saam met die res van die skool se gr. 8’s die kamp bywoon.

Volgens ’n verklaring van die skool het die kinders Woensdag aan ’n wateraktiwiteit deelgeneem en eers Donderdag besef Enock is weg.

“Mense by die kamp wou Donderdag by Enock se pa weet of hy wel by die kamp is. Hulle het aan hom verduidelik dat daar heelwat leerlinge is wat nie vir die kamp opgedaag het nie en wou seker maak of Enock wel die kamp bygewoon het,” sê Motha.

Intamba Ekila Guy, Enock se pa, het gesê hy is seker sy seun is by die kamp.

“Hulle (personeel by die kamp) het toe gesê hulle sal nog verder soek na hom,” sê Motha.

Omstreeks 16:00 Donderdag is Enock se familie na die kampterrein ontbied.

Enock was toe al meer as 24 uur lank vermis.

Sy familie het ná donker by die kampterrein aangekom en deur die nag saam met personeel aan ’n soekplan gewerk.

Vrydag het hulle vroegdag gehelp soek en al die plekke besoek waar Enock gesien is.

Die polisie se hulp is ook Donderdag ingeroep.

Enock Mpianzi
Anto Mpianzi word deur ’n vriendin ondersteun. Foto: Felix Dlangamandla

“Enock is Donderdag as vermis aangemeld en ’n reddingspan, bestaande uit die honde-eenheid en duikers, is gestuur om na hom te soek,” sê kol. Adele Myburgh, polisiewoordvoerder.

Donderdag se soektog was vrugteloos.

Die soektog is Vrydag hervat en Enock se lyk is omstreeks 09:45 in die rivier gevind.

Volgens Myburgh was dit ongeveer ’n kilometer van waar hy die laaste keer gesien is.

“Ons sal nou wag totdat die owerhede sy liggaam aan die familie terugbesorg (vir begrafnisreëlings) en intussen by die huis gaan rou,” sê Motha.

Ondersoek sal gedoen word

Lede van die polisie se duikspan help om Enock Mpianzi se lyk in ’n lykswa oor te laai. oor te laai.Foto: Felix Dlangamandla

Panyaza Lesufi, Gautengse LUR vir onderwys, het Vrydag aan joernaliste by die Parktown Boys’ High School gesê ’n onafhanklike ondersoek sal gedoen word na die omstandighede rondom Enock se dood.

Ongeveer 200 leerlinge het die kamp bygewoon.

Volgens Myburgh het Enock saam met sy maats aan ’n vlotboukompetisie deelgeneem. Dit blyk dat die stroom baie sterk was omdat die sluise oop was.

“Die vlot waarop die seun was, het omgeslaan. Dit is die laaste keer wat hy gesien is. Hulle het Donderdag die register geneem en besef die seun is weg,” sê Myburgh.

Die vlot waarop die seun was, het omgeslaan. Dit is die laaste keer wat hy gesien is.

Lesufi sê leerlinge moes ’n vlot bou om ’n beseerde pop oor die rivier te neem as deel van die aktiwiteit.

Niemand het toe besef hy is weg nie.

Dít was omdat sekere leerlinge nie die kamp bygewoon het nie en organiseerders gedink het Enock was een van húlle, sê Lesufi.

Hulle het egter sy bagasie gesien en besef hy is vermis.

Lesufi kon nie bevestig of die leerlinge reddingsbaadjies gedra het nie.

Die skool het in ’n verklaring bevestig dat die leerlinge ná die wateraktiwiteit aan ’n staptog deelgeneem het, aandete gehad het en toe in die veld oornag het.

“Laat Donderdagoggend het dit duidelik geword dat Enock vermis is en interne veiligheidsprosedures is geaktiveer om na hom te soek,” lui die verklaring.

Anton Knoetze, ’n bestuurder van Nyati Bos en Rivier Wegbreek, het Vrydag gesê die voorval was ’n ongeluk en dat niemand daarvoor blameer kan word nie.

Knoetze het onderneem om later ’n verklaring uit te reik. Talle oproepe na hom die res van die dag het egter onbeantwoord gebly. Sy verklaring sal bygewerk word sodra dit ontvang is.

Berading vir leerlinge en onderwysers

Polisie en reddingswerkers fynkam Vrydag die oewers van die Krokodilrivier waar Enock Mpianzi vermis geraak en sy lyk toe later gevind is.Foto: Felix Dlangamandla

Shaheda Omar, direkteur van kliniese hulpdienste van die Teddy Bear Clinic, het gesê op versoek van die onderwysdepartement sal berading aan leerlinge van die skool gegee word.

“Toe die seuns arriveer het ons beradingsdienste aangebied. Die leerlinge was hoopvol dat Mpianzi gevind sou word,” sê Omar.

Bekommerde ouers van die gr. 8-leerlinge het Vrydag hul seuns by die skool ingewag nadat die kamp gekanselleer is.

Die bus het kort ná 11:00 by die skool aangekom en trane van verligting was sigbaar in sommige ouers se oë. Ouers en kinders het na mekaar gehardloop.

Van die ouers was ontevrede omdat hulle in die media van die gebeure te hore gekom het en nie deur die skool in kennis gestel is nie.

“Ek het op die nuus oor die voorval te hore gekom. Ek sal my kind uit die skool haal as dit nodig is,” het Tebogo Mphela, ’n bekommerde ouer, gesê.

Die skool het in ’n verklaring hul medelye teenoor Enock se familie uitgespreek en bevestig dat alles moontlik gedoen word om hulle en medeleerlinge by te staan.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.