Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Ma se dood in stormloop by kerk laat baie vrae
Profeet Shepherd Bushiri (met die gestreepte das) en sy vrou, Mary, Maandag ná die sitting van die kommissie in Johannesburg.Foto’s: Reneilwe Dhludhlu

Die diens moes nie voortgegaan het nadat drie vroue in ’n stormloop by die omstrede profeet Shepherd Bushiri se kerk dood is nie.

So het Thoko Mkhwanazi-Xaluva, voorsitter van die Kommissie vir die Bevordering en Beskerming van Kultuur-, Godsdiens- en Taalgemeenskappe (CRL), Maandag in ’n sitting in Braamfontein, Johannesburg, gesê.

Dit kom nadat Nondumiso Patricia Pringane (59), Matshila Sarah Mohlala (69) en Lehlogaholo Maria Segodi (60) op 28 Desember in ’n stormloop by die Enlightened Christian Gathering-kerk (ECG) op die Tshwane-skouterrein dood is. Nog 17 mense is beseer.

Die kerkgangers buite het glo na die kerkgebou gestorm toe ’n onverwagse donderstorm uitgebreek het.

Die diens is ná die voorval hervat.

Deborah Mohlala wou voor die sitting weet hoe die diens kon voortgaan nadat haar ma op hierdie wyse dood is.

Volgens haar het die stormloop tussen 16:00 en 17:00 plaasgevind. Die kerkdiens het om 20:00 begin.

Bushiri het vroeër getuig dat hy eers teen die einde van die diens bewus geraak het van dit wat gebeur het.

Hy sê hy sluit hom gewoonlik eers om 22:00 by die diens aan en hy was nie ten tyde van die stormloop by die kerk nie. Hy is glo net oor die beserings ingelig en het nie van die sterftes geweet nie.

“My ma was baie lief vir daardie kerk. Niemand het haar gedwing om daarheen te gaan nie. Maar die manier waarop sy dood is, het ons met baie vrae gelaat,” het Mohlala getuig.

Sy wou weet of haar ma net haar bewussyn verloor het en of sy regtig dood was. “Wie het haar dood verklaar?”

Die lyke is glo sonder die polisie se wete verwyder en na ’n private lykshuis geneem.

Mohlala sê sy het eers ’n dag ná die voorval van die stormloop by die kerk gehoor.

“Ek het gesukkel om haar te kry. En toe ek haar uiteindelik Maandag kry, het haar lyk al sleg geruik.

“Niemand het na ons huis toe gekom om hul meegevoel te betuig nie. Hulle het nie met ons kom praat nie.”

Wat het met my ma gebeur? Ons kan nie aanvaar dat sy in die stormloop dood is nie.

Sy sê haar ma se handsak was baie skoon toe hulle dit by die kerk gekry het. Sy meen iemand wat in ’n stormloop betrokke was, sê handsak sou nie so skoon gewees het nie.

“Wat het met my ma gebeur? Ons kan nie aanvaar dat sy in die stormloop dood is nie.”

Mohlala sê sy gaan nie meer met die kerk baklei nie nadat sy so baie met hulle baklei het om haar ma se lyk te kry.

Sy meen die kerk het haar baie sleg behandel.

Daar is in die sitting voorgestel dat die kerk ’n roudiens vir die oorledenes moet hou.

Die South African National Civic Organisation (Sanco) eis dat die families van die oorledenes vergoed word en dat dit nie minder as R1 miljoen per familie moet wees nie. Abraham Mashishi, voorsitter van Sanco in Pretoria, sê die aanbevelings soos in die Life Esidimeni-verhoor moet gevolg word.

Die optrede van die kerk ná die stormloop moet ondersoek word. “As hulle (die kerk) hul plig nagekom het, sou ons nie vandag hier gesit het nie,” sê Mashishi.

Solly Msimanga, burgemeester van die Tshwane-metro, sal Dinsdag voor die kommissie verskyn.

Meer oor:  Shepherd Bushiri  |  Stormloop  |  Dood  |  Kerk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.