Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Ma sterf ná sy dogter uit pad van aankomende motor ruk

’n Ma van Middelburg in Mpumalanga het haar tienerdogter rakelings uit die pad van ’n voortvlugtige en vermoedelik dronk motoris gepluk en is toe self getref en aan haar beserings dood.

Lizel (38) en Ceriza Visagie (15) het voorverlede Saterdag geloop om vir Lizel se ma, Marie Hamman (65), medisyne te koop.

Ceriza Visagie (15) en haar ouma Marie Hamman (65) is steeds in skok. Ceriza se ma, Lizel Visagie (38), het haar uit die pad van ’n aankomende voertuig geruk en is self getref. Sy is in die hospitaal dood. Foto: Deon Raath

“Die verkeerslig op die hoek van Cowen Ntuli en Lilian Ngoyi was groen vir voetgangers, toe begin ons loop. Ons het ewe skielik sirenes gehoor en vinniger geloop. Toe is die swart BMW en die polisiekar skielik op ons,” sê Ceriza.

Sy het nie gevoel hoe haar ma haar uit die pad ruk nie.

“Alles het net te vinnig gebeur. Ander mense wat alles gesien het, het my later daar op die sypaadjie vertel.”

In hul huis sit sy met haar swaar verbinde linkerbeen voor haar uitgestrek – kalm, sterk, maar bowenal verslae.

“Die kar het my skrams getref, maar my ma baie hard. Ek het dadelik geweet iets leliks het gebeur.”

Ambulanspersoneel het die Visagies op die toneel probeer stabiliseer en later eers met die ma en toe die dogter hospitaal toe gejaag.

“Hulle wou my ma met ’n helikopter na ’n groter hospitaal toe vlieg, maar op die ou einde was hulle nie betyds nie.”

Sy skud haar kop. Die seer lê vlak in haar ligblou oë.

Lizel Visagie (38)

“Daar was só baie bloed op die vloer. Niemand kon dit oorleef nie.”

Ceriza kan nou nie meer vanjaar aan die Kroasië-afdeling van die Dans Star-internasionale danskompetisie deelneem nie.

“My ligamente in my enkel is geskeur. Ek sal weer kan dans, maar ek trek volgende week na my pa in Nieu-Seeland.”

Soos die lewenslustige 15-jarige van ouds soek sy op haar selfoon die dorpie suid van Auckland waar haar pa bly.

“Pukekohe! Dis die dorp se naam. Dit klink soos ’n vloekwoord!” sê sy met ’n effense laggie.

Ouma Marie is gebroke.

“Lizeltjie het gesê: ‘Ons stap nou, Mammie, ons vat nie ons fone saam nie.’ Toe sê ek vir haar: ‘Dis goed, my pop.’ Min het ek geweet.”

Omstanders het haar gebel en sy het haar na die kruising gehaas.

“Toe ek daar kom, was hulle klaar weg. Ek is toe hospitaal toe. By die hospitaal het hulle gesê ek moet by ’n kamer ingaan. Daar was niemand in die kamer nie, toe sê die mense ek moet op die bed sit en toe weet ek.”

’n Gedempte snik breek deur.

“Hulle sê dit word met tyd beter, maar dis nie waar nie. My man is nege jaar gelede weg en die gemis word net erger.”

Brig. Leonard Hlathi, polisiewoordvoerder in Mpumalanga, het die voorval bevestig, maar het nie teen druktyd op Rapport se versoek om meer inligting gereageer nie.

Meer oor:  Mpumalanga  |  Middelburg  |  Pad  |  Voertuig  |  Beserings  |  Ma  |  Dood  |  Dogter  |  Sterf  |  Red
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.